Vrystaat Jongooiklub draai die skaapwêreld op sy kop

jongooiklub-feature
Die Vrystaat Jongooiklub bestaan uit ‘n groep van vyftien jong dinamiese boere, wie se liefde vir skaapboerdery ‘n gesamentlike doel het om jaarliks unieke bestuurstyle van elke betrokke boer op die proef te stel. Die klub is enig in sy soort op die Vrystaatse vlaktes.
Daar word slegs een boer uit die groep benoem om vir ‘n jaar lank verantwoordelikheid te neem van ongeveer 150 twee-tand ooie. Geen riglyne en aanwysings word gekoppel aan die bestuurstyl van die verkose boer op wie se plaas hierdie studie plaasvind nie. Daar word egter staat gemaak op hulle eie inisiatief, wat toegepas word in hulle eie boerderye ook.
Op die ou end bied dit dan ‘n verskeidenheid idees en die boere leer bymekaar oor vele vindingryke planne om hulle boerderye aan te pas en te verbeter. Theron Swanepoel, Eduard Prinsloo en Dirco Bezuidenhout het die Jongooiklub gestig om samewerking en vooruitgang onder die skaapboere in die gemeenskap te bevorder.
Aan die stuur van die 2023-proewe was Rudi van Zyl, van die plaas Sandfontein, in die Trompsberg-omgewing. Na die jaar word die kudde ge-evalueer in terme van groei, wolwaarde en reproduksie.

Rudi van Zyl met sy kleinding by vanjaar se kudde.
Rudi het hom goed van sy taak gekwyt en selfs so ver gegaan om van die RFID-stelsel gebruik te maak vir akurate statistieke.
Wie nie waag nie, wen nie
Die ramme wat op vanjaar se proewe gebruik is vir paring, is van uitstaande gehalte. Piet Louw van Link Merinos in die Jagersfontein-gebied, het drie van hulle top ramme onder die 150 ooie laat verdeel. Die 96% besetting, getoets in Junie 2023, spreek boekdele van die gehalte van die diere en die insiminasie.
Na al die harde werk is daar een uiters belangrike tradisie onder dié skaapboere. Daar word jaarliks ‘n groot opskop by die Smithfield Gholfklub gehou om die resultate, suksesse, sowel as die verbeterings te vier. Dit het een van die hoogtepunt van die jaar geword vir alle belanghebbendes om terug te sit en die soet vrugte van hulle harde werk deur die jaar ten volle te geniet.
Om die uniekheid van hierdie groep boere uit te beeld, is daar besluit om vanjaar se afsluiting op ‘n GROTER wyse te benader. Die dag word as ‘n landbouskou aangebied, met talle stalletjies, skaapskeerkompetisies, lekker kos, gesellige mense en ‘n verrassing of twee in die wol.