Vrotpoot: Bestuur is die beste bestryding

vrotpoot
In hierdie uitgawe bespreek Johan Hoewe vrotpootjie by beeste.
Vrotpootjie by beeste word veroorsaak deur die bakterium Fusobacterium necrophorum, maar daar kan ook ander bakterieë betrokke wees. Hierdie bakterium kom veral in kraalmis en nat, modderige grond voor. Dit is ’n anaerobiese bakterie en kan vir maande in die kraal wees diep onder die mis waar geen sonlig en suurstof is nie. Dit is dieselfde bakterie wat seerkeel by mense veroorsaak.
Die toestand word bevorder deur nattigheid, veral tydens die reënseisoen. Sodra ’n bees met ’n seerplek aan sy poot diep in die besmette modder/mis trap, word die dier besmet.
Die eerste tekens van vrotpootjie is:
- ’n Rooi swelling of ontsteking tussen die kloue
- Die dier sal gewoonlik kruppel loop met die besmette klou
- Die besmette klou sal warm wees
- Die klou sal ’n reuk hê
- Vloeistof sal uit klou dreineer
- Die kloue sal oopgesper wees as gevolg van die swelling
Die poot moet onmiddellik met seepwater gewas en goed drooggemaak word. Smeer antibiotikasalf aan en verbind die poot, maar net vir ’n dag of twee. Verwyder dan die verband. Die besmette dier moet ook sistemies met penicillin G, oksitetrasiklien, sulfadiasien/trimetroprim of sulfadimetoksien en Tylosin ingespuit word.
Die beste raad vir alle kwale bly natuurlik voorsorg. Daarom beveel ek gewoonlik by kliënte aan om hulle krale meer gereeld te skraap en ’n voetbad met 5% kopersulfaat of formalien aan te bring.
Ervaring het my geleer dat baie beeste met vrotpoot ook lang kloue het. As gevolg van die lang tone sal die dier se hakke meeste van die tyd in die mis wees en baie makliker besmet word. As kloue wat te lank na vore uitgroei reggesnoei word, kan dit dus ’n bietjie help om die voorkoms van vrotpootjie te verminder.
Verder het ek ook gesien dat diere met toe kloue makliker vrotpoot ontwikkel omdat die mis nie tussen die kloue uitpeul nie, maar vir ’n lang tydperk in die gleuf tussen die kloue vassit en dus meer kans het om die klou te besmet. ’n Dier met oop kloue kry daarteenoor bykans geen vrotpoot nie omdat die nat mis met elke tree bo uitpeul. Ek het dit veral opgemerk by voerkrale en melkerye. Ook hierdie probleem kan in ’n redelike mate met regstellende hoefsnoei opgelos word.
Die beste raad aan beesboere bly egter steeds skoon krale en voetbaddens.
Vir meer inligting kontak my per e-pos by info@johanhoewe.co.za, 082-568-5034 of besoek www.johanhoewe.co.za. Sluit gerus ook by my aan op facebook.