Voorlopige oppervlakteskatting vir somergewasse (2022 produksieseisoen)

Maize
Somergewasse – 2022
Die voorlopige oppervlakteskatting is hoofsaaklik gebaseer op die resultate van ’n nie-ewekansige opname onderneem deur die Direktoraat: Statistiek en Ekonomiese Analise van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling.
Neem asseblief kennis dat die oppervlakte aangeplant met gewasse na die area verwys wat alreeds vir alle doeleindes geplant is, insluitende vir graan, kuilvoer en gewas beskadigde area(s).
Die Oesskattingskomitee neem ook kennis van die laat aanplantings in sommige streke, asook oeste wat beskadig is weens die onlangse oormatige reën. Die situasie sal deur die seisoen gemonitor word, daarom wil die Komitee alle produsente en bedryfsrolspelers bedank wat gereeld inligting aan die Komitee verskaf om die akkuraatheid van oesskattings te verbeter.
Kommersiële mielies: Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,610 milj. ha, wat 5,29% of 145 700 ha minder is as die 2,755 milj. ha wat verlede seisoen aangeplant is, en ook 4,24% of 115 500 ha minder as die voornemens om te plant syfer van 2,725 milj. ha soos vrygestel in Oktober 2021.
Die voorlopige oppervlak onder witmielies is 1,576 milj. ha, wat ’n afname van 6,87% of 116 200 ha verteenwoordig vergeleke met die 1,692 milj. ha die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1,034 milj. ha, wat 2,77% of 29 500 ha minder is as die 1,064 milj. ha geplant die vorige seisoen.
Ander somergewasse:
Let asb. daarop dat net die nasionale aangeplante area vir die voorlopige oppervlakte van die grondbone, sorghum en droëbone vir die huidige produksieseisoen vandag vrygestel word.
Sonneblomsaad: Die voorlopige oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 580 000 ha, wat 21,39% of 102 200 ha meer is as die 477 800 ha aangeplant die vorige seisoen.
Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 910 000 ha, wat ’n toename van 10,02% of 82 900 ha verteenwoordig vergeleke met die 827 100 ha geplant die vorige seisoen. Dit is die hoogste oppervlakte beplant met sojabone in die geskiedenis van SA. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 34 000 ha, wat 11,80% of 4 550 ha minder is as die 38 550 ha geplant vir die vorige seisoen.
Die oppervlakteskatting vir sorghum het afgeneem met 28,86% of 14 200 ha, van 49 200 ha tot 35 000 ha teenoor die vorige seisoen. Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 42 450 ha, wat 10,42% of 4 940 ha minder is as die 47 390 ha geplant vir die vorige seisoen.
Die hersiene aangeplante oppervlakte en produksiesyfers sal deur die Oesskattingskomitee op 28 Februarie 2022 vrygestel word en sal hoofsaaklik gebaseer wees op inligting verkry vanaf die “PICES”-opname vir die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Noordwes provinsies.
Wintergewasse – 2021 produksieseisoen
Koring: Die verwagte produksie vir koring is 2,209 milj. ton, wat 2,59% of 55 820 ton meer is as die vorige skatting van 2,153 milj. ton, terwyl die verwagte opbrengs 4,22 t/ha is. Dit is die grootste verwagte koringoes sedert 2002, toe dit 2,427 milj. ton was. Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 1,224 milj. ton (55%), in die Vrystaat 346 500 ton (16%) en in die Noord-Kaap 266 250 ton (12%).
Ander gewasse:
Die produksieskatting vir moutgars is 331 100 ton, wat 8 700 ton of 2,56% minder is as die vorige skatting van 339 800 ton. Die oppervlakte beplant word beraam op 94 730 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,50 t/ha beloop.
Die verwagte kanola-oes is verhoog met 7 000 ton of 3,68% van 190 000 ton na 197 000 ton. Dit is die grootste kanola-oes wat nόg geproduseer is in die geskiedenis van SA. Die oppervlakteskatting vir kanola is 100 000 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 1,97 t/ha.
Die verwagte oes vir hawer (ontbytgraan) vir die 2021-seisoen is 69 950 ton en die oppervlakteskatting is 36 250 ton. Die verwagte opbrengs is 1,93 t/ha.
In die geval van soetlupine is die produksieskatting effens verlaag met 3,70% of 1 100 ton, van 29 700 ton na 28 600 ton. Die oppervlakte beplant met soetlupine is 22 000 ha, en die verwagte opbrengs is 1,30 t/ha.
Die finale produksieskatting vir wintergewasse vir 2021 sal op 28 Februarie 2022 vrygestel word.
Bron: Oesskattingskomitee