Categories: NuusPublished On: 15th April 2026

Voëlgriep: Pluimveebedryf op hete kole

By 7 min read
1338 words

pluimvee 1

Agterplaashoenders hoef nie teen voëlgriep ingeënt te word nie, maar eienaars moet biosekerheidsmaatreëls toepas om hulle hoenders teen die virus te beskerm. (Bron: Ben Moreland, Unsplash.com)

Suid-Afrika se pluimveebedryf is tans by ‘n kruispad. Ten spyte van sterk groei wat die land se pluimveebedryf as een van die sterkstes ter wêreld gemaak het, is daar uitdagings rakende die toenemende risiko van voëlgriep, asook onsekerheid oor die uitvoere te midde van die oorlog in die Midde-Ooste.

Ten spyte van die skittervertoning staar die bedryf steeds die risiko van voëlgriep, oftewel hoog-patogene avian influenza (HPAI) in die gesig. Daar is vrese dat die  verwoestende uitbreking van 2023, wat tot verliese van meer as R10 miljard  gelei het, kan herhaal.

Die naderende winterseisoen, wat tradisioneel met ‘n hoër risiko van voëlgriep vereenselwig word, hou opnuut ‘n bedreiging in, veral in die lig van die uitbrekings wat Europa getref het. Vertragings in die uitrol van inentingsprogramme, wat al in Junie verlede jaar sou begin, het die bedryf op hete kole.

Inenting word algemeen beskou as die doeltreffendste manier om nog ’n katastrofiese uitbreking te voorkom. Om doeltreffende beskerming te bied, moet ‘n kritieke massa voëls immuniseer word ten einde die viruslading in die omgewing te verminder. Sonder inenting kan die virus aanhou om nuwe stamme te ontwikkel en te versprei.

Braaikuiken-teelouers en kommersiële lêhenne moet ingeënt word. (Bron: Egor Myznik, Unsplash.com)

Massa-inenting

Volgens Izaak Breitenbach, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV)  het die regering besluit massa enting moet gebeur en landbouminister John Steenhuisen het dit in Junie 2025 aangekondig.

“Omdat voëlgriep ‘n beheerde siekte is moet ons produsente aan sekere vereistes ten opsigte van biosekuriteit voldoen,” sê Izaak. “As en wanneer ons ent, moet ons ook moniteer om te bewys dat ons nie die siekte het nie. Onthou, as ons ent, vrek die hoenders nie meer weens die siekte nie, maar kan dit steeds kry.”

Volgens Izaak word die 2023-protokol toegepas, maar die protokolle is so omvattend dat bykans geen boer daaraan kan voldoen nie. “Net tien plase kon kwalifiseer om in te ent en net een plaas het daadwerklik ingeënt. Vir ‘n entingsveldtog om te werk moet die meerderheid van die hoenders geënt word.

“Ons het die saak na ‘n Seksie 23-komitee geëskaleer wat na ons kant en die kant van die Direkteur: Dieregesondheid luister. Die komitee sal tussen die partye medieer en ‘n nuwe protokol vir implementering voorstel.

Volgens Izaak is dit nie nodig om al die hoenders in die land in te ent nie. “Ek het geen idee hoeveel hoenderplase daar is nie. Ons ent net langslewende hoenders soos braaikuiken-teelouers en kommersiële lêhenne landwyd. Ons ent nie braaikuikens nie en daarom is kleinboere minder geraak. Agterplaashoenders hoef ook nie geënt te word nie – solank ons net die meerderheid hoenders ent.”

Vertragings

Die vertragings word grootliks toegeskryf aan die regering se streng voorgeskrewe protokolle, wat volgens rolspelers in die bedryf onprakties is.  Die huidige regulasies vereis dat veeartse of para-veeartse alle monsters moet neem, eerder as om opgeleide plaaswerkers toe te laat om dit onder toesig te doen.

Hierdie vereiste skep logistieke knelpunte en kan selfs die risiko van siekteverspreiding verhoog omdat veeartse tussen plase beweeg. Net so is nuwe reëls wat vereis dat geënte voëls deur abattoirs verwerk moet word eerder as om lewendig verkoop te word, gekritiseer as onnodig en omslagtig.

Bedryfsverteenwoordigers voer aan dat hierdie regulasies, hoewel goed bedoel, die uitrol van inentingsprogramme belemmer.  Alternatiewe protokolle gebaseer op Europese standaarde is aan die regering voorgelê en word tans deur die komitee ondersoek.

Genoeg entstof

Genoeg entstowwe is beskikbaar. Suid-Afrika het reeds drie H5-entstowwe registreer, met ’n H7-entstof in ontwikkeling, en daar is voldoende voorraad om ’n massa-inentingsprogram te ondersteun.

Die regering het hom ook verbind tot ’n gestruktureerde, wetenskaplik-gebaseerde strategie wat op vier kernpilare berus, naamlik beheerde gebruik van entstowwe, verbeterde biosekerheid, naspeurbaarheid van geënte eenhede, en deurlopende monitering. Hierdie raamwerk poog om die voordele van inenting te balanseer met die behoefte om uitvoerintegriteit te handhaaf en onbedoelde gevolge, soos virusmutasie, te voorkom.

Al begin inenting onverwyld, sal dit tot 12 maande kan neem om kritieke beskermingsvlakke regoor die bedryf te bereik. Dit beteken dat produsente op kort termyn steeds kwesbaar bly vir uitbrekings. Die dringendheid word verder beklemtoon deur die globale konteks, met talle voëlgriep-uitbrekings wat in Europa aangemeld is, wat die waarskynlikheid van die oorspoel na Suid-Afrika gedurende die wintermaande verhoog.

Kleiner produsente

Die risiko’s is veral groot vir kleiner produsente wat nie die verliese kan absorbeer nie. Anders as met bek-en-klouseer, word die koste van inenting  van pluimvee nie deur die regering gedra nie. Boere ontvang ook nie kompensasie vir die uitslag van besmette hoenders nie. Vir kleinskaalse boere kan ’n uitbreking dus beteken dat hulle hele trop verlore gaan en hulle sal nie noodwendig die fondse hé om weer te begin produseer nie.

Die oorlog in die Midde-Ooste wat rondom die sluiting van die Straat van Hormoes woed, kan die uitvoer van 50 000 ton gaar hoender  wat jaarliks na die Verenigde Arabiese Emirate uitgevoer word, onderbreek.

Hierdie onsekerheid oor uitvoere kom op ’n tydstip wanneer die pluimveesektor noemenswaardige groei ervaar het. Oor die afgelope dekade het produksie met 11,8% toegeneem, wat die groei in verbruik van 8,8% oortref.

Hoewel vraag gegroei het, het dit die afgelope jare ietwat afgeneem, wat moontlik toegeskryf kan word op ekonomiese druk op huishoudelike besteding. ‘n Toename sal waarskynlik eerder deur bevolkingsgroei as deur verhoogde beskikbare inkomste gedryf word.

Ten spyte van hierdie beperkings bly Suid-Afrika een van die wêreld se voorste en mededingendste pluimveeprodusente ter wêreld naas Nederland, Duitsland, Brasilië, Pole en die Verenigde State.

Hierdie mededingendheid word gemeet aan verskeie faktore, insluitend tegniese doeltreffendheid, voerkoste en totale produksiekoste. Die bedryf se vermoë om konstant te presteer is indrukwekkend, veral in die lig van langdurige droogtes, beurtkrag, en voëlgriep.

Pluimvee-meesterplan

’n Belangrike dryfveer agter hierdie veerkragtigheid was die Pluimvee-Meesterplan wat in 2019 bekendgestel is as ’n samewerkingsinisiatief tussen die regering en bedryfsrolspelers.

Destyds het die sektor gesukkel om met goedkoop invoere mee te ding, maar die meesterplan het gehelp om plaaslike produksie te stabiliseer en te versterk. Sedertdien het die bedryf se omset aansienlik gegroei, van ongeveer R65 miljard in 2019 tot sowat R74 miljard in 2025.

Pluimvee is nou die grootste bydraer tot die bruto produksiewaarde in Suid-Afrika se landbousektor, met meer as R6 8 miljard se inkomste in 2024 alleen.

Produksievlakke het rekordhoogtes bereik met weeklikse slaggetalle wat van 19,7 miljoen voëls in 2019 tot ongeveer 23 miljoen tans gestyg het. Daarbenewens verbruik pluimveeproduksie byna die helfte van alle dierevoer wat in die land produseer word, wat die sentrale rol daarvan in die landbou-ekonomie beklemtoon.

Die sektor speel ook ’n deurslaggewende rol in werkskepping en voedselsekerheid. Dit verskaf direk werk aan ongeveer 56 000 mense, terwyl na raming sowat 110 000 poste in die breër waardeketting daarvan afhanklik is.

Daar is genoeg entstof beskikbaar om die inentingsprogram uit te rol. (Bron: Mufid Majnun, Unsplash.com)

Nuwe markte

Die bedryf bly egter positief en nuwe markte in die Midde-Ooste, Europa en die Verenigde Koninkryk word ondersoek. Maar voordat tot nuwe markte toegetree kan word, moet daar eers aan streng gesondheid- en veiligheidstandaarde voldoen word.

Deur wetenskaplike innovasie met praktiese implementering te belyn en noue samewerking tussen regering en die bedryf te handhaaf, posisioneer Suid-Afrika hom om een van sy belangrikste landbousektore te beskerm.

Die komende maande sal deurslaggewend wees. Sukses sal afhang van die tydige uitrol van inentings, die vermoë om uitvoerrisiko’s te bestuur en volgehoue pogings om beide plaaslike en internasionale markte te versterk.

Indien hierdie uitdagings doeltreffend hanteer word, sal die pluimveebedryf nie net huidige druk kan weerstaan nie, maar sterker, meer veerkragtig en beter voorbereid vir toekomstige onsekerhede wees.

Bronverwysings

Calls for global bird flu vaccination drive FairPlay (2026)

https://fairplaymovement.org/calls-for-global-bird-flu-vaccination-drive/

Government confirms start of HPAI vaccination strategy at Avi Africa 2025

https://www.sapoultry.co.za/wp-content/uploads/2025/06/006-MEDIA-STATEMENT-GOVERNMENT-CONFIRMS-START-OF-HPAI-VACCINATION-STRATEGY-AT-AVI-AFRICA-2025.pdf

South Africa plans local market for poultry meant for UAE exports (2026)

https://poultrynews.africa/2026/03/08/south-africa-plans-local-market-for-poultry-meant-for-uae-exportssouth-africa-plans-local-market-for-poultry-meant-for-uae-exports/

Tembo, P. (2026) Poultry industry on edge as winter bird flu threat looms Food for Mzansi

https://www.foodformzansi.co.za/poultry-industry-on-edge-as-winter-bird-flu-threat-looms/?shem=dsdf,sharefoc,agadiscoversdl,,sh/x/discover/m1/4

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0