Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 10th August 2022

Vertel jou storie: Vroue in die landboubedryf

By 3 min read
616 words

Screenshot_20220324-084131-1

Die gesonde, grasgroen spinasie in Tshegofatso Malebye se tuin.

Ons lewe in ՚n vinnig-veranderende wêreld en die rol van die vrou moet toenemend daarby aanpas. Met dié dat Vrouemaand in Augustus gevier word, val die kollig opnuut op die plek van die vrou in die samelewing.

Ook in die landbousektor is daar ՚n besef dat vroue ՚n rol te speel het en dat daar formidabele vroue is wat reeds hulle merk gemaak het.

Tshegofatso Malebye toe sy as junior produsent gewerk het.

Tshegofatso Malebye, 28-jarige dame van Mabopane, Pretoria, deel graag haar storie met die lesers van ProAgri:

“My liefde vir die landboubedryf het begin terwyl ek as junior produsent vir ՚n tonnelboerdery (hidroponiese boerdery) gewerk het. Kort daarna het ek my werk verloor as gevolg van die Covid-19-pandemie, alhoewel dit my nie gekeer het om my drome en liefde vir die natuur steeds na te jaag nie. Ek het ek in my agtertuin ՚n groenteplaas begin waar ek spinasie begin plant het. As gevolg van die beperkte spasie wat ek gehad het, was die alternatief ՚n kruietuin en die vasvang van insekte in die tuin. My grootste dryf na sukses is die liefde wat ek vir die landboubedryf het. Ek probeer elke dag om nuwe uitdagings aan te pak. Om vroueboere in die bedryf te sien floreer maak my trots en opgewonde vir die toekoms. Ek streef daarna om ՚n verskil te maak en om hongerte in ons land te bekamp. My toekomsvisie is om binne die volgende vyf tot tien jaar my eie plaas of stuk grond te hê waar ek ՚n hidroponiese en akwaponiese boerdery wil bedryf en ook veevoere wil produseer. Ek wil ook graag ander vroue bemagtig om hulle meer te leer van die bedryf. My boodskap aan ander vroue is om nooit op te gee nie. Al verg dit harde werk met baie uitdagings, met toewyding, geduld en ՚n passie vir wat jy doen, sal jy daar uitkom. Onthou dat harde werk nie net vir mans is nie; as jy nie bereid is om jou hande te gebruik nie, sal jy honger gaan slaap. Kom ons staan saam, bekamp hongersnood en voer die nasie!”

Hanlie Carstens, die dryfkrag agter ’n suksesvolle onderneming

Hanlie Carstens, administratiewe bestuurder van Prima Engineering.

Hanlie Carstens, administratiewe bestuurder van Prima Engineering, is beslis die ruggraat van die onderneming. Hanlie hanteer alles van oproepe en bestellings tot rekeninge en voorraad.

“Sy is nie ’n vrou wat agteroor sit en kyk hoe haar werknemers werk nie. Sy is nie bang om haar hande vuil te maak nie. Sy draai silinders toe vir uitstuur, sy tel voorraad, sy help produkte aanmekaar sit en skoonmaak indien nodig,” vertel ՚n kollega en administratiewe assistent, RobynLee Harris van Prima Engineering. Daar waar daar werk is om gedoen te word, daar sal jy vir Hanlie vind. Hanlie beman nie net die kantoor voltyds nie, maar boonop is sy ’n ondersteunende ma vir haar twee kinders, ’n liefdevolle ouma vir haar twee kleinkinders asook ’n fantastiese vrou vir haar man.

Robyn-Lee brei verder uit: “Daar is niks wat oor haar pad kom wat haar sal onderkry nie. Sy dink dinge goed deur, en voor jy weet het sy vir jou die oplossing vir enige probleem. Hanlie is gek oor kosmaak en haar huishouding. Sy kan ure lank staan en voorberei aan kos wat jou laat lippe aflek, sy sing ook graag soos sy deur haar daaglikse take beweeg en is dit gereeld ’n plesier om die melodie te hoor.

“Laaste, maar nie die minste nie, het Hanlie ’n hart van goud! Haar oor is altyd gereed om te luister, haar hande reg om te help, haar arms oop vir vertroosting en haar hart gereed met eindelose liefde,” sluit Robyn-Lee af.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0