Categories: ArtikelsPublished On: 7th June 2023

‘Vergete streek’ kry hulp vanmede-boere

By 8 min read
1561 words

Matzikama 10

Tussen die dorpies in die Hardeveld is daar 'net die dorre aarde', sê Kallie Nel.

deur Tisha Steyn

՚n Erge droogte teister reeds die afgelope tien jaar die Matzikama-distrik van die Wes-Kaap. Niemand verstaan ՚n boer se probleme beter as ՚n ander boer nie en daarom het boere van regoor die land onlangs opnuut na boere in die dorre streek uitgereik met skenkings van voer, saad en selfs diesel.

Agri SA, in samewerking met Agri Wes-Kaap, Agri Limpopo, Santam Verse-kering, die dierekosvervaardiger ADM en private instansies, het ruim bygedra om die boere by te staan.

Die Matzikama-distrik is in die noordwestelike gebied van die Wes-Kaap geleë, waar dit aan die Noord-Kaap grens. Die Matzikama plaaslike munisipaliteit beslaan ՚n gebied van 12 981 km² wat bykans die helfte van die Weskus-distriksmunisipaliteit se geografiese gebied uitmaak. Die distrik sluit agttien dorpe in, naamlik Bitterfontein, Doringbaai, Ebenhaezer, Klawer, Kliprand, Koekenaap, Lutzville, Molsvlei, Nuwerus, Putsekloof, Rietpoort, Stofkraal, Strandfontein, Vanrhynsdorp en Vredendal, wat die grootste is en waar die plaaslike munisipaliteit gesetel is.

Die streek word gevoed deur die Olifantsrivier en verwante besproeiingskanale. Die Clanwilliamdam, waarvan die wal tans met 13 m verhoog word, sal ՚n bykmende 70-miljoen kubieke meter water per jaar aan die boere in die streek lewer wanneer die werk eendag voltooi is.

Namakwaland

Kallie Nel se boerderybedrywighede strek oor ՚n groot gebied tussen die Olifantsrivier en die Oranjerivier en sluit grond in die Hardeveld en Boesmanland in.

Hy boer by Nuwerus in die Harde-veld, wat ander dorpies soos Bitterfontein, Kotzesrus en Landplaas in die Matzikama munisipale gebied insluit. Hy boer ook naby Pofadder in Boesmanland, wat ook die dorpies Aggenys, Kenhardt en Brandvlei insluit. “Tussen die dorpies is daar veel nie, net dorre aarde …”

Volgens hom is die gemiddelde reënval in Namakwaland tussen 125 mm en 150 mm per jaar. “Daar was nog altyd droë jare in Namakwaland, maar dit is opvallend dat die weerpatroon veral in die afgelope agt jaar baie verander het. Die reën kom later in die jaar, die neerslag is minder op keer, en die tye tussen die reën is langer uitmekaar.”

Dit lei daartoe dat die natuurlike plantegroei wat die vee as weiding kan benut doodgaan, want 5 mm reën is te min om die plantwortels te bereik. Die bossies kom op, maar weens gebrek aan tydige opvolgreën verdor dit maar net weer. “Die gevolge is skrikwekkend,” sê Kallie. “Na raming is 50% van die bosse in Namakwaland dood.” Boonop waai sterk winde die dooie bosse uit die grond en sonder die noodsaaklike plantbedekking waai die bogrond weg.

“Die laaste agt jaar het alles uit die boerdery getap,” sê Kallie. “Boere moet voer koop om hulle diere aan die lewe te hou, maar die voer is baie duur en soms van swak gehalte.”

Boere in Namakwaland en Boesmanland trek noustrop weens ‘n droogte wat al tien jaar duur.

Tien jaar droogte

In die Hardeveld het hy ՚n gemengde boerdery wat hoofsaaklik uit vee bestaan, maar daar word ook graan gesaai om somerweiding vir die vee te skep. Aangeplante weiding is noodsaaklik omdat natuurlike plantegroei wat tydens die winterreëns opkom, hulle blare verloor, of die blare raak bitter of te sout om die plant se voortbestaan te verseker.

Die droogte duur al die afgelope tien jaar. “Ons glo vas daar is ՚n siklus van sewe jaar waartydens sommige jare droër is, maar daar is ook uitskietjare met meer reën.

“Van 2006 tot 2013 het ons ՚n goeie tydperk met reën en seën in die boer-dery gehad. Voor 2006 was daar ook droogtes, maar sedert 2014 het dit al minder begin reën. In 2021 het ons ՚n baie goeie gemiddelde jaar met bykans 180 mm reën in die Hardeveld gehad, maar 2022 was ՚n baie swak jaar en slegs 78 mm het geval.”

Dit veroorsaak dat die somer baie lank raak en dat die vee se kondisie nie kans kry om voldoende te herstel vir suksesvolle paring nie. “Ons sit in ՚n moeilike situasie: Ons hoop die winter bring in Junie reën. Indien nie, gaan ons ՚n groot probleem hê, want die aanteelooie verloor hulle lammers om hulleself te beskerm.”

Die antwoord op die vraag oor hoe die boere oorleef is “nie ՚n maklike een nie”, sê Kallie. “Boere maak baie goeie planne om te oorleef. Eerstens gaan soek hulle elders weiding, en hulle verminder hulle vee – ՚n droogte doen dit outomaties!”

Volgens Kallie sê hulle in Namakwaland as dit droog is: “Die winkel is toe.” Dit beteken boere probeer net die boer-dery en veral die heinings in stand hou. “Daar is nie geld vir verbeterings aanbring of ՚n bakkie vervang nie. Jy hou net jou gesin en jou boerdery aan die gang.”

Boere probeer net hulle kernkuddes aan die gang hou in ‘n desperate poging om te oorleef.

Skenkings gee moed

Die Wes-Kaapse regering help en maak groot bydraes met voer. “Maar al waardeer ons dit, is dit nooit genoeg nie. Agri Wes-Kaap het ՚n skenking gemaak waarin al die boere in georganiseerde landbou gedeel het. Ons het ook baie skenkings van ander instellings en van boere landwyd, soos Agri Limpopo, gekry. Die boere elders het hulle harte en hande oopgemaak. Dit gee ons boere moed.”

Boere in die Swartland het verlede jaar 50 ton saadgraan geskenk. “Ons boere het nie meer saad nie en ons kan nie saad koop nie. ՚n Skenking van SA Graan het baie gehelp, maar omdat die reën te min was, het daar nie veel van gekom nie …”

In die Noord-Kaap was daar geen droogtehulp van regering af nie. “Dinge lyk nie goed vir die Namakwalandse boere nie. Die regering sal hulp moet gee in die vorm van droogtehulp aan hierdie blykbaar vergete deel van Namakwaland.”

Sterk winde waai die dooie bosse uit die grond en sonder die plantbedekking is die grond blootgestel aan winderosie.

Familieplase in gedrang

Dit is nie maklik om te oorleef nie. Kallie sê: “Ek weet hier is boere wat ՚n probleem met die banke het en een of ander tyd gaan familiegrond onder die hamer kom.”

In Februarie en Maart vanjaar was daar goeie reën wat met donderstorms gepaard gegaan het, maar die boere se kuddes is so uitgemergel dat drie jaar se goeie reën nodig is voor hulle weer lewensvatbaar en vooruitstrewend kan boer.

“Ons kinders kom nie terug nie, want daar is geen vooruitsig vir ՚n seun om saam met sy pa te boer en die boer-dery later oor te neem nie. Die boere hier brei nie uit nie, daar is niemand wat nog grond aankoop nie. Baie boere gee boedel oor, want in die toekoms sal net megaboere oorleef.

“Al wat plase koop is mense wat geld het en nie ՚n inkomste uit die plaas nodig het nie. Dit skep ՚n ander soort droogte, want ongediertes word nie op hierdie plase beheer nie. Die ongedier-tes, en veral jakkalse, maak boere in die gebied baie seer.”

Boere maak staat op boorgate, want die reën is min.

Kallie is nie bewus van enige droogte-ramptoestand wat hier geld nie. “Dieselfde hulp wat vir die Wes-Kaap begroot is, is vir die Noord-Kaap begroot, maar die hulp het nooit by die boere uitgekom nie. Daar is wel gehelp met watervoorsiening wat boorgate en infrastruktuur ingesluit het, maar as jy nie skaap het nie, help dit nie jy het water nie …

“Ons praat hier van die Hardeveld in Matzikama, maar die droogte strek baie wyer, vanaf die Olifants- tot by die Oranjerivier in die gebiede oos én wes van die N7. Die hele Namakwaland-deel van die Noord-Kaap – altesaam 80% van Boesmanland-is steeds in ՚n droogte-knyptang.”

Maar droogte was nog altyd ՚n deel van die gebied. Tydens die droogte in die laat sestigs en die vroeë sewentigs, het Hendrik Schoeman, die minister van Landbou, die boere in Namakwaland besoek. Die aand tydens ՚n vergadering het hy glo opgemerk: ‘Ek het vandag ՚n klomp goeie boere ontmoet. Hulle het net een fout: Hulle geloof is te sterk.’

“Ons gene is van hierdie wêreld, dit is in ons bloed,” sê Kallie. “Ons het al baie mooi jare gehad, maar ons ken nie ՚n droogte van tien jaar met geen reën nie.”

Tussen die dorpies in die Hardeveld is daar ‘net die dorre aarde’, sê Kallie Nel.

Net genade van Bo af

Arno Pienaar boer op die plaas Leeukuil in die Kliprand-omgewing. Volgens hom was die reënval die afgelope nege, tien jaar onder gemiddeld. “Dit het ՚n bietjie gereën, maar eintlik heers die uitmergelende droogte, die hitte en oostewind wat verskriklik is. Die dorre aarde is soos ՚n spons, die water raak net weg …”

Arno boer met angorabokke en skape, maar eintlik is hierdie skaapwêreld. “Ons oorleef net met die genade van Bo af.”

Volgens hom is daar sowat 35 boere in die omgewing wat nie meer kontant het om voer vir hulle vee te bekostig nie. “Voer, en die vervoer daarvan, het verskriklik duur geword. Die boere het hulle versekering en polisse opgeskort en ry nie meer rond nie, maar spaar elke sent om die diere aan die gang te hou.

“Ons is dankbaar vir elke boer en instansie wat die afgelope nege jaar voer geskenk het. Maar dankie is ՚n klein woordjie. As daar iemand is wat ons kan help met ՚n skenking, kan hulle my laat weet.”

Matzikama vorm deel van die Weskus-distriksmunisipaliteit in die noordwestelike gebied van die Wes-Kaap en grens aan die Noord-Kaap.

Vir meer inligting kontak vir Arno Pienaar by 083-492-8631 of per e-pos by pienaar.leeukuil@gmail.com.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0