Categories: NewsPublished On: 27th September 2017

Verbruikers gaan nog meer vir brandstof in Oktober betaal

By 1 min read
297 words

brandstof

deur Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom

Die pryse van brandstof sal na verwagting in Oktober verder styg weens die skerp styging in die ru-olieprys.

Volgens die jongste inligting van die Departement van Energie kan die prys van petrol 93 (ULP & LRP) in Gauteng op Woensdag, 4 Oktober 2017 moontlik met 26,3 sent per liter en die prys van diesel, met ‘n 0,005% swaelinhoud, moontlik met 37,8 sent per liter styg.

Volgens internasionale bronne het die gemiddelde daaglikse Brent ru-olieprys oor die afgelope maand van $52,34 tot $59,22 per vat gestyg, die hoogste vlak sedert Junie 2015. Hierdie styging word ondersteun deur ‘n dreigement van Turkye om die ru-olie wat met ‘n pyplyn van Irak na die buitewêreld vervoer word, af te sny. Turkye is gekant teen die moontlike onafhanklikheid van die Kurdistanstreek in Irak.

Die lede en nie-lede van die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande het ook bevestig dat die mark goed op pad na ‘n herbalansering is deur die gesamentlike vermindering van hulle olieproduksie, terwyl die vraag na olie sterk bly.

Die orkaan Harvey het ook veroorsaak dat die VSA bykans 25% van sy raffineringskapasiteit moes sluit, terwyl die rowwe see, wat deur die orkaan Maria versoorsaak was, ook die vervoer van ru-olie langs die Noord-Atlantiese kus vertraag het.

Die hoër ru-olieprys het  skerp stygings in die gemiddelde internasionale pryse van petroleumprodukte tot gevolg gehad wat moontlike verhogings van 33,2 sent per liter in die petrolprys en 44,8 sent per liter in die dieselprys veroorsaak het.

Die daaglikse gemiddelde R/$-wisselkoers het gedurende die eerste week in September tot R/$12,75 versterk en daarna weer vinnig tot R/$13,28 verswak, maar sal na verwagting ‘n daling van 6,9 sent per liter in die petrolprys en 7,0 sent per liter in die dieselprys tot gevolg hê.

Die finale prysveranderings sal Vrydag deur die Minister van Energie bekend gemaak word.

Bron: Verklaring: Fanie Brink

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0