Veldore gee produsente seisoen-voorsprong

veldore
Met die winter wat op sy einde staan en die lente en somer wat om die draai is, maak gewasadviseurs nou noodsaaklike aanbevelings om suksesvol na die nuwe seisoen oor te skakel. Hierdie doelgerigte ingrypings is van onskatbare waarde vir produsente reg oor Suid-Afrika: dit beskerm opbrengste en help die land se miljarde-rand uitvoerbedrywe die nuwe seisoen sterk inlei.
Lees meer oor wat InteliGro se “veldore” – gewasadviseurs wat elke dag tussen produsente op die plase werk – tans in verskillende streke sien en hoe hulle reageer op area-spesifieke uitdagings in rygewasse, kanola en gars.
NUUS UIT DIE WES-VRYSTAAT
“In die Wes-Vrystaat is ons uitdagings veral wisselende klimaatstoestande en stygende insetkoste,” sê Izak Venter, senior gewasadviseur van InteliGro vir rygewasse soos mielies, sojabone en sonneblom in die Wes-Vrystaat.
Volgens Venter het geskiedkundige data en tegniese kennis produsente vanjaar gehelp om betyds by die seisoen se uitdagings aan te pas.
“Ons het plantdatums volgens vogtoestande geskuif, wisselboustelsels gebruik en insette doelgerig aangewend,” sê Venter. “Toe die reën later as verwag geval het, kon produsente vinnig van mielieaanplantings na sojabone en sonneblomme skuif. Só het ons risiko’s versprei en gehelp om inkomste meer stabiel te maak.”
Wisselende reënval dwing produsente ook tot vinnige besluite oor bemesting en plaagbeheer. “Veral die vroeë aanplantings van sonneblomme in die westelike Vrystaat moet mooi gemonitor word,” sê Venter.
Hy glo die regte kombinasie van presisieboerdery, bewaringslandbou en markdiversifikasie is wat nodig is om die volle potensiaal van mielies, sojabone en sonneblom te benut. “Die opleiding wat ons as gewasadviseurs ontvang, gekombineer met streekspesifieke kennis oor grond, klimaat en plaagdruk, help ons beslis om meer akkurate aanbevelings te maak en tydige besluite saam met produsente te neem.”
UITDAGINGS IN DIE SUID-KAAP
Pieter Rall, Gewas Adviseur van InteliGro in Riversdal in die Suid-Kaap sê die jaar het met goeie potensiaal vir dié streek begin: “Maar sedert die tweede week van Junie het ons geen wesenlike reën gehad nie. Dit is bitter hartseer om die potensiaal op die lande week vir week voor jou oë te sien wegkwyn.”
Die watertekort het aanpassings geverg. “Weens die lae reënval in Julie en Augustus moes ons opbrengsaanpassings op begrotings maak,” sê Rall. “Ons het gefokus om lande gesond te hou en onnodige bespuitings te vermy. Slakke in gars en kanola is beheer, sekere bespuitings – soos teen Sclerotinia in kanola – is weggelaat of aangepas, en ons monitor verder net vir luise, bolwurm, bruinroes en stamroes wat nog kan voorkom.”
Volgens Rall moes besluite vinnig geneem word. “Uitdagings soos hierdie verg kopkrap deur produsente en gewasadviseurs wat mekaar moet kan vertrou. Danksy die tegniese kennis wat ons binne InteliGro beskikbaar het, kon ons besluite maak wat ons beslis nie op ons eie sou kon neem nie. Dit bly ’n voorreg om te steun op mense met jarelange ervaring in die kleingraanbedryf, deeglike navorsing en die samewerking tussen gewasadviseurs en tegniese spesialiste.”
NADER AAN PLAASVLAK, NADER AAN OPLOSSING
InteliGro het onlangs beweeg na`n meer gedesentraliseerde kommersiële ondersteuningstrategie wat regoor die land deur Area Bestuurders gedryf word.
“Hoe nader ons aan plaasvlak werk, hoe vinniger kry gewasadviseurs die regte oplossings,” sê Niel Kruger, Uitvoerende Bestuurder: Primêre Besigheidskanaal by InteliGro.
“Intydse, area-spesifieke optrede is presies hoekom ons so sterk fokus op tegniese ondersteuning en gewasopleiding. Ons is al verskeie jare besig met area-spesifieke wetenskaplike proewe om tendense te verstaan en gefokusde antwoorde te kry. Produsente kry dus nie net raad nie, maar ook ’n strategiese vennoot wat hul unieke uitdagings verstaan.”
Kruger glo die waarde lê in mense: “Plaaslike kennis en vinnige aanpassing is ons grootste bate. Wat ons gewasadviseurs se stories uit die veld duidelik maak, is dat sukses in moderne landbou nie net van tegnologie of insetprodukte afhanklik is nie, maar van mense – soos gewasadviseurs wat die polsslag van elke plaas ken en vinnig kan reageer. Met ons area-spesifieke benadering en tegniese ondersteuning hanteer ons vandag se uitdagings én pak ons die toekoms met selfvertroue aan.”
Uitgereik deur: InteliGro