Categories: Artikels, DieregesondheidPublished On: 6th June 2023

Varkpes in Tuinroete wek kommer

By 4 min read
797 words

pig-2189566_1280

deur Tisha Steyn

Die uitbreking van varkpes (African swine fever) in die Mosselbaaiomgewing in die Suid-Kaap hou gevaar in vir varke in die hele Tuinroete en die res van die land.

Volgens ‘n mediaverklaring van die Wes-Kaapse Departement van Landbou wat middel-Mei uitgereik is, is varkpes op 19 April by varke in die KwaNonqaba-woonbuurt buite Mosselbaai bevestig. Bykans 40 varke is dood en sowat 200 oorblywende varke is in kwarantyn geplaas.

Die gemeenskap is versoek om nie enige varke of varkprodukte uit die gebied te verwyder nie om te verhoed dat die siekte na ander gebiede versprei.

Kommersiële landbou en eienaars van slaggeriewe is egter bekommerd oor die uitbreking wat na bewering drie weke lank stilgehou is terwyl besmette varke steeds rondbeweeg is. Volgens die staatsveearts op George het die siekte gevolglik na George en Plettenbergbaai versprei.

Volgens Henry Meyer, streeksverteenwoordiger van Agri-Weskaap, is kommersiële boere ingelig oor mensen dieregesondheid en die handeldryf in lewendehawe. Daarenteen is informele boere wat op ՚n klein skaal met varke en ander lewendehawe boer, dikwels nie opgelei of ingelig oor voorkomingsmaatreëls nie. “Ons is baie bang dat die siekte nasionaal kan versprei. Dit sal ՚n vernietigende uitwerking op alle varkboere, die voedselbedryf en die ekonomie hê,” sê Henry.

Aanmeldbare siekte

Varkpes is ՚n aanmeldbare siekte wat deur die staat beheer word. Die staatsveearts moet onmiddellik in kennis gestel word indien die vermoede bestaan dat die varke besmet kan wees. Kwarantyn is noodsaaklik en wetstoepassers kan padblokkades opstel om die vervoer van varke te beperk.

Die siekte kom sporadies voor en indien nagelaat word om die regte prosedure te volg, kan dit na die res van die land versprei. Wanneer ՚n uitbreking voorkom, moet die gebied onmiddellik in kwarantyn geplaas word en besmette varke moet vankant gemaak word. Die karkasse moet verbrand en nie begrawe word nie.

Voorkoms

Varkpes kom voor onder vlakvarke, bosvarke en ander wilde varke in gebiede in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, die noordelike gebiede van KwaZulu-Natal en ander lande in Suider Afrika.

Plaas- en wilde varke en die produkte daarvan mag nie uit gebiede wat met varkpes besmet is verwyder word nie omdat dit ՚n risiko vir varke elders in die land inhou.

Varke word besmet wanneer hulle met besmette varke in aanraking kom of deur ՚n gebied beweeg waar besmette varke was. Hulle kan dit ook van wilde varke of hulle mis kry.

Varke wat met varkpes besmet is, kan nie behandel word nie en die meeste van die siek varke vrek. Dit word nie oorgedra aan mense nie.

Simptome van varkpes

  • Die varke wil nie eet nie;
  • die varke sukkel om asem te haal;
  • die ore, neus, maag en bene kan rooi raak;
  • dragtige varke kan aborteer; en
  • besmette varke kan binne twee tot tien dae vrek.

Die siekte word baie vinnig van siek na gesonde varke oorgedra. Varke wat siek word maar nie vrek nie, hou steeds ՚n gevaar vir ander varke in omdat hulle die siekte kan oordra.

Tree voorkomend op

Koop net varke van betroubare bronne en nie op veilings of van spekulante wat nie bewys kan lewer dat die varke gesond is nie. Moenie varke koop of verkoop as daar varkpes in die gebied voorkom nie.

Varke kan varkpes kry as hulle kombuisafval of die vleis van besmette varke eet. Volgens die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF) is dit belangrik dat varke nie kombuisafval gevoer moet word nie. Die Wet bepaal dat kombuisafval gekook moet word voordat dit aan varke gevoer word.

RPO verwelkom biosekerheidsmaatreëls

Intussen het die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) die taakspan oor biosekerheid se verslag, wat aan Thoko Didiza, minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, voorgelê is, verwelkom.

Die aanbeveling is dat kwarantyngeriewe by lewendehawe-veilings en abattoirs geskep word, asook die toepassing van streng higiëne-protokolle en die opleiding van personeel in die beste praktyke vir biosekerheid.

Een van die kernaanbevelings is die skep van ՚n nasionale databasis vir dieregesondheid en inligting oor siektes, wat boere sal help om hulle diere se gesondheidstatus na te spoor en te moniteer ten einde uitbrekings van siektes te identifiseer en betyds daarop te reageer. “Hierdie aanbeveling is veral belangrik in die lig van onlangse uitbrekings van hoogs aansteeklike staatsbeheerde siektes soos Afrikavarkpes en bek-en-klouseer, wat ՚n ernstige uitwerking op die rooivleisbedryf het,” aldus die RPO.

Die RPO ondersteun ook die taakspan se aanbevelings dat ‘n nasionale biosekerheidstrategie ontwikkel word wat ‘n raamwerk sal verskaf vir die toepassing van biosekerheidsmaatreëls op alle vlakke van die rooivleis-waardeketting. Die RPO glo dat so ‘n strategie leiding aan boere en regulatoriese owerhede sal bied.

Bronverwysings

Ackerman, B. (2016) Tien goed wat jy van varkpes moet weet ProAgri https://www.proagri.co.za/tien-goedwat-jy-van-varkpes-moet-weet/

Engelbrecht, A. (2023) Bedryf bekommerd oor varkpes-uitbraak. Mosselbaai Advertiser. https://www.mosselbayadvertiser.com/News/Article/Agriculture/bedryf-bekommerd-oorvarkpes-uitbraak-202305250155?fbclid=IwAR1aH2DNmlCNvWOzHbSxmNiK4b0fqBGhpqGx-1Imwl6EDz6rfgk-WdV0C-o

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0