Valtrac skitter met nuwe tegnologie

valtra reg
Valtrac se standplaas by NAMPO was vanjaar ’n skatkis van nuwe tegnologie en verrassende toetredes tot masjinerie wat vir die eerste keer deur die maatskappy van Parys in die Vrystaat aan gretige boere beskikbaar gestel word.
VALTRA S374

Die sosiale media het gegons oor die nuwe groot trekker in die Valtrac-stal. Die S374 is die kroonprins van die S-reeks en die eienskap wat dit veral aantreklik sal maak vir Suid-Afrikaanse boere is die verkoelingsvermoë wat met 40% verhoog is.
Die 8,4-liter enjin bied die jongste AGCO POWER-tegnologie met die beste brandstofverbruik in die klas en soomlose AGCO wisselaandrywing (variable transmission). Die trekker spog met die bekroonde nuwe Valtra SmartTouch-armleuning met sy 9-duim raakskerm waarop jy al die trekkerfunksies kan sien en beheer. Met “drive lever driving” kan die operateur die trekkerspoed naatloos, gladweg en baie fyn beheer deur net die beheerarm te gebruik.
Valtra-stroper

Die Valtra-stroper het verseker ook die koppe laat draai. Devon Dedwith (links) sê die nuweling gaan ’n goeie ekonomiese alternatief met hoë werksverrrigting in die stropermark bied, ondersteun deur Valtrac se legendariese dienslewering. Die Klas-5-stroper het ’n konvensionele dwars dorsdrom voor met tweelingrotors van 3,5 m elk, agter vir volledige skeiding van die materiaal.
Devon sê die masjien is eenvoudig met min bewegende dele en kan sonder enige verstellings of vermorsing van hoë-opbrengslande tot lae-opbrengslande stroop. Die stroper weeg net 12,4 ton en as gevolg van die eenvoudige meganiese aksie het dit 20% beter brandstofverbruik as vergelykbare stropers. Dit het ’n 7 000 liter graantenk met ’n 198 kW enjin. Die stroper wat by NAMPO vertoon is, het al so 50 uur gewerk, maar George Cilliers (regs) sê hulle beplan om hom nog ’n hele seisoen se mielie- en koringstroopwerk te laat doen sodat boere dit met die nodige gemoedsrus vir die volgende seisoen kan bestel.
Kuhn-selfaangedrewe spuit

Vroeër jare was Valtrac die verspreider van Montana se uitstekende Parruda-spuite, maar Kuhn het die maatskappy drie jaar gelede oorgeneem en vanjaar is die volle ontwikkeling van die gekombineerde tegnologie vertoon. Die vertroude Montana-spuite beweeg nou op ’n vlak van wêreldgehalte. George Cilliers sê Kuhn het wêreldwyd gaan kyk wat is die behoeftes van hulle boere en daar is baie praktiese en slim aanpassings aan die selfaangedrewe model aangebring. Die hoogloper met sy 1,8 meter grondvryhoogte het ’n 4 000 liter vlekvry-staaltenk en ’n aluminiumbalk van 36 meter. Die balk word oor enige terrein stabiel gehou deur Kuhn se swewende balkewewigmontering.
Die onderstel bestaan uit ’n dubbelraam om dit ekstra sterk te maak, en die onderhoudvrye Montana-lugkussingveerstelsel laat die masjien sag loop. In die spoggerige nuwe kajuit is alles doodstil en uiters gerieflik.
Een van die aanpassings waarvoor boere en handelaars gevra het, is outomatiese wielspooraanpassing vir verskillende rywydtes. Jy kan nou die wielwydte hidroulies vanuit die kajuit verstel.
Die Bosch aandrywingstelsel is gestel om in normale omstandighede teen 1 600 enjinomwentelinge per minuut te werk, wat uitstekend is vir brandstofverbruik. Die vier wiele word waarlik onafhanklik aangedryf en as een van die wiele swaar trek, sal die olievloei na die wiel outomaties verhoog. Hierdie stelsel word ook gebruik vir trekkragbeheer en sluitweerremme (ABS).
Seksiebeheer op die balke werk ook meer doeltreffend met regstreekse beheer na elke deel, sodat die watervloei na die seksie onmiddellik afgesluit kan word – daar vloei nie nog water in die pyp af nie. Die spuite steek ook nie uit onder die balk nie, so dit is nog een van daardie “gereelde” kostes wat jy van die lysie kan afhaal.

Vir meer inligting oor Valtrac se vernuftige tegnologie-oplossings vir die boer, skakel Attie de Villiers by 083-261-9863 of 056-817-7308 of attiedev@valtrac.co.za. Besoek ook www.valtrac.co.za.