Uiterste droogte in Suider-Afrika kan vererger

droogte
deur Fanie Brink – Onafhanklike Landbou-ekonoom
“Suider-Afrika is in die middel van die mees ernstige droogte in 35 jaar en volgens die Verenigde Nasies (VN) kan die uiterste droë klimaatstoestande oor die komende maande vererger. Die Nasionale Tesourie in Suid-Afrika het dit egter met die baie beperkte droogtehulp wat sedert die begin van die jaar aan die landboubedryf verleen is, dit duidelik laat blyk dat hierdie klimaatstoestande eintlik vir hulle ‘n groot grap is,” sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.
“Maar ek het nuus vir hulle – dit is glad nie ‘n grap nie!”
Na ‘n vierdaagse besoek aan Mosambiek, het ‘n spesiale gesant van die VN oor klimaatsverandering en buitengewone weersverskynsels soos El Niño, Macharia Kamau, gister beklemtoon dat die verwoestende droogte eers sy ergste vlak om en by Januarie sal bereik.* Ongeveer 18 miljoen mense in die streek is reeds ernstig geraak deur die wydverspreide gevolge van die droogte.
Die droogtehulpmaatreëls wat die Suid-Afrikaanse regering sedert sy hoofbegroting in Februarie vanjaar en so pas in sy Mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) aan die landbou bewillig het, het nie alleen die kommersiële boere totaal uitgesluit nie, maar dit sal ook nie veel doen om die lot van die klein bestaans- en ontwikkelende boere te verlig nie.
Die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) het op sy onlangse kongres dit duidelik gestel dat daar in elk geval niks te sien is van die meer as R2-miljard wat sedert die begin van die jaar aan nuwe ontwikkelende boere belowe is nie. Die vraag moet dus gevra word hoeveel van hierdie geld wel by die opkomende boere uitgekom het?
Die droogtehulpmaatreëls van R553,3-miljoen wat die minister van Finansies nou in sy MTBR begroot het, gaan ook nie net vir landbou aangewend word nie. Altesaam R212-miljoen is by die aansuiweringsbegroting van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se steunprogram vir die landbou bygevoeg sodat veevoer aangekoop kan word. Die steunprogram het in elk geval reeds platgeval weens die onvermoë van die Departement om dit suksesvol in werking te stel. Altesaam R341-miljoen is vir die Departement van Water en Sanitasie bewillig waarvan sowat R291-miljoen vir ‘n mobiele ontsoutingsaanleg aangewend sal word, terwyl R50-miljoen by die toelaag vir die infrastruktuur vir waterdienste gevoeg is vir die aanry van water as ’n korttermyn droogte-verligtingsmaatreël. Die aanwending van hierdie geld is hoogs onder verdenking en die bedrag wat wel uiteindelik die ontwikkelende boere sal bereik moet ernstig bevraagteken word.
“Dit beteken dat die regering hierdie jaar feitlik geen droogtehulpmaatreëls vir die herstel van die langertermyn produksievermoë van die landbou om voedsel te produseer, bewillig het nie, wat hom nog baie duur oor die volgende paar jaar te staan sal kom.”
Na die baie ernstige droogte in die vroeë negentigs moes die vorige regering die graanprodusente met R3,8-miljard gehelp het om hulle ernstige kontantvloeiprobleme te verlig, asook skuldoorlaatskemas en ‘n staatswaarborg om hulle in staat te stel om weer produksiekrediet te bekom om die volgende seisoen te kon produseer.
Fanie sê: “Die huidige regering stel egter net daarin belang hoeveel plase hulle verniet of teen baie lae pryse in hulle hande kan kry as die droogte voortduur om hulle grondhervormingsbeleid te ondersteun en hulle poging om aan bewind te bly te verbeter. Hulle sal egter nie slaag nie want die ekonomie sal nie vanjaar of in 2017 groei nie, terwyl hulle met desimale syfers sit en speel oor die moontlike groeivooruitsigte en geen idée het hoe ekonomie groei geskep word nie. Die onvermydelike afgradering van die land se totale kredietstatus sal die ekonomie en land finaal sink, terwyl die ernstige gevolge van die moontlike verdere uitgerekte droogte onbepaalbare voedseltekorte en armoede sal veroorsaak.”
Hoewel dit goed gereën het in dele van die oostelike produksiegebiede waar somergraanprodusente reeds begin plant het, het die produsente in die westelike produksiegebiede nog net een maand oor wat dit baie goed sal moet reën om min of meer ‘n normale oes vir volgende jaar te produseer.
“Hierdie westelike gebiede produseer ongeveer 54% van die land se totale mielies, maar sowat 70% van die totale witmielies.”
Met enkele uitsonderings, is die ontwikkeling van klein swartboere om as volwaardige kommersiële boere te ontwikkel ‘n groot mislukking weens die afwesigheid van behoorlike opleiding en ondersteuning deur die twee landboudepartemente.
“Die kans dat hulle enigsins ‘n noemenswaardige bydrae tot die land se voedselsekuriteit in die toekoms sal kan maak, is uiters skraal,” volgens Fanie.
**Hierdie mening is gegrond op die voorspellings van ‘n VN-verteenwoordiger wat voltyds aandag gee aan klimaatsvoorsuitsigte en spesifieke weerverskynsels soos El Nino’s of La Nina’s.
*Extreme drought in southern Africa about to worsen, UN says