Twee plaasaanvalle in die Vrystaat binne ure
Niemand is ernstig beseer in twee plaasaanvalle wat vroegoggend in die Vrystaat plaasgevind het nie. Vrystaat Landbou (VL) is dankbaar om te meld dat in beide gevalle die boere se paraatheid bygedra het daartoe dat die plaaswagstelsels vinnig geaktiveer is, en talle boere is tans saam met die SAPD opsoek na verdagtes in die Bothaville en Smithfield-distrikte.
Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting is Frikkie van der Merwe, sy vrou en nog ’n vrou wat by hulle tuisgaan vanoggend omstreeks 02:00 op die plaas Vreugde in die Bothaville-distrik aangeval. Dit is nog nie duidelik hoe die verdagtes die huis binnegekom het en of iets gesteel is nie. Niemand is tydens die voorval beseer nie. Die verdagtes het met ’n silver Volkswagen Tiguan, met nommerplaat 105 TIP FS, op die vlug geslaan. Talle boere het op die voorval gereageer en paaie in die distrik geblokkeer. Boere en die Polisie is tans opsoek na die verdagtes.
In die tweede voorval is Piet Swanepoel, ’n boer van die Smithfield-distrik, aangeval toe hy vanoggend 06:00 uit sy huis gegaan het. Die verdagtes het op Piet geskiet. Hy het die aanval afgeweer deur op hulle terug te skiet en vier verdagtes het op die vlug geslaan. Die voertuig waarin hulle gevlug het, is intussen gevind en boere en die Polisie is tans besig om die omgewing te deursoek opsoek na die verdagtes.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Wet en Orde Komitee, sê boere se paraatheid het daartoe bygedra dat geen ernstige beserings of lewensverlies voorgekom het nie. “Hierdie paraatheid sowel as die spoedige aktivering van die Landelike Beveiligings Plan (LBP) en plaaswagte is ’n duidelike teken aan misdadigers dat boere en die Polisie sal voortgaan om in terme van die raamwerk van die plan saam te werk om misdadigers aan te keer en voorvalle en lewensverlies te voorkom.”
Tommie sê VL wil boere weer eens versoek om deel te word van plaaswagstrukture om hulleself en hulle gemeenskappe te help beveilig. “Ons wil boere ook aanmoedig om hulself sodanig toe te rus dat hulle binne en buite hulle wonings paraat kan wees. Maak ook seker dat jou plaaswerkers deel vorm van jou plaas se paraatheidsplan.”
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar