Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 5th March 2024

Turksvyfees vier vrugte en kultuur

By 5 min read

WhatsApp Image 2024-02-08 at 14.44.46

Besoekers aan die Turksvyfees kon lafenis vind by die biertent.

Feesvier en plesier is in ons Boerevolk se bloed. Daarom is dit nie verbasend dat sowat 3 000 mense die onlangse Turksvyfees by die Pioniersmuseum bygewoon het nie. Die Turksvyfees bestaan al meer as drie dekades, maar het na die draai van die vorige dekade effens doodgeloop.

“Ons het in 2019 besluit om dit te laat herleef, maar COVID-19 het ՚n stok in ons speke gesteek,” vertel Pierre du Preez, organiseerder van die Turksvyfees.

“Ons moes toe wag tot 2022 om die fees weer te kon hou. “Vanjaar se Turksvyfees is vir die eerste keer by die Pioniersmuseum gehou. Voorheen is dit altyd by Willem Prinsloo Landboumuseum buite Rayton gehou,” sê hy. Die rede vir die skuif is om dit meer toeganklik te maak vir besoekers.

“Mense het gekla dat Willem Prinsloo te ver is.” Die sukses van die 2024-fees het bewys die skuif was die moeite werd. “Dit is waarskynlik dat ons dit weer volgende jaar by die Pioniersmuseum sal hou,” sê hy.

Hoekom is turksvye die kern van die fees?

Die doel van die fees is om mense meer bewus te maak van die veelsydige plant. (Lees meer hier oor Fruit production part 4: Prickly pears as jy graag self die plant wil verbou).

“Die turksvye het voeding- en gesondheidsvoordele vir mens en dier. Honderd persent van die plant kan gebruik word,” sê Pierre. “Die vrug is nie net lekker en sappig nie, maar ook baie gesond vanweë sy lae glukemiese indeks en hoë veselinhoud. Die blare (blaaie in turksvytaal) is uitstekende veevoer vanweë die hoë water- en veselinhoud. Die plant aard ook goed in alle weersomstandighede, is redelik bestand teen peste en het sy eie diefstalafweerder in die klein doringtjies. Die diere gee eintlik glad nie om vir die klein doringtjies nie, maar dit kan ՚n mens nogal irriteer!

“Die sade word gepars vir ՚n baie suiwer vitamine E-olie van ՚n hoë gehalte, wat veral in velprodukte gebruik word. In lande soos Meksiko verbou hulle die plante spesifiek sodat peste soos cochineal daarop kan teer. Die cochineal word dan ge-oes om ՚n pragtige rooi kleursel te maak. Elders word daar sintetiese leer van die plantvesels gemaak, waarvan daar al handsakke en motorsitplekke gemaak is. Pierre vertel dat hulle tydens die fees graag met boere gesels en idees uitruil.

“Vir voornemende boere sal ons hopelik binnekort ՚n beginnerspakkie kan bied wat een hektaar se plantmateriaal, een jaar se gifstof en ՚n handleiding insluit.”

Alles wat jy moet weet van die Turksvyfees

Die Turksvyfees is ՚n pretdag met kosen ander stalletjies, boeremusiek, volkspele en kindervermaak. “Een van die top-5 deelnemers van die TV-program

Die Kontrak, Leo Sonskyn, het ook opgetree en die mense vermaak met sy fantastiese stem,” voeg Piere by. Buiten die vrugte was daar turksvykonfyt, -olie, -sap en -jenewer om te proe en te koop.

“Ons probeer ook om elke jaar turksvyboere en kundiges teenwoordig te hê om mense se vrae te beantwoord of om demonstrasies aan te bied. Die Soetdoring-voortrekkerkommando het vanjaar die pretloop en die boeresport aangebied.

“Daar was ongeveer 90 stalletjies by vanjaar se fees. Slegs twee boere het vrugte verkoop. Ons kon net 1 100 kissies bymekaar kry vir die fees, wat heeltemal te min was. Die laaste kissie is teen 11:45 verkoop. Ons gaan hard probeer om minstens 2 000 kissies te kry vir die volgende fees, dis tog waaroor dit gaan!” Ten spyte van die fees se sukses is daar egter ՚n paar uitdagings ook …

“Nieteenstaande die honderde turksvyboere in SA, sukkel ons elke jaar om genoeg turksvye vir die fees te bekom. Verskillende klimaatstreke en verskillende variante het ՚n invloed op die aanbod. Die kwekers in Limpopo en Noordwes oes Desember-Januarie en het omtrent geen voorraad oor teen die tyd dat dit feestyd is nie. Die kwekers in die Laeveld, aan die ander kant, oes weer bietjie later, en begin eers einde Februarie te oes. Vir die kwekers uit die Vrystaat is die afstand te groot om die vrugte bekostigbaar te kan verkoop. Meeste van die vrugte op die fees kom uit Nigel en Pretoria,” verduidelik Pierre.

Die FEES in Turksvyfees

By die feesvieringe was daar ook ՚n groot verskeidenheid wegneemkosstalletjies, ՚n biertuin, vellies, juweliersware, tafeldoeke, konfyt, verkoelingshanddoeke, speelgoed, bombrode, souse, om maar ՚n paar te noem. Pierre verklaar dat een van die hoogtepunte elke jaar die Bostu Boerboele-area is waar mense boerboele van nader kan bekyk of koop. “Hulle het beslis van die mooiste boerboele wat ek al gesien het en ek verkyk my elke jaar aan die yslike grootte van die honde!” Oor die verbintenis met die Pioniersmuseum verduidelik hy dat dit ՚n logiese stap was.

“Ons het ՚n sterk kulturele inslag met die fees, met volkspele, boeremusiek, boeresport, broodbak en sweepklap. Dit is daarom gepas om die fees by die Pioniersmuseum en Willem Prinsloo te kon hou, waar mense kan leer hoe hulle voorvaders geleef het.” Pierre reken dat die fees in die toekoms hopelik dieselfde sal bly, maar met ՚n tikkie vernuwing elke jaar.

“Ons wil volgende jaar vir mense wys hoe turksvye gebruik word in die hernubareenergiesektor, waar die plantmateriaal omskep word in bio-diesel. Ons het ook ons byekorwe tussen die turksvye gesit om hopelik volgende jaar heelwat turksvyheuning te hê. Wie weet, dalk is die turksvyheuning al gereed vir die komende Heuning- en Byefees?” sluit hy af.

Uitstallers en boere wat betrokke wil raak kan ons kontak deur die webwerf se kontakvorm op http://www.turksvyfees.co.za of e-pos aan info@turksvyfees.co.za.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment