Tshwane stop Sakeliga KragDag ekspo

kragdag
Dit is met groot teleurstelling dat daar aankondig is dat die Sakeliga KragDag ekspo wat volgende week sou plaasvind, deur die Tshwane munisipaliteit gekelder is.
Tshwane se Events Management afdeling het die organiseerders van die jaarlikse Sakeliga KragDag ekspo verbied om met die ekspo voort te gaan wat op 3-5 Desember sou plaasvind.
Die besluit is geneem op ´n Tshwane -JOC (Joint Operations Committee) vergadering wat verlede week plaasgevind het. Dit volg nadat ´n afvaardiging wat bestaan het uit bestuurslede van Sakeliga en KragDag, bygestaan deur ´n mediese span en regulasievoldoeningsprokureur, ´n positiewe vergadering met Tshwane se nuwe DA burgemeester gehad het, waarin die teenwoordige raadslede hulle ondersteuning vir die hou van die ekspo aangetoon het en die waarde daarvan vir die gemeenskap bevestig het.
Om die Sakeliga KragDag 2020 buitelug-ekspo te verbied asof grendelstaatregulasies so bepaal, terwyl daar daagliks groot winkelsentrums en weekliks talle markte regoor die land oop is met veelvoude meer besoekers, maak egter geen sin nie.
Die besluit van Tshwane kom nieteenstaande die organiseerders se reëlings om nie net die ekspo binne die grendelstaatregulasies aan te bied nie, maar ook bykomende maatreëls in plek te stel om ´n bykans Covid-vrye omgewing vir die ekspogangers daar te stel.
Die KragDag organiseerders het tot op die laaste praktiese oomblik alles in hulle vermoë gedoen om binne die wet die ekspo te laat voorgaan, maar dit was tevergeefs. Afgesien van die verlies van miljoene rande wat reeds deur die organiseerders en uitstallers spandeer is in voorbereiding van die ekspo, maak die besluit Tshwane aanspreeklik vir die inkomsteverlies van talle ondernemings wat hierdeur van ´n geleentheid beroof is om hulle lewensonderhoud aan te vul en die besluit kan selfs tot die ondergang van sommige ondernemings lei.
As daar een ekspo is wat hierdie jaar van groot waarde sou wees, is dit die Sakeliga KragDag Ekspo wat met sy ekspo-tema Immuun teen grendelstaat en ander virusse … en ons geniet dit! mense sou kon help om meer bestand te raak teen die uitdagings wat ons vanjaar beleef.
Let daarop dat die ekspo nie deur KragDag afgestel is nie, maar bloot uitgestel word na waarskynlik vroeg volgende jaar. Al die waardevolle nuwe byvoegings wat vir hierdie jaar beplan is, sal steeds plaasvind sodra die groenlig ontvang word. Wanneer dit gebeur, is dit ons voorneme om die grootste en beste KragDag ekspo tot nog toe te hou.
KragDag is in die proses om met al die KragDag uitstallers telefonies te skakel en ontvang baie begrip en ondersteuning van hulle. KragDag wil ook in die volgende ruk hierdie ondernemings met bykomende aksies van hulp probeer wees.
Besoekers wat reeds registreer het se registrasies sal geldig bly wanneer die ekspo weer hervat.
Ons hoor graag jou mening oor of die Tshwane munisipaliteit reg opgetree het om KragDag te stop?