Trekker- en stroperverkope laer in 2019

trekker
Trekkerverkope van 526 eenhede in Februarie is aansienlik (13%) laer as die 604 eenhede wat verlede Februarie verkoop is. Vir die jaar tot dusver is verkope vir die eerste twee maande van 2019 ook aansienlik (byna 21%) laer as verlede jaar. Vir die opeenvolgende 12 maande is trekkerverkope marginaal (0,3%) hoër as verkope vir die ooreenstemmende vorige tydperk.
Stroperverkope van 15 eenhede in Februarie is ook aansienlik laer as die 21 eenhede wat verlede Februarie verkoop is. Verkope vir die jaar tot dusver is beduidend (byna 35%) laer as verlede jaar. Vir die opeenvolgende 12 maande is stroperverkope marginaal (1%) laer as verkope verlede jaar.
Hoewel sentiment in die mark verbeter het, is boere in die meeste gebiede nie seker oor die onmiddellike vooruitsigte vir oes-opbrengste nie. Gewasse wat vroeg aangeplant is, veral in die oostelike dele, lyk oor die algemeen goed. Gewasse wat laat aangeplant is, is nou afhanklik van volgehoue reën en geen vroeë ryp nie. Mielie-opbrengste sal dié jaar, volgens die Oesskattingskomitee, ongeveer 15% laer wees.
Hoewel dit steeds te vroeg is in die jaar om betroubare ramings voor te berei vir die 2019-kalenderjaar, is aanduidings dat verkope teen ʼn soortgtelyke vlak, of effens laer, sal wees as die 6 700 eenhede wat verlede jaar verkoop is.
Bron: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie