Trans Atlantis se immergroen-FAW draf 1,5-miljoen sukkelvrye kilometers af
Jy sal ver moet gaan soek na nog ’n 8 ton-vragmotor wat in die afgelope nege jaar 1,5-miljoen kilometer oor die lengte en breedte van Suid-Afrika afgelê het met sy oorspronklike enjin, ratkas en ewenaar… en boonop daarmee kan spog dat dit byna 180 000 km op sy oorspronklike stel bande gehaal het.
Trans Atlantis Vrystaat, ’n Vrystaatse familie-karweieronderneming, was baie opgetoë toe FAW Vehicle Manufacturers (Edms) Bpk hierdie unieke vragmotor, ’n FAW 13.160, van hulle “teruggekoop” het. Die voertuig sal ’n ereplekkie kry in die maatskappy se Historiese Saal by die vervaardigingsaanleg in Coega in die Oos-Kaap, wat onlangs geopen is.
Tot sy “aftrede” het die 8 ton-FAW 13.160 (deesdae die 15.180FL) ’n baie billike dieselverbruik van 4,5 liter gehandhaaf. En dis nie al nie. Die FAW was daarvoor bekend dat die enjin, selfs in bittere Vrystaatse wintertemperature van -7 grade Celsius, altyd met die eerste draai van die sleutel gevat het.
Nico Claassen, wat die FAW vir die grootste deel sy 1,5-miljoen kilometre bestuur het, het die vragmotor “Oupa” gedoop – en vir hom en die span by Trans Atlantis Vrystaat was dit ’n nostalgiese oomblik toe die vragmotor hulle diens in Julie verlaat.
Volgens Etienne Deetlefs, medeeienaar van Trans Atlantis Vrystaat, was Nico skoon hartseer om tot siens te sê aan die betroubaarste vragmotor wat hulle nog ooit in hulle vloot gehad het. “Nietemin, ons is almal baie trots op die erkenning wat FAW SA aan Nico verleen het vir sy sorgsame bestuurstyl en sy benadering van voorkomende instandhouding. Dit het alles meegehelp om hulle vragmotor so betroubaar, duursaam en kostedoeltreffend te hou. Hy het die voertuig altyd van ’n kant af nagegaan, insluitende die bande en alle smeermiddels, voordat hy op ’n afleweringstaak vertrek het.
“Ons het die FAW in 2004 aangekoop, standaard van die handelaar, met geen bykomstighede of iets spoggerigs nie. Afgesien van ons bakkies bestaan ons hele vloot uit FAW’s. En die rede? Hulle is eenvoudig en maklik om in stand te hou. Boonop gee hulle ons deurlopend skitterende bedryfsdoeltreffendheid en betroubaarheid.”
Volgens Etienne is saketoestande deesdae moeilik, veral namate die swak ekonomie sy tol eis van hulle klante, wat op sy beurt weer ’n impak op hulle familieonderneming het. “Nogtans het ons positief gebly. Ons het daarin geslaag om ’n goeie persentasie van ons klante te behou, en ons is trots daarop dat ons die lojaliteit van ons klante kan behou vir al hulle afleweringsbehoeftes omdat ons ons beloftes nakom.”
Etienne, ’n rekenmeester, is ’n sakeman wat sy vinger op die pols van die onderneming het. Hy is ook ’n selfopgeleide werktuigkundige wat, wanneer nodig, sy eie vragmotors versien. “Klantediens” en “my woord is my eer” is vir hom allerbelangrik.
Eugene van der Berg, FAW SA se nasionale verkoopsbestuurder, sê: “Dit is hierdie eienskappe wat Etienne so ’n ongelooflike klant en handelsmerkambassadeur vir FAW maak. Ek het hierdie vragmotor meer as tien jaar gelede aan hom verkoop en hy sorg vir sy klante sowel as sy vragmotors met dieselfde toewyding en volharding. Dit maak hom ’n man en klant waarmee rekening gehou moet word. Wanneer dit nodig was, het Etienne self die 8 ton-FAW bestuur – en partykeer met ’n baie ongewone vrag. “Ons duurste vrag, met ’n waarde van 1,1-miljoen Britse pond, het net 500 gram geweeg! Maar hierdie klein pakket was omhul deur ’n houerstruktuur van 2 ton. Dit was verrykte uraan!”
Oor die jare het die FAW 13.160 alles van boumateriaal en meubels tot selfs ’n paar lyke en organe vir oorplantings oor die hele land vervoer. Die geharde en duursame FAW het die land deurkruis – van Paternoster tot Durban, en van Kaapstad tot in die verre noorde. Herstelwerk was min en die vragmotor het ’n benydenswaardige rekord ten opsigte van bedryfstyd.
“Hierdie FAW 13.160 was ’n werkperd soos min,” sê Etienne. “Nie ’n enkele dag se probleme nie en die betroubaarste voertuig wat ek nog gehad het.”