Categories: NuusPublished On: 20th April 2020

TLU SA toegewyd tot kosvoorsiening ondanks beperkings

By 2 min read
437 words

food bread and milk

Foto: Pixabay

TLU SA is steeds toegewyd om te verseker dat voedsel elke inwoner van die land bereik, hoewel die inperking egter reeds tot heelwat negatiewe gevolge gelei het.

Die vloei van voedsel na gemeenskappe word gerem en selfs versteur. Die gevolglike kosnood is die laaste ding wat Suid-Afrika kan bekostig. Honger ken geen reëls en geen inperking of veiligheidsmaatreëls kan dit verhoed nie.

“TLU SA het tydens die laaste fisiese Taakgroep-vergadering van die minister van landbou – voordat die inperking afgeskop het – die belangrikheid van die deurlopende vloei van voedsel na gemeenskappe  beklemtoon,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Ongeveer 30% van alle kos gaan na die informele sektor toe, maar dit is juis waar die bottelnek die grootste is. Dié groep sal ook eerste in opstand kom as daar nie kos is nie.”

TLU SA het deurlopend hindernisse wat nie sin maak nie, en ook nie die verspreiding van COVID-19 sal beïnvloed nie, in die Taakgroep uitgelig.

‘n Informele handelaar moet byvoorbeeld ‘n permit van die munisipaliteit hê voordat voedsel verkoop mag word, maar in sommige gevalle moet die handelaar tot 100 km ver reis vir sodanige permit. Gaan die besit van so ‘n permit die virus bekamp?

TLU SA neem met dank  kennis van die inisiatiewe regoor die land wat dreigende voedseltekorte probeer oplos. Ons lede is in sommige dorpe betrokke by sulke dinamiese aksies, terwyl ander by die landswye projekte help. Die netwerk van bewusmaking en aksie onder organisasies soos Helpende Hand, Saai en WeCook is onontbeerlik.

“Ons het self uit TLU SA se Traumafonds hulp verskaf aan boere en gemeenskappe wat bydra om voedsel te verskaf aan gesinne waar dit nie meer beskikbaar is nie,” sê mnr. Meintjes. “Ons werk saam met verdienstelike organisasies en kerke om die beperkte middele so goed as moontlik te versprei. Maar, die onsinnige beperkings sal die kosnood vererger en landbouprodukte sal uiteindelik baie moeilik die eindbestemming bereik. Die regering sal – in belang van die land se inwoners – ernstig moet besin om die regulasies wat kos van mense weghou, te laat vaar.

“Ons wil ons lede egter aanmoedig om steeds dinamies en volhoudend voort te gaan om soveel as moontlik te help,” sê hy. “TLU SA se uitvoerende komitee het tydens ‘n kuberkonferensie weer ons verbintenis tot hierdie saak bevestig en dank uitgespreek oor die bydraes wat tot die Traumafonds gemaak word.”

Boere word opnuut versoek om vas te stel hoe voedsel beskikbaar gestel kan word by plekke waar dit binne die veiligheidsmaatreëls en prakties is om te lewer.

Bydraes tot die Traumafonds – ‘n art.18-instellling – is welkom.

Bankbesonderhede:  TLU Traumafonds
ABSA
Rekeningnommer 405 168 9914
Takkode 632005

Bron: TLU SA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0