TLU SA stel veldtog bekend om veiligheidsuitgawes belastingaftrekbaar te maak

cctv-1144366_1920
Foto: Pixabay
TLU SA het vandag ‘n veldtog bekendgestel om die Belastingwet so te verander dat alle Suid-Afrikaners enige veiligheidsuitgawes teen belasting kan verhaal.
Afdeling 23(b) van die Belastingwet verhoed Suid-Afrikaners om veiligheidsuitgawes van inkomstebelasting af te trek. Hoewel besighede reeds sodanige uitgawes kan aftrek, wil TLU SA met hierdie veldtog spesifiek daarop fokus om verbruikers – as deel van die landbou waardeketting – ook hierdie noodsaaklike voordeel te bied.
TLU SA het ‘n lys saamgestel van noodsaaklike uitgawes wat elke huishouding in Suid-Afrika van belasting behoort te kan verhaal:
- veiligheidsmure;
- sekuriteitskameras;
- alarms;
- elektriese omheining;
- lemmetjiesdraad;
- waghonde;
- 24-uur monitering en gewapende reaksie dienste;
- huisversekering;
- ander tuissekuriteitsmaatreëls en -toerusting; en
- uitgawes verwant aan die onderhouding van bogenoemde items.
Die lys sal aangepas word soos wat TLU SA terugvoer ontvang oor bykomende veiligheidsuitgawes.
“Talle Suid-Afrikaners se vryheid is al aangetas omdat hulle slagoffers van misdaad was,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Die Grondwet vereis dat die staat ons beskerm teen sulke aanvalle. Dat die staat geheel en al hierin misluk het, is ooglopend deur net na die staat se eie statistiek te kyk.”
Volgens StatsSA (Statistieke Suid-Afrika) is huisbraak of diefstal die nommer een misdaad in Suid-Afrika. ’n Beraamde 1,2 miljoen gevalle van huisbraak het in die 2019/20 statistiese jaar plaasgevind, en 891 000 huishoudings in ons land geraak. Suid-Afrikaners wat in afgeleë gebiede bly, soos dié op plase, is besonder kwesbaar, aangesien hulle ver weg van enige vorm van bystand bly.
“In die lig van die uiterste gevaar waarin Suid-Afrikaners daagliks verkeer, is dit skandelik dat veiligheidsuitgawes wat deur die belastingbetaler aangegaan word om hulle woning te beveilig, nie van hulle inkomstebelasting afgetrek kan word nie,” sê mnr. Geldenhuys.
Volgens Afdeling 77 van die Grondwet het slegs die minister van finansies – mnr. Tito Mboweni – egter die mag om die bogenoemde wysiging in werking te stel.
“Ons doen ’n beroep op alle vredeliewende Suid-Afrikaners, ongeag van ras, geslag of politiese oortuigings, om met een stem by ons aan te sluit en te eis dat die minister die wet wysig sodat ons onsself kan beskerm,” versoek mnr. Geldenhuys.
Enigiemand kan hierdie petisie deur TLU SA se platform ondersteun deur ‘n e-pos direk aan Minister Mboweni te stuur by hierdie skakel: https://www.tlu.co.za/vryheid-teen-misdaad/.
Bron: TLU SA