TLU SA: "Ons boer steeds ten spyte van die regering, nie danksy hulle nie"
Landbou het sedert die bewindsoorname in 1994 een van die ANC-regering se belangrikste politieke speelballe geword. Deesdae word die bal so vinnig heen-en-weer rondgegooi dat kommersiële landbou moet bontstaan om homself tydens hierdie strydlustige spel te verdedig.
Die ANC-regering voel dat hulle ’n beweerde wanbalans van die verlede moet uitwis terwyl kommersiële landbou probeer om in alle redelikheid, voedselsekerheid en die voortbestaan van die boer te waarborg.
Die jongste ANC-maneuver is natuurlik die afkondiging van Wet 17 van 2014 wat op 1 Augustus in wer-king gestel is. Kortliks bepaal die wet dat die beginsel van gewillige koper / gewillige verkoper geskrap word. Dit is natuurlik een van die beginsels van ’n vryemarkstelsel en een van die pilare waarop ’n volwaardige demokrasie funksioneer wat nou weggekalwe word.
Dit is ’n voldonge feit dat die ANC ’n klaaglike mislukking van grondhervorming gemaak het en dat dit nou ontaard het in politieke opportunisme om ’n krimpende kiesertal te probeer terugwin.
Die feit dat daar geen erns gemaak word met ’n volledige grondoudit om te bepaal of die 30% grondhervor-mingsteiken reeds bereik is nie; die feit dat die oorgrote meerderheid van grondhervormingsprojekte misluk het en in korrupsie gehul is en dat die regering reeds in die omgewing van R30-miljard in die water gegooi het in hulle grondhervormingspoging, word baie stil gehou.
Volgens Henk van de Graaf, kommunikasiebestuurder van TLU SA, het die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika in 2001 bepaal dat slegs 41% van alle grond in wit hande is. Die vraag is in wie se hande was die ander 59% destyds en hoe lyk die syfers vandag?
“Wat wel waar is, is dat die oorgrote meerderheid van sogenaamde voorheen benadeeldes wat uit eie inisiatief grond bekom het, wel vandag ’n sukses daarvan maak. Die anderkant van die munt is dat die oorgrote meerderheid van sogenaamde voorheen benadeeldes wat deur middel van ‘hand outs’ grond bekom het, ’n mislukking daarvan gemaak het. Dit sê baie van grondhervorming…,” sê Henk.
Louis Meintjes, president van TLU SA, het onlangs ’n fyn beredenerende, ope brief aan die ANC se sekretaris-gene-raal, Gwede Mantashe, gestuur en hom duidelik laat verstaan dat kommersiële boere hier is om te bly en dat daar nie oor hulle geloop sal word nie. Die brief is so goed in landbou-kringe aanvaar dat Louis ’n tweede brief aan die kommersiële boere van Suid-Afrika geskryf het.
“Ek is seker ons hoef nie alle bedreigings teen ons op te noem nie. Tans skyn die grootste bedreiging uit regeringskringe te kom, wat van landbou en besitreg ʼn politieke speelbal wil maak ter wille van sy eie gewildheid. Die beleidsvoorstelle wat van hulle kant af gemaak word, of reeds in wetgewing vasgelê is, is absoluut sosialisties en druis in teen die beginsels van die vryemark. TLU SA stel dit duidelik dat landbou en private besitreg deel is van die land se ekonomie, en dat die ekonomie juis versterk word deur die vryemarkstelsel,” sê Louis.
Hy het ’n paar beginsels genoem waaroor boere moet besin. TLU SA glo dat die beginsels wat behoort te geld, insluit:
• Die vryemark moet dien as grondslag vir ekonomiese bedrywighede, ten einde ekonomiese groei te verseker. Daarsonder is nog meer werkloosheid, armoede en ellende Suid-Afrika se voorland.
• Private besitreg is ononderhandelbaar omdat dit die grondslag vir besparing en beleggings is, wat nodig is om die ekonomie te stimuleer.
• Ondernemerskap moet aangemoedig word, eerder as om dit deur wette, regulasies en voorskrifte te ver-smoor.
• Deeglike opleiding en hoëklas opleidingsgeriewe is noodsaaklik om ʼn kundige en vaardige arbeidsmark daar te stel.
• Veiligheid van boere as voedselprodusente is ʼn ononderhandelbare verantwoordelikheid van die staat, en daarvoor is dit noodsaaklik dat bekwame mense aangestel word wat korrupsie- en misdaadvry is.
• ʼn Stabiele en gesonde beleids-omgewing is noodsaaklik om gemoedsrus vir die landbougemeenskap te verseker en vertroue by noodsaaklike beleggers te kweek.
“Ons boer steeds, nie danksy ʼn regering nie, maar ten spyte van ʼn regering. Ons oproep aan u is om daarmee voort te gaan, wetende dat ons daarvoor die krag kry van dieselfde Hemelse Vader wat ook vir ons die reëns op ons tyd gee, sodat ons kan boer,” sê Louis in die brief.
“Maar die oproep daarmee saam is om u gewig in te gooi by georganiseerde landbou. Ons kan dalk nie getel word nie, maar in terme van ons ekonomiese aktiwiteite kan ons beslis geweeg word. Kom ons maak georganiseerde landbou se mandjie vol en swaar van ons betrokkenheid, sodat ons u belange, en dié van die land, daardeur die beste kan dien!”
TLU SA se jaarlikse kongres vind vanjaar op 1 September by die WNNR se Internasionale Konferensiesentrum in Pretoria plaas.