Tegnuus: Die nuutste in landboutegnologie van regoor die wêreld
Mag die beste robot wen!
Future Farming (‘n media-onderneming) en World FIRA (International Forum of Agricultural Robotics) gaan in Februarie die belowendste landbourobot by ‘n skou in Toulouse, Frankryk, aanwys. Dit is die tweede jaar van die wedstryd en uit twaalfmaandelikse aanspraakmakers is die volgende vyf masjiene gekies om mee te ding vir die titel: Landbourobot van die Jaar. (Bron: Future Farming)
Digital workbench Tipard 1800
Tipard 1800 is ‘n outonome multi-draerplatform vir die outomatisering van primêre bewerkings soos saai, bemes, onkruid- en plaagbeheer en oes. Afhangend van die werk wat gedoen word, kan die batterye tot twaalf uur hou and dan kan oorgeskakel word na diesel. Die hoofraam het sewe modulêre subraamruimtes wat toegerus kan word met verskeie dieselenjins tot 40 kW, bykomende brandstoftenks, batterymodules met tot 56 kWh batterykapasiteit, ‘n driepunthaak of verskeie sensoreenhede. Daar is vyfwerktuigopsies.
Andela Robot Weeder ARW-912
Die ARW-912 is ‘n volledig geoutomatiseerde onkruid-dodermasjien met twaalf onkruideenhede en ‘n werkwydte van nege meter wat geskik is vir rygewasse. Elke eenheid het ‘n kamera wat die onkruid opspoor en die gekoppelde robotarm beheer, wat die onkruid doodbrand sonder om die grond te versteur of gewenste plante te benadeel. Die beeldherkenningstelsel kan onkruid vanaf ‘n baie vroeë stadium opspoor en doodmaak. Die masjien kry sy krag van sonpanele, word elektries aangedryf en loop op spore met RTK-GPS-beheer. Die ARW-912 kan 24/7 gebruik word en teken al die data op met beelde soos hy vorder.
Ekobot WEAI
WEAI werk met hoë presisie wat veral belangrik is vir groenteverbouing. Die robot het meganiese arms en ‘n skoffelstelsel om onkruid in die rye te verwyder. Só verminder jy ook die gebruik van onkruiddoder sodat die boere hulle koste kan besnoei en bydra tot ‘n gesonder omgewing. Toetse in Swede het getoon dat die robotstelsel kan bydra tot hoër opbrengste in vergelyking met konvensionele verbouing met onkruiddoder. Die robot gebruik RTK-GPS om met presisie van 2 cm te navigeer.
Tensorfield se Landbou-Jetty
Jetty voer giflose presisie-onkruidbeheer uit in hoëdigtheid-rygewasse soos wortels en stingeluie. Dit identifiseer onkruid tussen gewasse deur rekenaarbeelde te gebruik. Dit spuit dan ‘n mikrodosis organies-goedgekeurde groente-olie met ‘n hoë temperatuur op die onkruid om dit dood te maak en gewasse te laat floreer. Volgens Tensorfield lewer Jetty die vinnigste, mees kostedoeltreffende metode om ‘n presiese dodelike dosis hitte-energie op ‘n onkruid te plaas vir na-opkoms onkruidbeheer.
Tortuga AgTech F en G
Tortuga se platform kombineer kunsmatige intelligensie (KI) en doelmatige ontwerp vir bedrywighede in boorde. Die robot is hoofsaaklik ontwerp vir oes, maar kan ook data vir opbrengsvoorspellings insamel, plante met UV-C-lig behandel en snoei. Die robotte het ‘n outonome basis wat open af in die ry beweeg en twee arms wat vrugte identifiseer en pluk. Die robot se KI gebruik byna twintig “modelle” om plukbesluite te neem, maak staat op gevorderde sagteware om met twee arms gelyk te pluk en in die rye te navigeer.
In ander nuus: John Deere reik na die sterre
Deere & Company het ‘n ooreenkoms met SpaceX aangegaan om satelliet-kommunikasie (SATCOM)-diens aan boere te lewer. Deur gebruik te maak van die Starlink-netwerk sal hierdie oplossing boere wat sukkel met kommunikasie in die platteland bemagtig om presisielandboutegnologieë te benut.
“Die waarde van elektroniese verbinding is breër as enige enkele taak of aksie. Dit ontsluit groot geleenthede wat voorheen beperk of nie beskikbaar was nie,” sê Aaron Wentzel, visepresident van Produksie en Presisiestelsels by John Deere. “Boere moet byvoorbeeld regdeur die jaar take binne uiters kort tydperke voltooi. Dit vereis die uitvoering van ongelooflik presiese produksiestappe terwyl verskillende masjiene gekoördineer en masjienprestasie bestuur word. Elkeen van hierdie take word verbeter deur kommunikasie, wat die hele operasie doeltreffender en winsgewender maak.”
Die SATCOM-oplossing sal beide nuwe en bestaande masjiene verbind deur middel van satellietinternetdiens en robuuste satellietterminale. Dit sal tegnologieë soos outonomie, intydse deel van data, afstanddiagnostiek, verbeterde selfhersteloplossings en masjien-tot-masjien-kommunikasie ten volle moontlik maak, wat boere help om doeltreffender te werk terwyl staantyd tot die minimum beperk word.
“John Deere is al meer as twee dekades in die landboutoerustingbedryf met satellietgegronde presisievoorligtingstegnologie,” sê Jahmy Hindman, senior visepresident en hooftegnologiebeampte by John Deere. “Nou bring ons satellietkommunikasiediens op skaal na die plaas sodat boere met gebrekkige sellulêre dekking die waarde van kommunikasietegnologie kan benut.”
John Deere se SATCOM-oplossing sal SpaceX se Starlink-satellietinternetopstelling benut. Om hierdie oplossing te aktiveer, sal John Deere-handelaars Starlink-terminale op versoenbare masjiene installeer, asook ‘n 4G LTEJDLink-modem om die masjien aan die John Deere Operasionele Sentrum te koppel. Die SATCOM-oplossing sal aanvanklik beskikbaar wees deur ‘n beperkte vrystelling in die Verenigde State en Brasilië wat in die tweede helfte van 2024 begin.
Ongelukkig vir Suid-Afrikaanse boere kan dit ‘n geruime tyd duur voordat Starlink in hierdie land verwelkom sal word.