Tap glad en lekker met die regte tapkar

tapkar 1
Strooptyd moet alles seepglad op die plaas verloop. Graan moet vinnig, skoon en doeltreffend van die landaf gehaal en weggery word. Elke ding moet presies reg verloop sodat geen operateurs of toerusting hoef te wag nie. In hierdie proses is die tapkar ’n sleutelrolspeler.
Die tapkar is ’n tenksleepwa wat deur ’n sterk trekker gesleep word en wie se werk dit is om met die gestroopte graan van die stropers af na die wagtende vragmotors of sleepwaens te draf sodat dit wiggery kan word.
Die Engelse noem hom ’n transfer wagon, auger wagon, haul-out bin, grain cart, chaser bin of debulking trailer, en ’n ding wat so baie name het moet noodwendig belangrik wees. Wanneer die stroper se tenk vol is, moet die tapkar gereed wees om langs hom in te val. Die stroper se awegaar pomp die graan in die ry uit die stropertenk in die tapkar se pens oor sodat die stoopproses glad nie onderbreek word nie. Sodra hy vol is, spring die tapkar weg na die wagtende sleepwa of vragmotor en verplaas sy vrag graan met sy eie awegaar daarin. Daarna spring hy om om sy volgende vrag by die stroper te gaan haal.

As die tapkar sy werk reg doen, kan die stroper sonder onderbreking bly stroop, selfs terwyl hy graan na die tapkar oorpomp. Maar as ’n stroper met ’n vol pens vir ’n tapkar moet staan en wag, of as ’n kontrakteur se ry vragmotors tot by die teerpad begin opdam net omdat ’n steeks tapkar nie die mas kan opkom nie, is strooptyd alles behalwe ’n soet ervaring.
Daarom kies die wyse boer van die begin af die tapkar wat sy man kan staan. Die regte tapkar vir die taak moet pas by die grootte van die stroper wat hy gaan bedien, by die afstand wat hy sal moet draf en by die boer se beplanning van die stroopproses. ’n Tapkar se opening bo moet groot en wyd genoeg wees dat graan vanaf die stroper in die ry sonder vermorsing na die tapkar oorgeplaas kan word. Die regte tapkar is stewig gebou om sy swaar vrag sonder meegee of verniel uit die land te ry.

Sy trekstang moet sterk en stewig wees, sy aste moet sy vrag soos ’n man kan dra en sy wiele moet groot en breed wees sodat hy nie die land onnodig vastrap of maklik in los grond vasval nie. Daar is selfs dubbelasopsies om grondverdigting en vasval nog verder uit te skakel. Sy bande moet taai genoeg wees sodat mieliestoppels nie daardeur kan steek nie.
Wanneer die tapkar langs die land by die sleepwa of vragmotor kom, moet hy sy vrag vinnig en flink oorpomp sodat hy, voordat die volgende stroper vol is, gereed kan wees vir sy volgende vrag. Daarvoor moet sy bak so ontwerp wees dat enige soort graan maklik na onder vloei en nie teen die kante vassteek nie.
Die meeste tapkarre se uitpompmeganisme werk vandag met awegare, maar daar is ook tapkarre met bakkieskettinghysers. Elke boer moet maar vir homself besluit of die bakkieshyser vinnig en betroubaar genoeg na sy smaak werk.
Wanneer jy ’n tapkar koop, moet jy na gelang van jou eie omstandighede besluit of die tapkar se awegaar heeltemal moet kan wegvou om in jou skuur te kan pas, of dit star kan wees en of dit met ’n verlengstuk vir hoër vragmotorbakke toegerus moet kan word. Daar is ook ’n keuse of die awegaar deur die trekker se kragaftakker aangedryf word of met ’n hidrouliese motor. Die voordeel van hidrouliese aandrywing is dat die uitpompproses minder afhanklik van hoë enjinomwentelinge is en dat die

operateur nie ’n kragaftakkeras in ag hoef te neem as hy skerp draaie wil uitvoer nie, maar die trekker moet na-tuurlik die nodige hidrouliese aftappunt en vloei hê om die hidrouliese pomp na behore aan te dryf.
Sommige vragmotors en sleepwaens se bakke is hoog. Daarom moet ’n tapkar se uitlaai-awegaar hoog genoeg kan bykom om sy vrag oor die vragmotorrand te stort.
Soos met enige ander landbouwerktuig, is die finale oorweging by die keuse van ’n tapkar of dit deur ’n betroubare verskaffer wat die boer se saak verstaan voorsien en met flink naverkoopdiens gerugsteun word.

.jpg)