Tabakboere floreer ten spyte van onwettige verbod

tabak1
In Suid-Afrika word twee soorte tabak geproduseer wat onderskeidelik in sigarette en in pyptabakprodukte gebruik word. (Foto: Pixabay)
deur Tisha Steyn
Tabakboere in die Wes- en Oos-Kaap, wat as ՚n eenheid bestuur word, het nie blywende skade gely weens die inperking op die verkope van tabakprodukte van 27 Maart tot 18 Augustus 2020 nie.
Die 29 tabakboere van Graaff-Reinet tot in Oudtshoorn se produksie is goed op koers. ՚n Verhoging in produksie van die huidige 536 ton na 732 ton gedurende die 2022/23-oes word vir hierdie gebied beplan. Dié gebied verteenwoordig tans 20% van die nasionale produksie.
In Suid-Afrika word twee soorte tabak verbou, naamlik oonddroogtabak, wat vir die vervaardiging van sigarette verbou word en die meeste tot aksynsbelasting bydra, en lugdroogtabak wat plaaslik vir pyptabakprodukte gebruik word en waarvan sowat 35% van die oes uitgevoer word.
Verbod bevoordeel sluikhandel

Die staat het die verbod op die verkoop van sigarette en ander tabakprodukte in Maart 2020 ingestel en aangevoer dat dit ՚n poging was om die verspreiding van die SARS-CoV-2 virus, wat Covid-19 veroorsaak, te probeer keer.
Die verbod het daartoe gelei dat die aantal rokers in die land met tussen 9 en 15% afgeneem het. Diegene wat nie heeltemal ophou rook het nie, het minder sigarette gerook – van sowat agt per dag tot sowat ses-en-՚n-half per dag. Nadat die verbod opgehef is, het die aantal sigarette wat gerook word onmiddellik opgeskiet tot bykans nege per dag.
Die verbod het die staat egter meer benadeel as die rokers wat in elk geval sigarette ten duurste deur die florerende sluikhandel bekom het, terwyl na raming R5,8-miljard nie die SuidAfrikaanse Inkomstediens (SAID) se koffers bereik het nie.
Die appèlhof in Bloemfontein het op 14 Junie vanjaar beslis dat Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, se verbod op die verkoop van tabakprodukte tydens die inperking ongrondwetlik en ongeldig was. Sy moet boonop die koste van dié hofsaak dra.

Die appèlhof het die beslissing van ՚n laer hof bekragtig dat die regering verkeerd opgetree het deur die verbod op die verkoop van sigarette in Maart 2020 af te kondig terwyl daar geen wetenskaplike regverdiging vir die verbod was nie.
“Die enigste persone wat by hierdie verbod baat gevind het, was dié wat by onwettige handel van sigarette betrokke was,” het dr Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai, op 14 Junie in ՚n mediaverklaring gesê.
Sluikhandel nog sterker
Jaco Malan, besturende direkteur van Universal Leaf South Africa (ULSA), wat op pyptabakprodukte fokus, beklemtoon dat die omstrede verbod die sluikhandel se vastrapplek in die mark verder verstewig het.
“Ten spyte van die onlangse beslagleggings aan die vervaardigingkant van die bedryf, is die effek nog groot en ՚n bedreiging vir wettige handel. Die bedreiging vir die lugdroogtabak wat in die Oos- en Wes-Kaap geproduseer word, is die goedkoop sigarette wat algemeen, en veral in Oudtshoorn, beskikbaar is. Dit sluit ook die beskikbaarheid van goeie vervalsings van alle pyptabakprodukte in wat op die swartmark beskikbaar is.”

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se Sindikaatbelasting- en Doeane-afdeling het in April vanjaar inspeksies en soek-en-beslagleggings op verskeie entiteite in onder meer die sektore tabak en sigarette, alkohol, goud, klerasie en Hy sê tabak vaar tans baie goed in die Wes- en Oos-Kaap. “Tabakverbouing gee stabiliteit in boerderye. Nettomarges in die Kaap was veral baie goed, aangesien die boere spesifiek die afgelope twee jaar tabak van hoë gehalte geproduseer het.”
Volgens hom was die tabakbedryf tydens Covid-19 in staat om op produksievlak te funksioneer. “Aanvanklik is die afset benadeel aangesien vervaardigers nie produkte kon vervaardig nie en dus aankope van onverwerkte tabak beperk het. Die oes moes verklein word om die balans tussen vraag en aanbod te behou. Dit het goed gewerk en die bedryf het nou genormaliseer.”

Hy sê boere se produksie is tydens die laaste twee seisoene effens ingeperk om die mark te beskerm. “Markvooruitsigte lyk steeds goed, maar produksie word noukeurig beplan om nie die seisoen se aanvraag te veel te oorskry nie. Die kwotavolume vir die 2022/23-oes word nasionaal met ongeveer 20% verhoog.”
Uitdagings
Boere se prestasie ten opsigte van gehalte en opbrengs het oor die afgelope drie jaar baie verbeter. “Die gehalte was veral hoog gedurende die afgelope oes, maar die opbrengspotensiaal is nog nie bereik nie.”

Insetkoste is steeds ՚n groot uitdaging, veral vir die volgende oes weens die buitensporige toename in veral kunsmispryse en die koste van energie soos diesel en elektrisiteit.
“Suid-Afrika produseer ՚n nis-tipe lugdroogtabak wat gesog is onder vervaardigers van spesifieke produkte, en solank hierdie gehalte produseer word, sal die bedryf gesond bly. Verskillende sigaarstyle word tans ook met groot sukses beproef.”
Nuwe wet
Die kabinet het pas ՚n langverwagte wetsontwerp op die beheer van tabakprodukte en elektroniese sigarette (vaping) goedgekeur vir voorlegging aan die parlement. Dit is nie seker hoe die nuwe wette die gebruik van tabakprodukte gaan beïnvloed nie.
Die wetsontwerp stel onder meer 100% rookvrye binne- en sommige buite-gebiede voor; ’n verbod op die verkoop van sigarette deur verkoopsmasjiene, strenger voorskrifte en reëls vir verpakking van sigarette en vir waarskuwingsborde.

Die wetsontwerp poog ook om e-sigarette wat nie tabak nie, maar wel nikotien bevat, te reguleer. Tans het die staat geen beheer oor die verkope en gebruik van daarvan nie, en kommer heers oor die toenemende gebruik daarvan deur jongmense.
Die nuwe wetsontwerp is glo daarop gemik om openbaregesondheidsmaatreëls te versterk in ooreenstemming met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se raamwerk-konvensie oor die beheer van tabak.
Kontakbesonderhede
Kontak Jaco Malan by malanj@universalleaf.com
Verwysingsbronne
Appelhof-uitspraak https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/3505/e5b0c4bcbf794dbdb1b9fefa782f983d.pdf
Oosthuizen, J. (2022) Nuwe wet wil rokers verder inperk. Voertaal https://voertaal.nu/nuwe-wet-wilrokers-verder-inperk/
Phillips, L. (2022) Appèlhof gee Dlamini-Zuma, Ramaphosa pak slae oor tabakverbod Landbou.com
https://www.landbou.com/landbou/nuus/appelhof-gee-dlaminizuma-ramaphosa-pak-slae-oortabakverbod-20220615
SARS voer soek-en-beslaglegginsoperasies uit in verskeie sektore. (2022) SARS https://www.sars.gov.za/wp-content/uploads/Docs/Translations/MediaReleases/2022/April/Media-release-SARS-carries-out-search-and-seizure-operations-in-various-sectors-updateon-8-April-2022-Afrikaans.pdf