Stroperverkope is hoër as verlede jaar

DSC_0422
Trekkerverkope van 515 eenhede in Maart, is byna 19% meer as die 434 eenhede wat verlede Maart verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope ongeveer 4% laer as verkope vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Stroperverkope van 23 eenhede is ongeveer 64% meer as die 14 eenhede wat verlede Maart verkoop is. Stroperverkope vir die jaar tot dusver is byna 12% hoër as verlede jaar.
Die beter verkope vir die maand weerspieël die huidige goeie someroesvooruitsigte. Met die mielie-oes wat nou geraam word op 14,3 miljoen ton, sal die oes waarskynlik die grootste wees sedert 1981. Hoewel gewaspryse onder druk word weens die uitstekende oesvooruitsigte, kon boere voorraad wat vroeër bekom is teen die rand wat toe sterker was, nou teen goeie pryse aankoop. Daar word verwag dat die korttermynvooruitsigte vir die verkope van landboumasjinerie waarskynlik goed sal bly. Die baie onlangse daling in die waarde van die rand gaan egter weer die pryse van toerusting opwaarts dwing. Dit sal waarskynlik die mark teen die middel van die jaar begin beïnvloed.
Volgens ramings vir 2017 behoort algehele trekkerverkope minstens so goed te wees as verkope in 2016.
Bron: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie