Categories: NewsPublished On: 15th January 2016

Statistiek bewys Vrystaat plaasaanvalle neem toe in 2015

By 2 min read
488 words

Vrystaat-Landbou-logo-275×275

Daar is ’n drastiese toename in misdaad in die Vrystaat. VKB/VL Veiligheidslessenaar se statistiek oor landelike misdaad in die Vrystaat bevestig daar was 79 plaasaanvalle in 2015 in vergelyking met 36 in 2013 en 52 in 2014.

Daar is volgens VKB/VL Veiligheidslessenaar in 2015 altesaam 22 moorde op plase  aangeteken, waarvan 14 glo plaaswerkers en kinders was. In 2014 is hulle syfer 24 moorde, waarvan 15 werkers was, terwyl 28 moorde in 2013 gepleeg is waarvan 23 op werkers was.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se Wet en Ordekomitee, sê: “Die toename in plaasaanvalle is kommerwekkend, veral aangesien landelike polisiestasies probleme ervaar met die beskikbaarheid van voertuie en arbeid.”

Die organisasie sê hy plaas deurlopend druk op die polisie se topstrukture om tekortkominge in landelike gebiede daadwerklik op te los. Een vraagstuk is die daarstel van ’n intelligensiestruktuur deur die staat en polisie om saam met landelike gemeenskappe en georganiseerde landbou meer te doen om plaasaanvalle te voorkom.

Volgens die statistiek is daar ook ’n toename in huisrowe op plase, wat aansluit by die Polisie se statistiek van September 2015. Aangesien daar ’n duidelike toename in aanvalle op die landbougemeenskap, hulle gesinne en werkers is sedert 2013, moet die regering en die polisie ernstige stappe begin doen om te keer dat dit hierdie jaar vererger.

Die Vrystaat bestaan uit 76 dorpe met boerderygemeenskappe, waarvan 26 in 2013, 35 in 2014 en 50 in 2015 aanvalle beleef het. Die meeste aanvalle in die Vrystaat was in Bloemfontein.

Meeste aanvalle van 2013 tot 2015 het in die maande van April en Mei plaasgevind met die tweede meeste aangeteken gedurende Januarie. Meeste van die aanvalle (47%) vind in die dag van 06:00 tot 18:00 plaas, terwyl 33% van die voorvalle tussen 18:00 en middernag plaasvind. Die minste voorvalle (20%) is tussen middernag en 06:00 aangeteken. Boere moet dus in die dag meer op hulle hoede wees. Die meeste aanvalle (51,43%) vind op Sondae tot Dinsdae plaas. Daar is ook aanduidings dat misdadigers in groter groepe rondbeweeg.

Tommie het na aanleiding van die statistiek’n versoek aan boere gerig om hulle werkers by hulle veiligheidsplanne in te sluit “aangesien die statistiek ’n klemverskuiwing na plaaswerkers aandui, wat nog sagter teikens is. Soos met landbouers die geval is, kan die verlies van plaaswerkers ook op die ou end voedselsekerheid beïnvloed.”

Dit wil voorkom of groter betrokkenheid en inskakeling van boere by die Landelike Beveiligingsplan en veiligheidstrukture paraatheid opskerp, aangesien slegs 14,5% van sodanige landbouers slagoffers was van aanvalle in 2015. Vrystaat Landbou versoek boere om betrokke te raak by hulle plaaslike veiligheidstrukture.

Vrystaat Landbou beweer hulle veiligheidstrukture het in samewerking met die polisie in 2015 meer as 10 plaasaanvalle voorkom, dus is daar beter samewerking tussen landbouers en die polisie. “Gegewe die tekortkominge wat by die polisie bestaan, het optrede en samewerking tussen veiligheidstrukture en die polisie noodsaaklik geword,” meen Tommie.

Die polisie het hulle glo ook voorgeneem om tydens 2016 elke tweede maand blou-/witligoperasies in die provinsie te hou.

Die VKB/VL Veiligheidslessenaar is glo tans ook besig met “uitgebreide navorsing” oor die oorsake van plaasaanvalle in die Vrystaat om te bepaal hoekom boere geteiken word.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0