Springbokslot beur voort met boerdery … en Agrico sorg vir sukses

DSC_0003 (1)
‘n Liefde vir die land en vir boerdery
Bakkies Botha, ‘n naam sinoniem met talent en deursettingsvermoë op die rugbyveld, het nie net een passie in hierdie lewe nie. Net so diep, self dieper as dié vir rugby, loop sy liefde vir boerdery. Vir Bakkies is boerdery nie net ‘n beroep nie. Dit is ‘n leefwyse; ‘n roeping wat hom verbind aan ons Skepper en die grond van ons pragtige land. Sy hart klop vir die ryk, vrugbare landerye en die landbougemeenskap van Suid-Afrika.
“Met my rugbyloopbaan was ek die wêreld vol gewees en het ek verskeie lande gesien, en steeds het ek oor en oor besluit om terug te kom Suid-Afrika toe. Mense vra my hoekom. En daar is net een rede… die mense!”
Van rugbyveld tot mielielande
Ná ‘n legendariese rugbyloopbaan het Bakkies ‘n nuwe uitdaging aangepak: die wêreld van boerdery. Alhoewel dit op eerste blik soos twee verskillende wêrelde mag lyk, het die twee beroepe baie in gemeen: harde werk, deursettingsvermoë, en ‘n diep respek vir tradisie en dissipline.
Boerdery is nie vir die floumoediges nie. Van droogtes en siektes tot die onsekerhede van markpryse is dit ‘n bedryf vol uitdagings, maar vir Bakkies is die belonings veel groter as die struikelblokke. Hy beskryf boerdery as ‘n konstante leerproses, waar elke dag ‘n nuwe uitdaging en ‘n geleentheid vir groei bied.
“Daar is niks wat vergelyk met die gevoel van tevredenheid wanneer jy jou oes stroop of die eerste reën van die seisoen sien val nie. Die reuk van nat grond gee vir my hoendervleis,” sê hy.
Een van die tien Agrico G3-spilpunte op die plaas buite Warmbad … en kyk net hoe lekker groei die mielies.
‘n Besige boerdery skedule met die ondersteuning van Agrico
Bakkies vertel: “Ons is besig met ‘n paar dinge in terme van die boerdery, en soos altyd het ek ‘n klompie ysters in die vuur. Dit sluit in die Beefmaster-stoeterye (B4 en V8 Beefmasters) in die Kalahari. Ek is ook deel van André Kock & Seun Limpopo, buite Warmbad, waar ek betrokke is by die voerkraal- en lewendehawebedryf saam met Paul van Vuuren sr. en Paul van Vuuren jr. Ons plant ook mielies en grondboontjies onder besproeiing om voer vir die veilingsdiere en voerkraal te voorsien.”
Op Andre Kock & Seun se plaas buite Warmbad besproei tien Agrico G3-spilpunte die voer. Bakkies meen dat jy weet waarvoor jy jouself inlaat en saam met wie jy werk as dit by spilpunte kom.
“Ons het ons huiswerk gaan doen en bietjie somme gemaak, waarna ons gaan aanklop het by die Agrico-span in Nylstroom, en vandag het ons tien G3-spilpunte hier op die plaas. Ons kon dit alles aanpak saam met ‘n plaaslike vervaardiger wat die pad saam met ons kon stap.
“Wat vir ons uitstaan van die G3-spilpunte is die beskikbaarheid van onderdele, en die feit dat hierdie spilpunt plaaslik vervaardig word. Indien daar foute of probleme is, word dit onmiddellik reggestel om staantyd te beperk en te verhoed,” sê Bakkies.
Wat het rugby en boerdery gemeen?
Bakkies se reputasie opgebou as ‘n speler wat nooit opgee nie. Dit is daardie selfde gees wat hy bring na die plaas.
“Boerdery is soos rugby,” sê hy. “Daar is goeie dae en slegte dae, maar jy moet aanhou veg, jy moet aanhou droom en nooit jou geloof verloor nie. Boerdery leer jou om nederig te bly en om te alle tye jou voete op die grond te hou.”
Bakkies vertel dat hy omtrent 90% van die lesse wat hy uit sy rugbyloopbaan geleer het, pas hy vandag toe in sy boerdery. “Om in ‘n span te kan saamwerk, wedersydse respek vir mekaar te hê en om ‘n “game plan” te hê. Jy ontleed altyd jou opponente, en boerdery is glad nie verskillend of anders is nie. Van dag een af moet jy ‘n plan hê.”
Bakkies se liefde vir die land is iets wat van kleins af by hom ingekerf is. Hy het grootgeword in ‘n gesin wat die waarde van harde werk en ‘n respek vir die natuur verstaan het. Hierdie lewenslesse het hy nie net op die rugbyveld toegepas nie, maar ook op die plaas, waar hy elke dag sy hande vuilmaak om die beste uit die grond te bring.
Vir Bakkies is boerdery ook ‘n manier om sy nalatenskap voort te sit. Hy wil sy liefde vir die grond en die boerdery-leefstyl aan sy kinders oordra. “Jou nalatenskap is so belangrik. Jy moet altyd ‘n plek beter los as wat jy hom gekry het, en ek dink in boerdery-aspekte spesifiek. Boerdery bly steeds een van die grootse suksesstories in ons land,” meen Bakkies.

‘n Groot gees met ‘n groot hart tussen sy mielies onder Agrico-besproeiing op die plaas.
‘n Hart vir die boeregemeenskap
Bakkies is nie net ‘n boer nie, maar ook ‘n ambassadeur vir die boeregemeenskap. Hy verstaan die uitdagings waarmee boere te doen kry, en hy gebruik sy platform om die hardwerkende manne en vroue wat ons land voed, te ondersteun. Hy is bekend vir sy motiverende boodskappe aan boere, waar hy hulle aanmoedig om moed te hou en nooit op te gee nie, ongeag die uitdagings wat voorlê.
Hy vertel: “In boerdery loop ons met ‘n gesegde saam: Die pad is baie langer as wat hy breed is. Ons is mense wat ‘n pad saam met vennote wil stap wat ‘n verskil maak en wat ook hier is vir die lange duur.”
Met sy besondere vermoë om mense bymekaar te bring, het Bakkies ‘n simbool van hoop en eenheid vir die landbougemeenskap geword. Hy glo dat boere die ruggraat van die land is en dat hulle ‘n sleutelrol speel in die voortbestaan van Suid-Afrika. “As boer het jy ‘n verantwoordelikheid teenoor die aarde, teenoor jou gemeenskap, en teenoor jou familie,” sê hy. “En dit is iets wat ek met trots dra.”
Bakkies is ook betrokke by HelpJag, waar hulle wildsvleis versprei na ongeveer 90 skole regoor die land en daarmee ongeveer 8 000 kleuters voed. Vir meer inligting oor hoe jy kan bydra en betrokke raak by hierdie inisiatief, besoek https://helpjag.co.za/.
