Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, NuusPublished On: 28th March 2025

Spekboomprojek vier 10de bestaansjaar

By 6 min read
1107 words

1

Hendrik Visser, GCBR se voorsitter, en André Britz klink ‘n glasie op die suksesse van die afgelope tienjaar. (Bron: Verskaf)

Jobs4Carbon (J4C) het pas sy tiende bestaansjaar gevier. Die prestasie is op 6 Maart 2025 by ‘n glansryke onthaal te Rooiberg Lodge in die Rooiberge naby Vanwyksdorp gehou om die projek, wat uit die aarde gegroei het tot een wat internasionale erkenning geniet, te vier.

“Dit was ‘n wonderlike geleentheid om J4C se sukses in heuglike omstandighede te vier,” sê André Britz, wat die projek sedert 2015 bestuur. Hy het meer vertel waarom die projek ‘n lewensaar vir dié dorpie in die Klein-Karoo is.

Internasionale erkenning stroom in en sluit in erkenning deur die Europese Unie, wat die projek aanvanklik befonds het, en dekking deur verskeie internasionale nuusberigte.  Conservation at Work se erkenning van J4C as die beste Veldrehabilitasieprojek van sy soort gedurende 2018 en dié bewaringsinstansie se Legendary Award aan André vir sy leierskap om die projek ‘n sukses te maak, gedurende 2024. “Dit was vir my ‘n riem onder die hart om die erkenning te kry, maar ek het die prysgeld net so aan J4C oorhandig,” vertel hy.

Liz Eglington, wat in die omgewing boer en wat een van die eerste boere was wat haar grond tot J4C se beskikking gestel het, het ‘n spesiale sertifikaat van erkenning vir haar voortgesette ondersteuning van dr Steve du Toit, uitvoerende direkteur van die Gouritz Cluster Biosphere Reserve (GCBR) ontvang.

Onder die gaste was ook ander grondeienaars wat by die projek betrokke is en wat hulle grond beskikbaar stel vir rehabilitasie, en ander verteenwoordigers van instansies wat ‘n rol speel in die projek. Dit sluit onder andere Hannes Muller van Landcare, Tom Barry, voorheen bestuurder van Gamkaberg, een van CapeNature se reservate wat nou betrokke is by Worldwide Fund for Nature (WWF).

Die gewaardeerde lede en oudlede van die J4C-span was ook teenwoordig en van hulle het opgetree as sprekers, asook die rol van seremoniemeester uitstekend vertolk.

Sukses

Internasionale erkenning vir die werk wat J4C doen is tekenend van die sukses wat met die projek bereik is. J4C het as projek onder die vaandel van die GCBR tot stand gekom. Gedurende Desember 2020 is die Jobs for Carbon projek onder leiding van André omskep in die Jobs4Carbon nie-winsgewende maatskappy (J4C NPC).

“Ons het die Jobs for Carbon-projek, wat op 1 Maart 2015 afgeskop het gevier,” vertel André. “Destyds is die projek in die lewe geroep om hoofsaaklik spekbome op verwaarloosde en wanbestuurde grond aan te plant. Wat ‘n 18-maande-projek sou wees, gaan steeds voort. Ons bedel nie meer vir borgskappe nie, die borge nader ons nou!”

Die sukses kan grotendeels toegeskryf word aan André se toewyding, wat nie net die mense wat saamwerk motiveer nie, maar ook bemagtig.

Daarvoor het ‘n mens geld nodig, nie net ter wille van die ideaal van grond- en veldrehabilitasie nie, maar ook die opheffing en bemagtiging van Vanwyksdorp se gemeenskap.

“Weens die toename van leefstylplase op grond waar boere nie meer volhoubaar kon boer nie, het al meer van die plaaslike werkers op Vanwyksdorp gaan woon. In 2015 was daar nie eintlik plaaslike besighede wat werk kon verskaf nie, en J4C het ‘n lewensaar vir die verarmde, werklose en hoofsaaklik onopgeleide mense verskaf.”

J4C doen steeds werk op plase wat deel vorm van die GCBR se biosfeerreservaat. Privaat eiendom word deur die GCBR bestuur met die oog daarop om ‘n biosfeer-korridor daar te stel wat die beweging van plant- en dierelewe normaliseer wat deur die jare deur grens- en binneheinings gefragmenteer is.

“Ons handhaaf goeie bande met die GCBR en het steeds dienslewering-ooreenkomste met die GCBR en grondeienaars wat daarby betrokke is. Maar ek het besef ons het ‘n groter inkomste nodig as wat die borge kan verskaf – die aanvanklike doelwit was immers dat J4C NPC uiteindelik selfonderhoudend kan wees.”

Die koste sluit onder meer administrasie, lone en salarisse, brandstof en die aankoop en onderhoud van toerusting in.

Huidige projekte

Die verwaarloosde Rietkraal privaat natuurreservaat geniet tans aandag. “Ons is besig met grondrehabilitasie en erosiebestuur deur middel van erosiedammetjies en -heinings,” verduidelik André. Daar word spekbome geplant, maar ook gefokus op die uitroei van indringerplante met die doel om die habitat se veldbedekking te herstel.

Indringerplante

Indringerplante soos Hakea, Basbome (Black wattle), Spaansriet en dies meer  wat verwaarloosde en oorbeweide veld oorneem, is ‘n groot probleem in die Klein-Karoo. Die indringerplante wat inheemse plantegroei verdring word met groot moeite en teen ‘n hoë koste verwyder deur die ongewenste plantegroei op privaat eiendom af te saag en die afgesaagde stamme met biologiese middels te verf om hergroei te voorkom.

Die plantegroei kom hoofsaaklik langs varswaterweë soos riviere en slote voor waar dit die kosbare water van die dorre Klein-Karoo opslurp ten koste van die inheemse plantegroei.

“Ons begroting vir die beheer van indringerplante is klaar goedgekeur,” sê André.

Verder doen hulle ook instandhoudingswerk aan infrastruktuur soos paaie en heinings op leefstylplase en op plase wat deur die WWF en CapeNature bestuur word.

“Ons saag bome af en saag die wat omgeval het op vir brandhout, wat verkoop word. Op sommige plase is ons besig om geëlektrifiseerde heinings op te rig om bobbejane van plaashuise af weg te hou. So beskerm ons die burgers van die berge, want almal het bestaansreg.”

Opleiding én opvoeding

Volgens hom is opleiding, opvoeding, onderrig van die werkers steeds uiters belangrik. “Ons gee nie net opleiding om hulle taak meer suksesvol en veilig te maak nie, maar beslis ook om hulle te bemagtig en hulle lewenstandaard op te hef.”

Tans bestaan J4C se span uit 62 mense op die grond en ‘n bestuurspan wat net uit myself as uitvoerende beampte en ‘n betaalmeester en boekhouer wat op ‘n konsultasiebasis werk.

“Ons glo aan die beginsel om die maksimum mense op die grond en die minimum bestuur van bo af te hê, maar wat ‘n doeltreffende en professionele diens kan lewer. Dissipline, veiligheid en die korrekte gebruik van toerusting soos kettingsae, is vir ons baie belangrik. Elke dag se werk skop af met Skriflesing en gebed en ‘n lesing oor die noodsaaklikheid van die korrekte veiligheidsklere, skoene en harde hoede en die veilige hantering van gevaarlike toerusting.

“Ons gee ook opleiding in  noodhulp en die identifikasie van giftige slange, skerpioene en spinnekoppe, en hoe om in ‘n noodsituasie op te tree. In al die jare was daar nog net een ongeval met slangbyt.”

Spekboomprojek

“Ons wag vir reën om nog spekbome te plant – daar is reeds 78 000 spekboomplantjies in die kwekery wat reg is om geplant te word.”

“Ons sien uit na 2025 want ons weet J4C het ‘n geweldige positiewe  invloed op die omgewing en die ekonomie van Vanwyksdorp se mense.”

Kontakbesonderhede

Kontak André Britz by  britzieaj@gmail.com of 072-062-8444

 

2

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

2