Solidariteit Helpende Hand wil seker maak boere het self kos op die tafel

solidariteit helpende hand
Solidariteit Helpende Hand het koopbewyse beskikbaar om boere te help om noodsaaklike middele aan te koop wat hulle nie self op die plaas het nie. Die ergste droogte in dekades het verreikende gevolge wat nog baie lank gevoel gaan word. Vir baie boere sal die eerste prioriteit wees om hulle vee aan die lewe te hou. Solidariteit Helpende Hand wil egter seker maak dat ons land se boere en hulle geliefdes nie onnodig swaarkry nie. Daarom het die organisasie geld beskikbaar gestel wat in die vorm van koopbewyse aan boere geskenk gaan word.
Boere wat hulp benodig moet asseblief met hulle naaste Helpende Hand-tak kontak maak of www.helpendehand.co.za/droogte besoek om ‘n aansoekvorm te verkry wat hulle moet invul en stuur na droogte@helpendehand.co.za of dit faks na 086-218-3216. Helpende Hand sal elke aansoek oorweeg om sodoende verdienstelike gevalle behulpsaam te wees.
Dr Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het sy organisasie se hulp aan die droogte-geteisterde boere bevestig: “Helpende Hand is diep besorg oor die humanitêre krisis wat onder ons boere op die platteland ontstaan het. Ons bied graag ondersteuning in die vorm van koopbewyse wat vir voedselaankope aangewend kan word.”
Volgens dr Brink is boere ’n steunpilaar in Suid-Afrika en hulle vorm ’n integrale deel van die land se ekonomie.
Hy het bevestig dat die hulp wat die organisasie bied slegs ’n druppel in die emmer is. “Boere is uit hulle aard van die eerste groepe mense wat inspring en help wanneer iemand hulp nodig het. Nou is dit ons beurt om te help. Die Helpende Hand Studiefondssentrum het ook reeds verskeie boere se kinders bygestaan met studielenings vir die 2016-akademiese jaar.”
Volgens Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, gaan die droogte ’n rimpeluitwerking op die ekonomie hê – voedselpryse styg, voedselinflasie neem toe en landbouskuld groei by die dag.
Helpende Hand moedig ander instansies aan om bydraes te maak aangesien die krisis drastiese gevolge vir die land se voedselvoorraad inhou en later die sakke van verbruikers ook gaan raak.
Help ons land se boere in hulle tyd van nood. Stuur die teksboodskap “boer” na 38969 en skenk R10 vir die fonds of doen ’n inbetaling in Helpende Hand se rekening met die verwysing – ‘droogte’.
Bankbesonderhede:
Solidariteit Helpende Hand
Bank: FNB
Rekeningnommer: 62 331 445 503
Tak: Centurion (takkode: 250 655)
Verwysing: Boer
Bron: Solidariteit Helpende Hand