Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 19th September 2018

So werk ’n grieweprosedure

By 3 min read
643 words

LWO 2

Christo Bester is die bestuurder van die Regsafdeling by die LWO Werkgewersorganisasie. Sy kwalifikasies sluit in ’n BProc- en LLM-graad in Handelsreg. Christo het verskyningsreg in die Hooggeregshof en het uitgebreide ervaring in verskeie aspekte van die reg met betrekking tot die sake-omgewing.

deur Christo Bester

Prosedures in die werksplek verwys na ’n vasgestelde of amptelike wyse waarop ’n situasie hanteer moet word en het ten doel om sowel die werkgewer as die werknemer in te lig oor die nodige stappe wanneer ’n spesifieke voorval plaasvind.

Dit is uiters belangrik dat die werkgewer interne kommunikasieprosedures vestig ten einde werknemers die geleentheid te gee om enige ongelukkigheid of onbevredigende werksomstandighede onder die werkgewer se aandag te bring. ’n Geordende en positiewe werksomgewing dra regstreeks by tot produktiwiteit.

Wat is ʼn grief?

’n Grief is enige gevoel van ontevredenheid by ’n werknemer met betrekking tot die werkgewer, werksomgewing, medewerknemers of enige ander aspek van die diensverhouding. Let wel dat ontevredenheid met betrekking tot diensvoorwaardes, vergoeding, die toepassing van dissipline of personeelvermindering nie as ’n grief geag word nie en dus nie deur die grieweprosedure gedek word nie.

Wie mag ʼn grief rig?

Elke werknemer, ongeag sy/haar posvlak, het die reg om ’n grief te rig sonder vrees vir viktimisering, rakende werksomstandighede wat die diensverhouding negatief beïnvloed. Wanneer ’n werknemer ’n grief rig, mag hy/sy bygestaan word deur ’n medewerknemer of verteenwoordiger.

Wat is die doel van ’n grieweprosedure?

Die doel van die grieweprosedure is om eerstens ’n harmonieuse werksomgewing te skep deur enige ontevredenheid of gevoel van onreg by ’n werknemer te identifiseer en op te los. Tweedens beskerm die grieweprosedure die werkgewer in gevalle van konstruktiewe ontslag. In so ’n geval sal die kommissaris by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) altyd vra of daar ’n grieweprosedure was wat die werknemer kon volg. Konstruktiewe ontslag verwys na wanneer ’n werknemer bedank as gevolg van onhoudbare werksomstandighede wat deur die werkgewer veroorsaak word.

So werk ʼn grieweprosedure:

Die prosedure verwys na hoe ’n grief hanteer moet word, asook die verskillende stappe indien die saak nie met die eerste stap opgelos kan word nie. Elke werksplek is uniek ten opsigte van werkswyses en uitdagings, daarom beveel ons die volgende stappe aan as ’n riglyn om te verseker dat ’n grief op ’n billike manier hanteer word:

Stap 1:

Die werknemer moet binne twee dae na die insident ’n grief skriftelik of mondelings aan die toesighouer rig. Indien die grief teen die toesighouer is, moet die werknemer die grief aan die assistent-bestuurder of volgende vlak van senioriteit rig.

Stap 2:

Indien die grief nie binne twee dae opgelos is nie, moet die grief amptelik verwys word na die assistent-bestuurder of die volgende vlak van senioriteit. Die werknemer mag ’n medewerknemer vra om hom/haar by te staan of te verteenwoordig.

Stap 3:

Indien die grief steeds nie binne twee dae opgelos word nie, moet die werknemer die grief na die bestuurder of volgende vlak van senioriteit verwys.

Stap 4:

Indien die grief nie opgelos word binne twee dae nie, moet die werknemer die grief na die werkgewer verwys. Die werkgewer moet die grief ondersoek en binne vyf dae ’n besluit neem. Die werkgewer se besluit is finaal en bindend.

Wees proaktief:

Maak seker dat daar ’n grieweprosedure in die werksplek in werking is en dat alle werknemers bewus is van die prosedure, asook elkeen se reg om ’n grief te rig. Beleid en prosedures word normaalweg saam met die dienskontrak in werking gestel wanneer ’n werknemer aangestel word. Indien nie, kan die werkgewer die beleid of prosedure bespreek tydens ’n vergadering met werknemers waar ’n bywoningsregister geteken word as bewys.

Maak seker dat griewe konsekwent, vertroulik, regverdig en spoedig hanteer word.

Dit is in die werkgewer se belang om werknemers aan te moedig om griewe te rig deur interne kommunikasieprosedures te volg, om ontevredenheid in die werksplek uit te skakel en te beperk.

Die grieweprosedure speel ’n baie belangrike rol in die werksplek om griewe intern te hanteer ten einde oplossings te vind wat vir albei partye aanvaarbaar is. Die verhouding tussen ʼn werkgewer en werknemer is gebaseer op wedersydse voordele en respek.

0

Deel hierdie artikel.

One Comment

  1. Anonymous 10th February 2026 at 16:07 - Reply

    Wat as die grief die wergewer insluit

Leave A Comment

0