Shell beloon sy onafhanklike verspreiders.
Dit sit nie in enige brandstof- en oliehandelaar se broek om die Shell-handelsmerk op sy winkelvenster te plak nie. Daarom het Shell met die goue gedagte vorendag gekom om aan sekere gekeurde onafhanklike verspreiders van sy produkte die geleentheid te bied om as Topverspreiders (Branded Distributors) onder die Shell-handelsmerk sake te doen. As deel van die geleentheid bied Shell ’n opleidingskursus aan om die verspreiders met bemarkingstegnieke en ander hulpmiddels toe te rus vir die groot taak wat op hulle skouers rus.
“Shell is een van die die mees waardevolle handelsmerke in die wêreld, en die gehalte van die persoon wat jy na jou kliënt stuur is derhalwe uiters belangrik. Ek en my span het besef dat ons met iets oorspronkliks vorendag moet kom om in Suid-Afrika se hoogs mededingende mark te bly groei en in ander dele van die wêreld gaan kyk om te leer,” sê mnr Anton Niemann, hoofbestuurder van Shell Suid-Afrika.

Anton Niemann, hoofbestuurder van Shell Suid-Afrika
“Hierdie verkoopsopleidingsprogram bied vir ons ’n voorsprong asook ’n platform om die diens en die ondersteuning te bied nadat die ouens aan die streng seleksiekriteria onderwerp is en die proses deurgegaan het om ’n Topverspreider van Shell te word,” sê hy.
”Die opleiding was ’n agt-maande program waarin daar drie temas is wat regdeur geloop het. Eerstens het ons gefokus op persoonlike ontwikkeling, tweedens het ons ’n struktuur ontwikkel om die verkoopsproses en gepaardgaande onderhandelinge te vergemaklik. Die derde tema was die persoonlike afrigting waar ek met elke verkoopspersoon ’n sessie in ’n werkswinkel deurgewerk het,” sê mnr John Paisley, onafhanklike raadgewer vir Shell wat gemoeid is met die opleiding van die verspreiders.

John Paisley, onafhanklike raadgewer vir Shell
En natuurlik moet ’n persoon erkenning kry as hy ’n kursus geslaag het.
“As die verkoopsverteenwoordigers van die Topverspreiders groei, dan groei Shell en ons hulle graag daarvoor vereer,” sê Réomè van der Westhuizen, Shell Suid-Afrika se bemarkingsbestuurder.
Op 3 Desember het Shell die jaarlikse prysuitdeling vir hulle onafhanklike verspreiders wat aan hulle opleidingskursus deelgeneem het, by Loribi Lodge gehou. Die verspreiders wat deelgeneem het, is Oilco in Durban, Moov Fuel en Lubricants in die Wes-Kaap, Auto Commodities in Krugersdorp, Sebokeng Fuels wat die noordelike gedeelte van die land bedien, Trimborn in Pietermaritzburg en Express Fuels in Oos-Londen. Hulle is in vier streke opgedeel, naamlik Wes-Kaap, Oos-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal.
Die ProAgri-span was ook daar om ’n video van die geleentheid te maak sodat die goeie herinnering vir ewig vasgelê kan word. Die gaste is vermaak met die ritmiese passies van ’n groep buikdanseresse, Dowwe Dolla se sosiale kommentaar en Wolfgang Riebe, ’n kulkunstenaar en motiveringspreker se kwinkslae.
Die beste verkoopspersoon uit elke streek, asook die beste landswye verkoopsbestuurder is aangewys.

Die Wes-Kaapse wenner is Hein Mocke van Moov, die KwaZulu-Natal-wenner is Ivonne Fryer van Trimborn, die Gautengwenner is Theresa Louw van Sebokeng Fuels en die Oos-Kaapse wenner is Wesley Hough van Express Fuels. Die landswye verkoopsbestuurderwenner is Freddy van Wyk van Moov. (middel)
Shell bied ook deurlopend sy ondersteuning en deel sy ondervinding met die mense wat sy produkte in die mark verteenwoordig.