Sewe Ster Bonsmaras rig nuwe opleidingsentrum op

Sewe Ster groeplede & Design Biologix
Lede van Sewe Ster Bonsmara-groep saam met lede van Design Biologix.
Op Donderdag, 17 Julie 2025, is ‘n belangrike mylpaal vir boere in Noordwes provinsie bereik toe Sewe Ster Bonsmaras hulle splinternuwe opleidingsentrum op Plaas Rietfontein, net buite Hartbeesfontein, amptelik geopen het. Die sentrum, geleë op die tuisplaas van Sewe Ster Bonsmaras, is tot stand gebring met die doel om die plaaslike boeregemeenskap toe te rus met kennis, tegniese ondersteuning en ‘n plek vir interaksie.
Die opening is goed bygewoon deur Bonsmara-telers, plaaslike boere en rolspelers in die lewendehawe bedryf. Tydens die verwelkoming het Stanley Dewing, mede-eienaar van Sewe Ster Bonsmaras, die behoefte aan so ‘n fasiliteit in die streek uitgelig. Die sentrum sal dien as ‘n tuiste vir boeredae, opleidingsessies, vergaderings en inligtingsdae – iets wat al lankal ‘n behoefte in die streek was.
‘n Dekade van groei en wetenskaplike bestuur
Arthur de Villiers van AG Bonsmaras het die geskiedenis van die Sewe Ster-groep in herinnering geroep. Tien jaar gelede was hy self betrokke by die seleksie van die basis-kudde. Hy het hulle vordering geloof, veral in hoe wetenskaplike praktyke aangewend word om die kudde te verbeter.
“Die groep neem maandeliks weidingsmonsters wat na Nutri Feeds gestuur word vir analise. Op grond van die resultate word die diere se voedingsprogram aangepas om hulle in optimale kondisie te hou,” verduidelik Arthur.
Hy het die sentrum amptelik geopen en almal voorspoed toegewens.
- Prof Beate von Teichman Design Biologix tydens haar praatjie by die opening van Sewe Ster Bonsmaras se opleidingsentrum.
- Prof Leon Prozesky.
Veeartseny-netwerke en gesondheidsbeplanning
Dr Danie Odendaal het die werking van die Veearts-netwerk verduidelik – ‘n belangrike inisiatief wat data-insameling deur veeartse aanmoedig om vinnig siekte-uitbrake op nasionale vlak te monitor. Volgens hom is daar egter ‘n groot leemte aan ondersteuning van die staat, wat nie sy eie data beskikbaar stel nie.
Volgens Dr Odendaal is opleiding van veewagters en plaas personeel ook krities, veral in die monitering van dragtige koeie en kalfprosesse – iets wat boere groot verliese kan help voorkom as dit betyds bestuur word.
Bek- en klouseer: ’n Reële dreigement
Prof Leon Prozesky het gewaarsku dat 2025 waarskynlik die jaar van die grootste uitbraak van bek- en klouseer in meer as vyf dekades sal wees. Hy het boere aangespoor om voorkomend op te tree, veral weens die gebrekkige waaksaamheid oor siektetoestande in buurlande.
Hy het ook die swak rekordhouding in die streek uitgelig en verwys na siektes soos longsiekte wat lankal uitgeroei was, maar weer kop uitsteek weens swak grense en monitering.
Louis Steyl, hoof uitvoerende bestuurder van Bonsmara SA, het ‘n beroep gedoen op beter hantering van bek- en klouseer deur die owerhede, en spesifiek verwys na die oningeligte gebruik van die F-brandmerk, waar daar in sommige gevalle die hele kudde gebrandmerk, terwyl slegs ‘n enkele groep positief getoets is – ‘n aksie wat groot finansiële gevolge vir boere inhou.
- Dr Danie Odendal.
- Arthur de Villiers van AG Bonsmara.
Die stem van navorsing en ontwikkeling
Prof Beate von Teichman van Design Biologx het boere ingelig oor die registrasieproses van teenmiddels, en die uitdagings wat daaraan verbonde is. Volgens haar neem dit jare van navorsing en toetsing om ‘n produk goedgekeur te kry – en selfs dan is daar verskeie regulatoriese struikelblokke wat die proses verder vertraag.
Sy het haar produkte en hulle toepassings verduidelik en boere aangemoedig om ingeligte besluite te neem en aktief betrokkenheid te toon by nuwe ontwikkelinge in diergesondheid.
ProAgri wens die Sewe Ster Bonsmaras-groep alle sukses toe met hulle nuwe sentrum. Mag dit ‘n lokaal wees vir leer, groei en samewerking in die streek – en mag die eerste van vele drumpels hier getrap word.
- Stanley Dewing van Sewe Ster Bonsmaras.





