Categories: NuusPublished On: 9th December 2025

Senwes toon sterk tussentydse groei ná moeilike vorige seisoen

By 4 min read
714 words

Senwes Equipment Trekker en Diesel

Senwes het sterk tussentydse resultate vir die ses maande geëindig 31 Oktober 2025 aangekondig, wat die veerkragtigheid van beide die groep en die breër landbousektor ná ’n uitdagende vorige seisoen weerspieël. ’n Merkbare verbetering in die nasionale graanproduksie, gunstiger marktoestande en konsekwente, gedissiplineerde uitvoering regdeur die onderneming het gelei tot ’n 34,9% toename in wins ná belasting, tot R325 miljoen toeskryfbaar aan aandeelhouers.

“Hierdie prestasie getuig van ‘n landbousektor wat met merkwaardige vasberadenheid herstel het, en van ’n Senwes-span wat konsekwent gefokus gebly het te midde van groot onsekerheid,” sê Debbie Bester, Groep Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes.

“Die afgelope jaar het ware veerkragtigheid vereis, en ons personeel, vennote en produsente het dit met trots en toewyding bewys.

Die 2024/25-produksieseisoen het broodnodige verligting vir graanprodusente gebring met witmielieproduksie wat met 38,4% toegeneem en sojabone ’n rekordgroei van 50,0% getoon het. Hierdie herstel het ‘n stewige grondslag geskep vir sterk prestasie oor verskeie Senwes-afdelings. Alhoewel weersomstandighede die oesproses vertraag het en bykomende uitdagings geskep het, het die verhoogde volumes uiteindelik die Marktoegang-, Insetverskaffing- en Finansiële Dienstesegmente versterk.

Totale bates het tot R16,045 miljard gestyg, hoofsaaklik weens seisoenaal hoër graanvoorraad wat deur kommoditeitsfasiliteite gefinansier word. Belangrik is dat die groep se eie-kapitaalverhouding tot 48,2% versterk het (teenoor 44,4% die vorige jaar), wanneer kommoditeitsfinansiering uitgesluit word. Dit posisioneer Senwes goed vir beide organiese groei en toekomstige strategiese verkrygings.

Die Marktoegangsegment het ’n 46,5% groei in wins behaal, gedryf deur ’n 58,9% toename in graanlewerings en ’n gunstige kommoditeitsmengsel. Uitgerekte reën het egter veroorsaak dat ‘n groter deel van die oes direk aan meulenaars gelewer is in plaas daarvan om in silos gestoor te word, ’n verskuiwing wat die volle opwaartse potensiaal effens beperk het. Senwes het ook die landswye uitdagings rakende graankwaliteit, verlaag by witmielies, duidelik waargeneem.

Die Insetverskaffingsegment het ’n 47,8% toename in wins behaal, gedryf deur vroeë positiewe momentum met die Duitse omdraaistrategie, beter toerustingverkope in sekere fokusareas en volhoubare groei in die kleinhandel- en brandstofbedrywighede. Falcon, (insluitend Staalmeester) het beduidende omsetgroei gelewer, terwyl Hinterland en KLK handel baat gevind het by gunstiger seisoenale toestande wat tot verbeterde handelsverrigtinge gelei het.

Die verkryging van Trekker & Diesel Oudtshoorn het Senwes se toerustingvoetspoor verder uitgebrei, terwyl produsente se hernude beleggingslus ná die sterk oes die vraag en sentiment oor verskeie insetlyne versterk het.

Die Verwerking-, Kondisionering- en Marktesegmente was die enigste beduidende onderpresteerder, met ‘n 24,4% afname in wins. Hierdie daling spruit hoofsaaklik uit ’n beduidende waardedalingsverlies in die SA Dorperbesigheid, gedryf deur laer vraag, ontwrigtings weens bek-en-klouseer en die beëindiging van ’n sleutelkontrak. Ander eenhede, insluitend kalkproduksie, rosynverwerking en laboratoriumdienste, het egter stabiel tot sterker resultate gelewer, wat die totale impak gedeeltelik versag het.

Die Finansiële Dienste en Adviessegment het ‘n 13,8% groei in wins behaal, gedryf deur ’n sterk vertoning in die kredietlewe-selstruktuur en verbeterde hernuwingsvoorwaardes binne die korporatiewe versekeringsportfolio. Agterstallige produksierekeninge is negatief beïnvloed deur laer mieliepryse en die tydsberekening van die oes.

Senwes het gedurende die tydperk betekenisvolle strategiese vordering gemaak, insluitend:

  • Die verkryging van die Vinlab Groep, wat NviroTek se teenwoordigheid in wyn-, drank-, water- en voedseltoetsing aansienlik versterk;
    • Vooruitgang in nuwe generasie graandroogtegnologie;
    • Die beplande verkryging van AMC Equipment, wat die groep se meganisasievoetspoor verder sal uitbrei, hangende goedkeuring deur mededingingsowerhede;
    • Die verkoop van Botselo Mills, wat die portefeulje vereenvoudig en Senwes se aandag op die kernbedrywighede konsentreer.

Die groep het ook die omdraaistrategie by S&L Connect in Duitsland voortgesit, wat reeds verbeterde resultate teenoor die vorige jaar lewer.

Vooruitsigte vir die nuwe seisoen is positief. Nasionale aanplantingsvoorneme vir 2025/26 toon ‘n 1,3% styging, ondersteun deur ’n gunstige reënvalvooruitsig. Senwes verwag volgehoue stabiele vraag na insette en gunstige omstandighede vir toerustingverkope. Laer graanpryse kan egter produsente se korttermynbestedings beïnvloed.

“Hoewel die tweede helfte ’n kombinasie van geleenthede en uitdagings inhou, is ons strategiese koers duidelik,” sê Bester.

“Ons belê doelgerig, in tegnologie, nuwe vermoëns en in besighede wat ons waardeproposisie na ons kliënte versterk. Ons vertrou steeds op die fundamentele sterkte van landbou en die langtermynwaarde wat ons bou.”

Bestuur voorsien ’n gemengde tweede helfte, met Marktoegang-, Insetverskaffing- en Finansiële Dienste en Adviessegmente wat na verwagting in lyn met of bo tussentydse vlakke sal presteer, terwyl Verwerking, Kondisionering en Markte slegs ’n minimale bydrae sal lewer.

’n Tussentydse dividend van 56 sent per aandeel word op 18 Desember 2025 uitbetaal.

 

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0