Sekelhakke kan produktiwiteit sny……maar Johan Hoewe sny dit reg

johan hoewe FEB 1
In die vorige uitgawe het Johan Hoewe koeihakkigheid bespreek en hoe die korrektiewe hoeftrimmer die probleem kan regstel. In hierdie uitgawe bespreek hy sekelhakkigheid wat wyd voorkom onder alle rasse, maar veral die Europese rasse. Dit is ’n probleem wat maklik oor die hoof gesien word, veral deur die beoordeelaars en raskeurders.
Sekelhakkigheid is wanneer die hellinghoek van die agterste been te groot is, wat veroorsaak dat die klou te ver na voor onder die lyf neergesit word en die agterklou oor die voorklou trap wanneer die bees loop.
Dit mag pynlik wees en dit lei tot splintering van die kloue en swelling van die gewrigte. Sekelhakkigheid kan soms selfs permanente skade aanrig. Die bees kan sy hakke wegloop en deurtrap. Dit alles kan die produktiwiteit van die bees ernstig benadeel.
Wat is die oplossing? Die hoefsnoeier moet net die tone gereeld kortsny sodat die poot regopper loop en verder na agter neergesit word, wat ook ’n beter gewigsverspreiding met minder las op die agterbeen meebring. Sekelhakkigheid is oorerflik, dus moet dit in aanmerking geneem word tydens seleksie vir aanteeldoeleindes.
In die volgende uitgawe bespreek Johan regophakkigheid, wat ’n baie groter probleem is.