Ryding nodig vir die plaas? Jou kitsgids vir bakkiekeuses
‘n Boer se bakkie werk elke dag regdeur die jaar. Die bakkie moet regstaan om die boer self gou-gou oral te besorg waar sy aandag nodig is. Dit moet gereeld dinge soos gereedskap, saad, lek, onderdele, brandstof, personeel, toerusting en diere oral op die plaas en tussen die dorp en die plaas vervoer.
Maar die bakkie is vir die boer selfs meer as ’n werktuig en voertuig – dit is in baie gevalle ook die boer se kantoor, sy mobiele werkswinkel en sy dinkplek waar hy tydens ritte sy boerdery beplan.
So belangrik is die bakkie vir die boer, dat hy sy bakkie met byna dieselfde omsigtigheid moet kies as wat hy sy vrou kies. Dit is nie altyd die mooiste nooi op die dorp wat die beste boervrou gaan maak nie; net so gaan ’n bakkie nie altyd oor die mooiste of nuutste model nie. Soms moet ’n bakkie eerder ’n trokkie wees en dan moet ’n boer ook besluit of hy die diesel- of petrolpad wil loop.
Dubbelkajuit of enkelkajuit:
As jou keuse op ’n bakkie val, is die volgende groot vraag gewoonlik of dit ’n dubbel- of enkelkajuit moet wees. Hier is so ’n paar oorwegings om in gedagte te hou:
Mense of vrag? Dit is die belangrikste vraag om te antwoord. Waar die dubbelkajuit meer plek, sommiges selfs in aansienlike gerief, vir mense het, het die bak minder plek vir vrag en die boer moet daarvolgens sy keuse maak. Gelukkig is daar ’n middeweg in die vorm van ’n anderhalfkajuitbakkie, waarvan die agtersitplek maar eina is, maar die bak darem groter as dié van die dubbelkajuit.
Misdaad: Een werklikheid wat die boer se keuse kan beïnvloed, is die huidige misdaad wat ons land ondervind. In die goeie ou tyd kon die boer enigiets van gereedskap tot inkopies agter op sy bakkie se oop bak laat, maar vandag moet alles deeglik agter slot en grendel wees waar geen dief dit kan raaksien nie. ’n Dubbelkajuit- of anderhalfkajuitbakkie kom in hierdie opsig goed te pas wanneer die boer dorp toe gaan.
Prys: Die prysverskil tussen ’n dubbel- en enkelkajuit is soms merkwaardig. As die bakkie ook die rol van gesinsmotor moet vervul, is dit waarskynlik die moeite werd om meer te betaal in plaas daarvan om nog ’n motorkar aan te skaf.
Almal binne: Daar word al hoe meer gefrons daaroor dat personeel agter op ’n bakkie vervoer word. Wetgewing kan binnekort die praktyk verbied en dan sal die boer wat soms werkers wil vervoer daarvoor gereed moet wees.
Petrol of diesel:
Deesdae is daar, te danke aan dieontwikkeling van dieselenjintegnologie,al hoe meer bakkies, selfs kleinbakkies, en passasiersvoertuie metdieselenjins. Dit stel die voornemendevoertuigkoper voor ’n keuse.Dit is belangrik om eers te verstaanwat gebeur in die tradisionele petrolendieselenjin wanneer dit werk:
Inlaatslag
Petrolenjin: Die suier beweeg ondertoe in die silinder en suig ’n mengsel van lug en verstuifde petrol in.
Dieselenjin: Die suier suig net lug in.
Kompressieslag
Petrolenjin: Die suier beweeg boontoe en pers die mengsel van lug en verstuifde petrol saam tot van ’n agtste tot ’n twaalfde van die oorspronklike volume.
Dieselenjin: Die lug word tot van ’n veertiende tot ’n vyf-en-twintigste van die oorspronklike volume saamgepers en hierdie drukking laat die lug se temperatuur styg.
Kragslag
Petrolenjin: ’n Vonk vanaf die vonkprop steek die mengsel van lug en verstuifde petrol aan die brand sodat dit ontplof en die suier na onder dwing.
Dieselenjin: ’n Inspuiter spuit die diesel deur so ’n klein opening in die ontbrandingskamer in dat dit verstuif en as gevolg van die hoë druk ontbrand en die suier in die silinder af dwing.
Uitlaatslag
In sowel die petrol- as die dieselenjin beweeg die suier na bo in die silinder en stoot die ontbrande gas deur die uitlaatklep na buite.
Met hierdie inligting as agtergrond, was die besluit in die verlede redelik maklik: ’n dieselenjin vir jou trekker en vragmotor wat harde donkiewerk moet doen, maar stadig beweeg, en ’n petrolenjin vir jou motorkar en bakkie, wat ligter is en waarmee jy vinnig en rats oor die weg wil kom.
Sedertdien het die tegnologie egter drasties ontwikkel. Daar is nou petrolaangedrewe voertuie met brandstofinspuiting en elektroniese ontsteking wat al die kwale van vergassers en ontstekingspunte uitskakel en veel oordeelkundiger met die duur petrol werk. Ongelukkig gaan hierdie nuttige tegnologie met soveel ingewikkelde elektronika gepaard, dat foute net deur gespesialiseerde tegnici herstel kan word.
Aan die ander kant is dieselenjins nie meer die swaar, lui, lomp kragosse van die verlede nie. Daarvoor het veral die koms van die turbo-aanjaer gesorg.
Die jongste verbetering is drukbuisinspuiting, wat dieselenjins se doeltreffendheid nog verder verbeter het. Die drukbuis beteken heelwat beter enjinwerkverrigting, brandstofbenutting en vollediger ontbranding, wat skoner uitlaatgas verseker.
Met die koms van die turbo-aanjaer, interverkoeler en drukbuisinspuiting, is die dieselbakkie nie meer die snorkende, swaar, stadige, rokende lomperd nie – die dieselbakkie draf nou lekker saam op die snelweg sonder om die verkeer enigsins op te hou. Die spoedgrens is vir hom ’n kleinigheidjie.
Nou bly dit vir die boer oor om sy keuse te maak op grond van die volgende werklikhede:
• ’n Dieselenjin is duurder as
’n petrolenjin, maar hou langer en behaal meer kilometer per liter brandstof.
’n petrolenjin, maar hou langer en behaal meer kilometer per liter brandstof.
• Met al die elektronika wat deesdae se dieselenjins het, is daar min te kies tussen petrol en diesel wat eenvoud van werking en koste van onderhoud en herstelwerk betref.
• ’n Turbo-aanjaer is ’n duur item en as hy breek, kan dit die eienaar van ’n dieselbakkie se sak gevoelig skud.
Die som wat gemaak moet word, is of die boer genoeg ry om die duurder dieselvoertuig op grond van sy gunstiger brandstofbenutting bo ’n petrolbakkie te bekostig. As al die somme klaar gemaak is en al die voor- en nadele opgeweeg is, kan ’n boer maar toelaat dat voorkoms verder dikteer!