Rula Agri: Afgestof en opgeruim – nader aan die waarheid

rula
Konsepte en ontwerpe is getransformeer en verbeter – Rula Holdings met sy dinamiese ingenieurs- en sakebenadering het die vroeër Flintco Agri-produkte in ‘n eenstop-oplossing vir die moderne graanprodusent omskep.
Die resultaat is ‘n vereenvoudigde en verbeterde ingenieurs- en vervaardigingsbenadering, wat “gesofistikeerdheid in eenvoud” uitbeeld. Rula Bulk Materials Handinling se sestien jaar ontwikkelingsgerigtheid, materiaalhanteringskennis, intellektuele eiendom en vervaardigingsvernuf word beskikbaar gestel aan die landboubedryf in die vorm van ontwerppakkette vir vloei-dinamika, eindige elementontleding, asook goed toegeruste werkswinkelfasiliteite.
Hierdie vernuwing in die landbouprodukte sal in die toekoms verder plaaslik ontwikkel, vervaardig en bemark word as Rula Agri-produkte.
Die span het intussen heelwat konsepte getransformeer na produkte wat behoeftes in die mark aanspreek – hiermee saam handhaaf ons ‘n goeie balans tussen landbou-ingenieurswese en agronomie.
Dit is oor die algemeen moeilik om iets van niks te maak nie – soveel te meer met presisie-landbouprodukte vir klante met wisselende behoeftes en ‘n verskeidenheid van omgewingsveranderlikes.
Suid-Afrikaanse produsente benodig deesdae nie slegs ‘n bekostigbare, werkende werktuig nie, maar eerder ‘n werkende werktuig wat aan ‘n verskeidenheid spesifieke tegniese vereistes voldoen. Werktuie moet ook wetenskaplik benader word en met gehalte vakmanskap vervaardig word – en dan moet dit ook nog mededingend in terme van prys wees.
Die droogte van die afgelope paar jaar en onvoorspelbare seisoene het ons weer bewus gemaak daarvan dat daar ‘n behoefte is om grond optimaal te benut as ‘n teenvoeter vir al die negatiewe veranderlikes in die landboubedryf. Die behoefte is meer gespesialiseerd en baie uniek by elke produsent.
Rula Agri is terug na die tekenbord
Dis reeds alombekend dat die maatskappy se kunsmistoedieningstoerusting baie akkuraat is. Die verskeidenheid van pre-plant-aanwendings asook die saadplant/kunsmistoediening kan steeds aangepas word om vir ‘n groter verskeidenheid van boerderypraktyke aangewend te word. Dit is veral die verskillende grondtipes, dieptetoediening van kunsmis en die hoeveelheid kunsmisprodukte wat sal bepaal hoe die toerusting daar sal uitsien.
Anders as met die reeds suksesvolle presisiekunsmistoedieningstoerusting, moes Rula Agri eers ‘n paar presisieplantereenhede in die 2024-seisoen op verskeie plase uittoets. Baie waardevolle waarnemings is gemaak en inligting is by die onderskeie produsente wat goedgunstiglik lande beskikbaar gestel het, ingewin.
Bydraes hierin gelewer het gelei tot verbetering van die plantertoerusting. Die maatskappy wil spesifiek sy waardering uitspreek teenoor die groot aantal produsente wat reeds tyd afgestaan het en hulle jarelange kennis en behoeftes om suksesvol te produseer, met ons gedeel het.
Met vars insigte, en ons konstante dryf na uitnemendheid, het ons nou ‘n minimum-grondversteurings-plantereenheid ontwikkel. Dit sluit in ‘n snywieleenheid voor op die balk, ‘n hidrouliese breektandsamestelling om kunsmis toe te dien, asook ‘n verskeidenheid ryskoonmakers wat saam met die universele plantereenheid ‘n gedugte kombinasie vorm.

Minimumbewerking-plantereenheid.

Konvensionele-plantereenheid.
Ons beplan om hierdie plantereenheidsamestelling by NAMPO 2025 te loods en dan ook aggressief te bemark in die bedryf. Ons deur staan altyd oop – produsente kan gerus hulle spesifieke behoeftes by ons Honeydew-kantore kom bespreek.
Dis nie ‘n maklike taak om teen ‘n groot aantal internasionale maatskappye mee te ding nie, maar tot dusver was dit baie opwindend. Rula Agri is hier om ‘n blywende verskil aan die Suid- Afrikaanse landboubedryf te maak.
‘n Bykomende voordeel verbonde daaraan om deel van die Rula Holdings-groep te wees, is ‘n sterk gevestigde naverkoopdiens wat nie net onderdele verskaf nie, maar onderhoud kan doen op plase vir toerusting gelewer.
Produktereeks reeds ontwikkel:
Presisiekunsmistoedieningstelsels (sluit korrel of vloeibaar in):
- Pre-plant en gekombineerde topbemestingwerktuie
- Sleepwerktuievir kunsmistoediening
- Minimum bewerkte lande – no-till-toediening
- Strookbewerking – stip-till-toediening
- Gelyktydige in-ry rip-toediening
- Preskripsiekaart-toediening
- Wisselende toediening van tot drie produkte
- Gemonteerde kunsmistelsels vir planters
Presisieplanter-produkreeks
- Konvensionele plantereenheiduitlegte
- Minimumbewerking-plantereenheiduitlegte
- Elektries aangedrewe V set-saaduitmeters.
- 4- tot 24- ry-planters
- Sentrale kunsmis- en saadbeheerstelsel
Ripper-opsies (Skeurploegkeuses)
- Tandem-tandripper
- Konvensionele ripper
- Diepkalkplasing-ripper tot 900 mm
Vir enige navrae kontak Rula Agri by 011-795-1040 of besoek die webwerf by https://rula-agri.co.za/.