Categories: Artikels, NuusPublished On: 8th March 2024

Rekords Spat by die 191ste Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe

By 3 min read
579 words

DairyJudging-35

Die room van suiwelkenners in die land het in Durbanville byeengekom vir die beoordeling van die 191ste SA Suiwelkampioenskappe, die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika. Foto: A Gorman Photography

Die suiwelbedryf het vanjaar die rekords laat spat by die 191ste Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe. Die beoordeling van dié nasionale suiwelkompetisie, die grootste en oudste in Afrika, het op Donderdag 7 Maart 2024 by Eensgezind buite Durbanville afgeskop en duur tot Vrydag 8 Maart.

‘n Rekordgetal van 78 suiwelvervaardigers het vanjaar ‘n rekordgetal van 1 029 suiwelprodukte ingeskryf. ‘n Paneel van 86 beoordelaars het die taak om hierdie groot getal produkte oor twee dae te beoordeel.

Volgens Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo, wat sedert 1834 die kampioenskappe aanbied, is dit ‘n voorreg om die topgehalte van die suiwelbedryf deur hierdie prestige-landbougeleentheid ten toon te stel. “Die rekordgetal inskrywings wys hoeveel vertroue bedryfrolspelers in hierdie kompetisie het om ‘n maatstaf vir uitnemendheid daar te stel,” sê Milford.

Die kampioenskappe is gekenmerk deur strawwe mededinging volgens die hoofbeoordelaar Graham Sutherland. “Ons inskrywings het vir die eerste keer die 1000-kerf verbygesteek,” verduidelik Sutherland. “Aan die einde van die eerste dag kan ek rapporteer dat die gehalte van die kaasinskrywings van ‘n baie goeie standaard was. Die kampioenskappe moedig innovasie aan, en ons het vanjaar weer ervaar dat ons passievolle en toegewyde vervaardigers geweldig baie moeite doen om hul produkte hier uit te stal.”

Hoofbeoordelaar Graham Sutherland, Alrina Fourie van die platinumvennoot DSM, Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo en Hanzubeth Labuschagne van die platinumvennoot IMCD tydens die beoordeling van die 191ste SA Suiwelkampioenskappe, wat van Donderdag 7 tot Vrydag 8 Maart 2024 by Eensgezind, Durbanville, deur Agri-Expo aangebied word. Foto: A Gorman Photography

Volgens Sutherland is ‘n kompetisie van hierdie aard en omvang kompleks. “Daarom het ons vyf beoordelaars per kategorie wat gekies word uit die breë suiwelbedryf, waaronder kaasmakers, gehaltebestuurders, voedseltegnoloë en bemarkingskenners,” sê Sutherland, wat as voedseltegnoloog self jarelange internasionale ervaring in die sensoriese evaluering van suiwelprodukte het. “As gevolg van die rekordgetal inskrywings moet ons nou meer as 5 000 puntelyste vasvang om die eindresultate te bepaal.”

Qualité – Die enigste merk van uitnemendheid in die suiwelbedryf

Die SA Suiwelkampioenskappe bestaan uit meer as 100 klasse vir kaas, jogurt, melk, room, roomys, botter en ander suiwelprodukte. Elke klas het ‘n wenproduk wat met die titel van SA Kampioen bekroon word. Die Qualité-merk van Uitnemendheid, die suiwelbedryf se enigste merk van uitnemendheid, word slegs toegeken aan uitgesoekte produkte van uitsonderlike gehalte wat ‘n spesifieke minimum punt op die internasionale telkaart behaal het. Die produk wat die hoogste punt behaal, word as Produk van die Jaar gekroon.

Altesaam 1 029 produkte van 78 Suid-Afrikaanse suiwelprodusente het oor twee dae, van Donderdag 7 Maart tot Vrydag 8 Maart 2024, by Eensgezind buite Durbanville, tydens die 191ste SA Suiwelkampioenskappe om die aandag van 86 beoordelaars meegeding. Foto: A Gorman Photography

Milford het Agri-Expo se dankbaarheid uitgespreek vir die ondersteuning van vennote wat die SA Suiwelkampioenskappe moontlik. “Ons is bly om ‘n nuwe driejaar-platinumvennootskap met IMCD en DSM aan te kondig, saam met ons diamantvennote Chr.Hansen en Synercore, goue vennote Checkers, Orchem, IFF, Woolworths, en die Wes-Kaapse Departement van Landbou, silwervennote Condio en Pick n Pay, sowel as brons vennoot Mane.”

Linda Segalla van IMCD Suid-Afrika het hul verbintenis uitgespreek om uitnemendheid in die suiwelbedryf te ondersteun en innovasie en kwaliteit te bevorder. “Ons verbintenis tot die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe vir die volgende drie jaar weerspieël IMCD se langtermyntoewyding om groei en erkenning binne die suiwelgemeenskap te bevorder,” sê Segalla. “Met ons kundigheid en toewyding tot die bedryf, is IMCD die perfekte vennoot om te help om die mark tot nuwe hoogtes te neem.”

Vir meer inligting, besoek https://cheesesa.co.za/, skakel 021-863-1599 / 083-440-1628, of stuur ‘n e-pos aan dairy@agriexpo.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0