Categories: NuusPublished On: 25th February 2022

Reën voorspel vir begin Maart

By 7 min read
1385 words

weer 2

Foto: Pixabay

Deur Johan van den Berg, Onafhanklike Landbouweerkundige (M.Sc Agric, Landbouweerkunde, UFS)

Reën is weer moontlik vanaf ongeveer 4 Maart oor die Somerreënvalgebied maar ‘n tweede droë periode kan voorkom in die laaste deel van Maart. La Nina en die geassosieerde positiewe Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) kan steed verantwoordelike wees vir verdere reën in April en Mei.

1. Huidige toestande

Na die baie nat toestande vanaf Desember 2021 was die maand van Februarie 2022 oor die algemeen droog met slegs kleiner gedeeltes wat betekenisvolle reën gekry het. Gedeeltes van die Noord-Kaap het egter goeie neerslae in die eerste week van Februarie gekry met Noupoort 81 mm, Petrusville 70 mm en De Aar 34 mm.

By die Bridledriftdam in die droë Oos-Kaap het tot 80 mm voorgekom. Swaar neerslae het ook in die eerste week van Februarie op plekke soos Pretoria (82 mm), Vereeniging (50 mm), Charters Creek in KZN met 114 mm en Richardsbaai met 92 mm, voorgekom. Die res van Februarie was droog met slegs gedeeltes van die noordelike dele van die Oos-Kaap met Elliot wat 36 mm gekry het, Queenstown met 22 mm en gedeeltes van KZN soos Greytown 34 mm en Pongola 41 mm.

Die droë toestande vanaf die tweede week van Februarie en selfs vroeër in die Oos-Vrystaat en Mpumalanga, het veroorsaak dat droogteskade aan die somergrane in veral gebiede met vlakker gronde begin voorkom. Gebrekkige wortelontwikkel lewer ‘n bydrae om vinniger droogteskade te veroorsaak met wortels wat hoofsaaklik in die boonste grondlae ontwikkel het tydens die baie nat toestande wat vroeër in die seisoen geheers het.

Kleiner gedeeltes van die Oos-Kaap is steeds baie droog maar in die grootste deel van die Noor-Kaap is die droogte gebreek met betekenisvolle neerslae en goeie opvolgreën. Byna al die opgaardamme in die Somerreënvalgebied het baie hoë watervlakke as gevolg van die swaar reën tot einde Januarie 2022. Slegs enkele damme in die Oos-Kaap het steeds lae vlakke alhoewel daar ‘n verbetering voorgekom het.

Die Kouga dam het weer gedaal tot onder 16% maar die Bridledriftdam het egter verbeter tot 63% teen die einde van Februarie vanaf 33.9% verlede jaar die ooreenstemmende tyd. Die watervlak van die Karibadam is op 23% teenoor 32% verlede seisoen dieselfde tyd terwyl die Katzedam in Lesotho op 100% is en die Mohale dam op 70%. Die Hardapdam in die suide van Namibië is op 73% van vol volume teen einde Februarie 2022.

2. ENSO en Indiese Oseaan

2.1 ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)

See oppervlaktemperature in die Nino gebiede se afkoeling het ‘n piek bereik in Januarie 2022 en is La Nina is nou besig om te verswak. Temperature in die meeste Nino-gebiede het effens begin verwarm en die belangrike Nino3.4-gebied was in die laaste week van February ongeveer 0.6°C koeler as normaal teenoor die 1.1°C koeler as normaal tydens die piek in Januarie 2022. Water in die dieper lae van die oseaan benede die Nino-oppervlakgebiede het ook effens verwarm.

La Nina toestande sal steeds heers tot voor die winter wanneer dit sal terugkeer na neutral toestande. ENSO is gewoonlik in ‘n neutrale fase vanaf ongeveer April tot Junie voordat veranderings kan plaasvind voor die aanvang van die Suidelike Halfrond se somer.

Huidige voorspellings vir die 2022/23 seisoen is baie onseker met huidige voorspellings wat ‘n 45% waarskynlikheid gee dat neutrale toestande na die winter gaan voortduur, ‘n 35% waarskynlikheid vir La Nina-toestande en ‘n 20% waarskynlikheid vir El Nino. Interessant is dat voorspellings sedert Januarie die waarskynlikheid vir ‘n derde agtereenvolgende seisoen verhoog het ten koste van neutrale toestande en El Nino.

In Januarie was die waarskynlikhede vir El Nino en La Nina ongeveer dieselfde op 20% met neutral toestande op ‘n groter as 50% kans. Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) as indikator van die invloed van see-oppervlaktoestande op oorliggende weerstelsels in die Nino-gebiede, het weer versterk om meer La Nina-neigend te wees nadat daar ‘n verswakking in Januarie 2022 voorgekom het. Op ‘n skaal van -30 (sterk El Nino) tot +30 (sterk La Nina) is die 30-dae lopende SOI tans op +9.9 in vergelyking met einde Januarie 2022 toe dit op +1.5 was.

2.2 Indiese Oseaan

Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) bly in ‘n neutrale fase tot ten minste April wanneer dit weer na die negatiewe kant van normaal gaan beweeg. (‘n Negatiewe IOD is gewoonlik geassosieer met bogemiddelde somerreënval en is ‘n aanduiding van koeler water in die westelike Indiese Oseaan nader aan die Afrika kusgebiede soos wat die geval was in 2021).

Vyf relatief sterk tropiese stelsels het ontwikkel in die westelike Indiese Oseaan sedert die einde van Januarie en het ernstige skades veroorsaak in Madagaskar asook Mosambiek en Malawi op die Afrika vasteland. Sikloon Batsira was die sterkste met windsnelhede tot 200km/h en het baie groot skades in Madagaskar veroorsaak met reënvalhoeveelhede van meer as 250mm saam met die sterk winde.

3. Reënval- en klimaatsvooruitsigte

3.1 Somerreënvalgebied

Reënval Die versterking van die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) ten spyte van die swakker La Nina-verskynsel is betekenisvol en kan verantwoordelik wees vir meer reën in die herfs rondom April.

• Die reeks van tropiese stelsels wat die afgelope maand voorgekom het, het die normale reënvalpatroon versteur en het die suidwaartse beweging van tropiese vog beperk omdat tropiese vog meer ooswaarts na die kerne van die tropiese stelsels beweeg het. Met ‘n afname in tropiese storm aktiwiteit kan dit weer reënvaltoestande verbeter vir die res van die reënseisoen.

• Toestande vir reën begin weer verbeter in die eerste week van Maart nadat Sikloon Emnati verdwyn het. Tussen 20mm en 50mm is moontlik vanaf ongeveer 3 tot 10 Maart oor die grootste deel van die land met die uitsondering van die westelike dele van die Noordkaap, die

grootste deel van die Weskaap, westelike dele van die Ooskaap en noordelike dele van Limpopo.

• Droër toestande is weer moontlik in die tweede deel van Maart.

• As gevolg van die teenwoordigheid van La Nina is daar nog steeds reën moontlik in die laaste week van Maart asook die hele April. Temperatuur

• Temperature gaan gemiddeld tot bogemiddeld wees tot ten minste die einde van Maart, veral oor die sentrale tot westelike dele.

• Die waarskynlikheid vir vroeë ryp is skraal en ernstige ryp word nie verwag voor die middel van Mei nie.

3.2 Winterreënvalgebied

Baie min reën word verwag oor die Suidweskaap vir Maart maar ligte reën is moontlik oor die Suidkaap en Tuinroete. Die begin van die werklike winterreënvalseisoen as gevolg van koue fronte wat oor die suidelike Atlantiese Oseaan ontwikkel, behoort laat te wees en word dit eers in Mei of selfs later verwag. Temperatuur Warm tot baie warm toestande word verwag tot ten minste die einde van Maart maar koeler toestande oor die Suidkaapse kusgebiede en aangrensende binneland.

3.3 Namibië

Tropiese vog het begin om suidwaarts oor Namibië te beweeg sedert die einde van Januarie 2002 op die rand of perimeter van die hoogdrukstelsel wat oor Suid-Afrika, Botswana en selfs Zimbabwe geleë was. Op die korttermyn is reën moontlik oor die noordelike dele van die land tot ongeveer die einde van die tweede week van Maart met ‘n droër periode daarna tot ongeveer 20 Maart. Min reën suidwaarts.

Langer termyn vooruitsigte is steeds baie gunstig vir die periode tot voor die winter. Die impak van La Nina moet nog deurwerk en gemiddelde tot bogemiddelde reënval word steeds verwag in die komende maande tot voor die winter.

4. Opsomming en samevatting

• La Nina het volwassenheid bereik in die middel van Januarie maar gaan steeds die weerstoestande oorheers tot in die laat herfs.

• Reën is weer moontlik oor die Somerreënvalgebied in die eerste week van Maart oor die sentrale tot oostelike dele en suidoostelike dele. ‘n Droë periode is weer moontlik in die tweede deel van Maart, veral oor die sentrale tot westelike dele.

• Die suidwestelike dele van die Winterreënvalgebiede kan steeds baie warm en droë toestande ervaar tot die einde van Maart. Ligte reën is egter moontlik oor die Rûens en Suidkaap.

Vrywaring: Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal, waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0