Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 30th January 2025

Reën laat insekbevolkings ontplof … En veeboere moet bontstaan teen siektes

By 14 min read
2762 words

pexels-soumalya-halder-2148057301-30338192

“Boere is bekommerd oor siektes soos bloutong, Slenkdalkoors, knopvelsiekte en Afrika-perdesiekte na al die lekker reën,” se Marzanne Roets, nasionale koördineerder van die Nasionale Dieresiekteforum (NDGF).

“Daar is meer as genoeg entstof vir al die genoemde siektes beskikbaar!” Marzanne is verantwoordelik daarvoor dat inligting oor dieresiektes en neigings tydig onder die veebedryf se aandag gebring word. Sy koördineer die inligting wat die Veeartsnetwerk landwyd aan die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) en Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) verskaf. Die veeartse wat aan RuVasa rapporteer, wys dieresekteneigings uit soos wat dit onder hulle aandag gebring word.

Insekoordraagbare siektes

Op die oomblik is virussiektes wat deur insekte oorgedra word ‘n bekommernis. Insekte, wat onder meer bosluise, steekvlieë en muggies insluit, floreer tans in warm, nat toestande in somerreënvalgebiede.

Bloutong

Die bloutongvirus (BTV) is ’n nie-aansteeklike siekte wat deur muskiete en bytende muggies aan herkouers soos skape, in ‘n mindere mate aan bokke en ook aan beeste oorgedra word. Die siekte kom gewoonlik vanaf September voor en bereik ‘n hoogtepunt vanaf Januarie tot begin Maart wanneer die vektore weens koue vrek. Dit is gewoonlik ‘n probleem by ongespeende of pasgespeende lammers wat sensitief is vir die virus, of jong skape wat uit ’n gebied kom waar die virus nie ’n groot faktor is nie.

Die vektore wat die virus oordra voed op die blootgestelde gedeeltes van skape, soos die ore, gesig, rondom die vulva en uier, asook die voorste oksels. Die virus kan na ander diere oorgedra word wanneer insekte wat op skape voed, na beeste of bokke beweeg en dié diere word dan draers of gashere. Die diere toon gewoonlik geen tekens van die siekte nie, maar die virus kan skape wat van die trop in die veld afdwaal laat lomerig lyk.

Ander simptome sluit in:

• Temperatuur van tussen 39,5 en 41 °C;
• Blousug (sianose) van die tong, wat dit laat blou lyk, ‘n geswelde bek of lippe, oop sere aan die tandvleis, ‘n afskeiding uit die neus en geswolle oë en ore;
• Die deel van die been tussen die hoef en wol kan ‘n rooi tot blouerige kleur hê wat dui op bloeding binne die hoewe, wat lamheid veroorsaak;
• Diere wat aangejaag word, word gou moeg weens ’n gebrek aan suurstof, maar dit kan ook op ’n sekondêre ontsteking soos pasteurella dui; en diarree.

Hoe werk die virus?

Die virus val die wande van die bloedvate in die gasheer aan en die skade veroorsaak dat plasma uit die bloedvate lek. In Suid-Afrika is 21 serotipes van die virus geïsoleer en elkeen kan die siekte veroorsaak. Daar is min kruisbeskerming tussen serotipes en daar bestaan nie ‘n enkele entstof teen al die serotipes nie. Die lewende entstof het 15 verskillende serotipes en ontwikkel baie goeie immuniteit. Dit moet as drie inspuitings met ’n tussenpose van drie tot vier weke toegedien word.

Vroegdragtige ooie en ramme kan nie voor die teelseisoen geënt word nie. ‘n Nuwe geïnaktiveerde entstof het 11 serotipes. Ná die eerste inenting met die entstof moet ’n skraagdosis drie tot vier weke later toegedien word vir beskermende immuniteit. Jongskape moet vir die eerste keer op die ouderdom van ses maande ingeënt word. Die geïnaktiveerde entstof kan in dragtige skape en ramme voor en tydens die teelseisoen gebruik word.

Figuur 1: Uitbrekings van knopvelsiekte, April 2022 tot September 2024.

Slenkdalkoors

Slenkdalkoors is ‘n ernstige virussiekte wat deur muskiete oorgedra word aan skape, bokke en beeste, asook aan mense. Die naam van die siekte is ontleen aan die Slenkdalgebied in Kenia waar die siekte die eerste in 1930 keer beskryf is. Hoe diere besmet word Die diere word aanvanklik deur muskiete besmet, maar daarna word die diere direk besmet deur blootstelling aan geaborteerde fetusse en besmette materiaal.

Siektetekens

Skaap- en boklammers jonger as twee weke is baie vatbaar. Hulle word binne 24 tot 72 uur na besmetting siek en ontwikkel ‘n hoë koors van meer as 41 °C, is lusteloos en verloor eetlus. Kort voor hulle vrek daal die koors, en tot 95% van hulle oorleef dit nie. Volwasse skape en bokke het ‘n koors van tot 42 °C, is traag om te loop, het buikpyn, vinnige asemhaling, eet nie, gooi maaginhoud op, het bloed in die mis, slegruikende diarree en soms geelsug. Vrektes onder ouer skape is tussen 15 en 30%.

Tussen 40 en 60% van dragtige ooie aborteer en die fetus ontbind gou. Bokke toon minder erge kliniese tekens as skape, en kalwers nog minder en 10 tot 15% vrektes kom voor. By volwasse beeste is die voorkoms van aborsies 10% tot 40% en dit is soms die enigste teken van besmetting. Diere wat in die somer in laagliggende dele by panne, vleie en damme wei, word die ergste blootgestel, want dit is waar die muskiete aktief is.

Voorkoming en beheer

Immunisering is die enigste praktiese en werkbare beheermaatreël. Die lewende entstof wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) gemaak word, kan in alle nie-dragtige beeste, skape en bokke gebruik word en gee goeie
beskerming. Moenie dragtige diere met die lewende entstof inent nie, want ‘n klein persentasie aborsies of fetale misvorming kan voorkom. Dooie of geïnaktiveerde Slenkdalkoorsentstof kan in die lente vir dragtige diere gebruik word. Jong diere of diere wat nog nie voorheen met die dooie entstof ingeënt is nie, moet drie weke ná die aanvanklike inenting ‘n tweede of skraagdosis kry.

Omdat die siekte aan mense oorgedra kan word is dit belangrik om tydens nadoodse ondersoeke beskermende klere te dra. Ontsmet alle apparaat ná gebruik. Karkasse moet verbrand of begrawe word. Pasteurisasie van melk teen 72 °C vir 15 sekondes sal die virus daarin vernietig en so die melk vir menslike gebruik veilig maak. Die toepassing van goeie insek- en veral muskietbeheer kan moontlik bydra tot die voorkoming en bestryding van Slenkdalkoors, maar dit is dikwels duur en onprakties. Die enigste opsie is om diere van laagliggende na hoërliggende gebiede te verskuif en te voorkom dat diere by vleie, damme, langs riviere en panne wei waar muskiete baie aktief is.

Private veeartse se siekte-aanmelding fokus op al die siektes en parasiete wat vrektes en produksieverliese op plase veroorsaak, terwyl die staat s’n fokus op staatsbeheerde en aanmeldbare siektes. Die private aanmeldstelsel is intyds, aangesien dit elektronies na een databasis gedoen word. Die stelsel bied aan elke veeartspraktyk wat rapporteer, ’n oorsig van siektes wat oor ’n jaar of aantal jare in die praktykgebied voorkom.

’n Nasionale arendsblik

Die aanmeldstelsel het ook ten doel om op Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) se webwerf ’n kaart te verskaf waarop die voorkoms van veesiektes elke maand is vir veeboere en ander bedryfsrolspelers beskikbaar gestel word.

Veeartsnetwerk stel ook maandeliks ’n nasionale verslag met die volgende onderafdelings saam:

Siektebewusmaking: Siektes wat nog baie voorkom, maar wat doeltreffend voorkom kan word deur inenting of ander spesifieke siektevoorkomingsbestuur.

Siektes wat buite beheer voorkom:

Meestal siektes waarvan die beheer meer ingewikkeld is, en die beheer of uitroei daarvan omvattende siektebestuur benodig wat toets en uitskot, biosekuriteit (kwarantyn) en inenting insluit.

Siekteneigings: Siektes wat beperk was tot ’n spesifieke gebied, maar nou na ander gebiede uitgebrei het of siektes wat nooit voorgekom het nie, maar nou ’n probleem word.

Prioriteitsiektes: Siektes wat groot verliese veroorsaak en waarvoor doeltreffende beheermaatreëls nie tans bestaan nie. In baie gevalle is nog navorsing nodig om beter oplossings te vind.

Siektebewusmaking

Die belangrikste siektes waarteen inenting nou reeds afgehandel moes wees, is die insekoordraagbare virussiektes wat ’n maand of meer na die begin van die reënseisoen in die somerreënvalgebied sal voorkom. In die winterreënvalgebied is die voorkoms anders, omdat dit reeds in die winter gereën het en die siektes van die lente
af voorkom wanneer dit warm word en die insekte uitbroei.

Knopvelsiekte

Die siekte word deur ’n pokkevirus in beeste veroorsaak en kom hoofsaaklik van Januarie tot Maart voor wanneer die virus deur bytende insekte soos steekvlieë tydens die warmer, nat maande in somerreënvalstreke voorkom.
Die siekte laat permanente letsels op die vel, asook ‘n afname in die produksie en vrugbaarheid van die kudde. Dit word binne die kudde oorgedra deur speeksel weens direkte kontak, by voer- en waterbakke, en ook besmette oortange en naalde. Besmette koeie dra dit deur hulle melk aan kalwers oor.

Figuur 2: Uitbrekings van beesbrusellose, Januarie 2018 tot Desember 2022.

Tekens van die sieke

Besmette beeste het ‘n hoë koors en produseer meer speeksel of slym by die neus. Soms kom oogontsteking met gepaardgaande afskeiding voor. Dan volg vergrote limfknope en knoppe van tot 5 cm groot op die vel regoor die liggaam voor. Die knoppe kan drukking op die lugpyp veroorsaak, asook mankheid en swelling wanneer daar ontsteking in die senings is. Uiteindelik kan dit sere in die mond, lugpyp en grootpens veroorsaak, met longontsteking as ‘n sekondêre siekte. Bulle kan letsels op die penis en skrotum opdoen wat tot ontsteking in die testikels en tot tydelike of permanente steriliteit lei. Koeie kan erge letsels op die spene ontwikkel, wat tot mastitis met ‘n meegaande verlies van tot 50% in melkproduksie lei.

Behandeling

Behandeling is simptomaties en word bepaal deur die graad van die letsels. Dit sluit rehidrasie, antiinflammatoriese
terapie en antibiotika in. Oopgebarste knoppe kan met die toediening van akriflavien-gliserien of melksalf ontsmet word.

Voorkoming

‘n Uiters doeltreffende lewende entstof is teen hierdie enkele virusstam beskikbaar en kan die siekte heeltemal voorkom. Indien die entstof vir ‘n tweede jaar herhaal word, kan dit ook langtermyn immuniteit verseker. Kalwers van ingeënte koeie moet op die ouderdom van ses maande ingeënt word, maar kalwers van ongeënte koeie kan op enige ouderdom ingeënt word. As na die langtermynvoorkoms van die siekte gekyk word (Figuur 1), is dit duidelik dat baie boere nog nie doeltreffend inent nie. Die lewende entstof teen hierdie enkele virusstam is beskikbaar. Dit is uiters doeltreffend en kan die siekte heeltemal voorkom en langtermyn immuniteit opwek, veral nadat die entstof vir ’n tweede jaar herhaal is.

Driedae-stywesiekte

Driedae-stywesiekte veroorsaak spesifiek in vleisbeeste probleme in die somerteelseisoen. Vervangingsverse (jaaroud en twee jaar oud) en teelbulle word die meeste geraak. In melkbeeste veroorsaak die siekte groot melkverliese en in baie gevalle kom die dodeliker vorm van die siekte, wat longemfiseem en vrektes veroorsaak, ook in hoogs vatbare melkbeeste voor. Beeste soos verse en jong bulle wat vir die eerste keer ingeënt word, moet twee keer met die beskikbare geïnaktiveerde entstof ingeënt word. Daarna is ’n jaarlikse inenting nodig, met die skraaginenting wat gegee moet word net voor die tydperk waarin die siekte gewoonlik in ’n spesifieke gebied voorkom.

Met driedae-stywesiekte is die tydsberekening van die inenting belangrik, omdat die entstof minder immunogenies is en inenting of skraaginenting ’n hoë vlak van immuniteit opwek, net voor en tydens die tydperk van hoogste siekteoordrag (Januarie tot Desember in die somerreënvalgebiede). Dit is belangrik om direk met die plaaslike veearts saam te werk, sodat hy/sy ’n vroeë waarskuwing kan uitstuur wanneer die eerste gevalle vir die seisoen voorkom.

Bloutong

Bloutong is ’n komplekse, insekoordraagbare siekte in skape, maar dit kan ook beeste aantas, maar beeste wys in die meeste gevalle geen siektetekens nie. ’n Groot aantal verskillende stamme van die bloutongvirus kan skape aantas. In Suid-Afrika is 21 serotipes van die virus al geïsoleer. Elkeen van die serotipes kan die siekte veroorsaak en daar is min of geen kruisbeskerming tussen serotipes.

Dit was tot dusver nog nie moontlik om al die verskillende stamme van die bloutongvirusse (serotipes) in een entstof te sit nie. Die lewende entstof het vyftien verskillende serotipes (vyf in elke fraksie) en ontwikkel baie goeie immuniteit. Dit moet as drie inspuitings gegee word met ’n tussenpose van drie tot vier weke. Dit is die optimale
entstof om in jong vervangingsooitjies en rammetjies ouer as ses maande te gebruik. Vroegdragtige ooie en ramme kan nie net voor of tydens die teelseisoen ingeënt word nie. Die nuwe geïnaktiveerde entstof het 11 serotipes. Ná die eerste inenting met die entstof moet ’n skraagdosis drie tot vier weke later toegedien word vir beskermende immuniteit. Jong skape moet ook vir die eerste keer na ouderdom ses maande ingeënt word. Die geïnaktiveerde entstof kan in dragtige skape en ramme voor en tydens die teelseisoen gebruik word.

Siektes wat buite beheer is

Die belangrikste erosiesiekte in beeste is besmetlike misgeboorte of beesbrusellose, ’n staatsbeheerde siekte. Hierdie bakteriese siekte kan ook na mense oorgedra word en is veral ’n groot risiko vir veeboere, veewagters en veeartse wat met die beeste werk. Die siekte moet by die staatsveearts aangemeld word, wat dan siektebeheer op besmette plase sal oorneem. Die siekte word hoofsaaklik deur staatsveeartse maar ook deur private veeartse aangemeld. Die siekteverspreidingskaarte van die epidemiologie-afdeling van die staatsveeartsenydienste (Figuur 2) toon duidelik dat die siekte buite beheer is, veral in vleisbeeskuddes.

In melkbeeskuddes is besmetlike misgeboorte onder beheer, aangesien melkboere jaarliks toets en maandeliks die afwesigheid van die siekte deur melkkringtoetse moniteer. Dit is ’n voorwaarde van melkkopers.

Hondsdolheid

Hondsdolheid kan van honde, jakkalse of ander draerdiere na vee en veral beeste oorgedra word. Dit is ook oordraagbaar na mense wat deur ’n hondsdol dier gebyt word of met vee werk wat hondsdolheid onder lede het.
In die geval van hondsdolheid wat in vee voorkom, is tydige aanmelding deur veeartse belangrik aangesien die siekte op ’n spesifieke tydstip net in beperkte gebiede voorkom. Dit is belangrik dat ’n vroeë waarskuwing uitgestuur word
na veeboere in die betrokke gebied aangesien inenting teen hondsdolheid nie deel van die standaard inentingsplan is nie. Daarom moet vee as ’n noodmaatreël op aangrensende plase en plase binne 5 tot 10 km daarvandaan voorkomend ingeënt word, sodat hulle nie ook verliese ly nie. Dit neem twee weke na inenting voordat die dier beskerm is. Daarom is vroegtydige optrede en ’n werkende vroeë-waarskuwingstelsel nodig.

Prioriteitsiektes

Asiatiese rooiwater is uitgewys as die belangrikste prioriteitsiekte in beeste. Dit brei steeds uit en is die belangrikste
oorsaak van onverwagte vinnige vrektes van beeste. Asiatiese rooiwater word deur die pantropiese bloubosluis oorgedra. Anders as met Afrika-rooiwater, is daar nie altyd tipiese siektetekens soos rooi urine en selfs bleek slymvliese as gevolg van inwendige bloedverlies nie. Die organisme wat in die rooibloedselle verdeel veroorsaak dat rooibloedselle aan mekaar vaskleef om mikrostolsels in die kapillêre bloedvaatjies te veroorsaak.

In vatbare kuddes is die benadering om die hele kudde ’n blokbehandeling te gee om verdere vrektes te voorkom. Een van die probleme wat ontstaan, is dat die nawerking van die blokbehandeling verkort, wat daarop kan dui dat weerstand ontwikkel teen die middels wat gebruik word. Die enigste huidige langtermynoplossing is die gebruik van die bloedentstof om immuniteit teen die siekte op te wek.

Die probleem is dat die entstof ’n lang tyd nie beskikbaar was nie, juis in ’n tyd toe beesboere voor die reën moes inent en die bloubosluise wat die siekte oordra, meer geword het. Asiatiese rooiwater is deur die siekteaanmeldingstelsel uitgewys as ‘n hoë prioriteit vir verdere navorsing, sodat ’n beter en meer permanente oplossing vir die vrektes wat dit veroorsaak, gevind kan word. Gevalle van Asiatiese rooiwater wat die afgelope agttien maande deur veeartse in die Vrystaat aangemeld is (waar die siekte die grootste probleme veroorsaak), was wydverspreid regdeur die provinsie.

Ten slotte

Siektebeheer op plaasvlak is in die hande van die veeboer, wat in samewerking met sy/haar plaaslike veearts praktiese oplossings moet vind. Die siekte-aanmeldingstelsel bied die geleentheid om die voorkoms en beheer
van veesiektes beter te verstaan en meer geteiken te beheer. – dr Danie Odendaal, Veeartsnetwerk.

Vir meer inligting, skakel dr Danie Odendaal by 082-454-0523.

Die landwye siekte-aanmeldingstelsel word deur Veeartsnetwerk bedryf in samewerking met die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) en Rooivleisbedryfsdienste (RMIS). Die private aanmeldingstelsel is intyds, aangesien dit elektronies na een databasis gedoen word.

Die aanmeldingstelsel het ook ten doel om op Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) se webwerf ’n kaart te verskaf waarop die voorkoms van veesiektes regoor die land maandelikse toeganklik is vir veeboere en ander bedryfsrolspelers.
Siektebeheer op plaasvlak is in die hande van die veeboer, wat in samewerking met sy/haar plaaslike veearts praktiese oplossings moet vind. Asiatiese rooiwater is deur die siekteaanmeldingstelsel uitgewys as ‘n hoë prioriteit wat verdere navorsing betref, sodat ’n beter en meer permanente oplossing vir die vrektes wat dit veroorsaak, gevind kan word.

Bronne:

Du Preex, J.H. (2013) Die ABC van Slenkdalkoors: https://www.grainsa.co.za/die-abc-vanslenkdalkoors

Cockcroft, S. (2020) Wat laat jou dink dis bloutong? Agriorbit: https://agriorbit.com/wat-laat-jou-dinkdis-
bloutong/

Du Plessis, C. (2019) Stuit knopvelsiekte met hierdie entstof. Landbouweekblad: https://www.pressreader.
com/south-africa/landbouweekblad/20191004/282819307943876

Odendaal, D. (2025) Veesiektes wat kwel: Rapportering wys tendense uit. Veeplaas: https://agriorbit.com/veesiektes-watkwel-rapportering-wys-tendense-uit/

Raats, J. (2025) Hierdie veesiektes kan pla in nat weer. Landbou.com: https://www.landbou.com/landbou/
nuus/hierdie-veesiektes-kan-pla-in-natweer-20250117

RuVasa Oktober2024: https://ruvasa.co.za/wp-content/uploads/2024/12/Disease-report-October-2024.pdf

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0