Raakvatter Riana de Beer is ’n Beefmaster-meester!

Kalwer liefde
Sy is lief vir skerts, weet álles van ’n Beefmaster-bees af en is volgens haar vriendinne “skerper as ’n Minora-lemmetjie”. Dit is niemand anders nie as vroueboer Riana de Beer van Senekal in die Vrystaat.
’n Bees se baas
“Ek wou van doekdae af net op die plaas wees, maar my ouers het my verplig om eers in ’n ander rigting te gaan studeer en werk voor ek kon terugkom plaas. Vandat ek weer permanent terug is op die plaas, is ek waar ek wil wees. Ek is geseënd om te kan sê ‘ek leef my droom’!”
Hierdie is die woorde van raakvatter Riana de Beer. Al van jongs af lief vir landbou, is dit geen verrassing dat dié formidabele vrou nou een van die voorlopers in die bedryf is nie.
Riana boer voltyds en bestuur die Quardsen Beefmasterstoet. Haar bobaas stoet is van die beste in die Beefmasterras en getuig van die ure en jare se harde werk wat sy ingesit het. “Die teling van beeste is iets wat ek geweldig geniet. Dit is ’n uitdaging, maar bring ook groot bevrediging.” Haar gunsteling deel van haar werk is die voorreg om buite in die natuur te kan wees.

Riana de Beer van Senekal in die Vrystaat is op haar gelukkigste as sy tussen haar beeste kan wees.
Voor Riana voltyds na haar bieliebeeste begin omsien het, het sy ’n Nasionale Diploma in Eiendomswaardering bekom en as eiendomswaardeerder gewerk.
Hoewel Riana ’n spesiale plekkie in haar hart vir haar beeste het, glo sy tog dat alles in landbou belangrik is. “Vir my is die beste deel natuurlik beeste, maar elke afdeling in landbou is ewe belangrik. Omdat ons in ’n land met soveel verskeidenheid is, is daar baie geleenthede vir verskillende landbou-afdelings in die land.”
Opvoeding is belangrik. Riana streef daarna om altyd op datum te bly met die nuutste verwikkelinge in die landboubedryf. Dit is immers hoe ‘n mens konstant jouself kan verbeter. Sy sê: “Ek probeer op hoogte bly van nuwe tegnologie, lees graag insiggewende artikels en woon boeredae en inligtingsdae by.”

Riana de Beer is ‘n rakker as dit kom by fietsry!
’n Fees om ’n vrou te wees
“Vroue het ‘n ander denkwyse, aanvoeling en manier van dinge doen wat in die landboubedryf belangrik geag kan word.” Só glo Riana. Volgens haar is vroue belangrike rolspelers in landbou.
Haar gunsteling deel van vrou-wees is die feit dat sy ewe gemaklik kan voel, of sy ’n rok of ’n broek dra!
Sy glo ’n vrou kan haarself as suksesvol beskou wanneer sy haar doelwitte bereik.
Aan jong meisies wat belangstel om ook deel te word van die landboubedryf, gee Riana die volgende raad: “Gaan voluit vir dit wat jy wil doen in die lewe, weet dat daar soms terugslae gaan wees, maar bly positief en volhard in jou drome.”
Hierdie wyse woorde loop hand aan hand met die raad wat sy vir haarself as ’n jong dame sou wou gee: aanhouer wen!

Riana de Beer skrik vir geen uitdaging nie! Hier stap sy die Otter saam met haar man.
Gelukkig, gesond en geliefd…
As sy nie besig is met ’n bees nie, is sy besig iewers anders, want hierdie vrou sit nooit stil nie! Om te ontspan geniet sy kuiers saam met vriende en familie, tuinmaak, fietsry, projekte in en om die huis en dans saam met haar man.
Riana is iemand met groot drome en doelwitte. Sy streef na uitnemendheid, maar tog besef sy wat die belangrikste in die lewe is. Daar is baie dinge wat sy oor tien jaar sal wil bereik, maar uiteindelik wéét sy wat haar die gelukkigste gaan maak: “Gelukkig, gesond en geliefd … wat meer wil ‘n mens in die lewe hê?”

Riana de Beer en haar man is reg vir ‘n makietie met hulle dansskoene aan
Kontakbesonderhede
Om in kontak met Riana te kom, kan jy haar skakel by (+27)82-770-2757. Stuur gerus ’n e-pos na rianag73@gmail.com.