Categories: Magazine (RSA)Published On: 4th January 2016

ProAgri 191 Januarie

By 2 min read
308 words

proagri_191_web

Met die hoed op die kop, hande uit die moue en ‘n tenk vol diesel. Dit is hoe ek die nuwe jaar tegemoet wil gaan. Ons het groot planne vir ProAgri hierdie jaar, met ‘n verskeidenheid insetsels, onder meer ‘n leefstyltydskrif, wat vir elkeen op die plaas heerlike sprankelende leesstof sal bied, asook waardevolle inligting om die regte keuses oor toerusting en ander insette op die plaas te maak.

Dit is ook weer tyd vir ons gereelde lesersopname waarin ons GROOT pryse gaan weggee, van ‘n vierwielmotorfiets tot ‘n dam! Die werklike waarde van die lesersopname lê egter in die inligting wat ons bymekaar maak om ons te help bepaal waarin jy belangstel. Dit is natuurlik nie nodig om te wag vir die opname om met ons te praat nie. ProAgri word vanuit ‘n kantoor in Pretoria bedryf, maar ons harte en ons voetspore lê op die platteland by die mense vir wie ons skryf.

In hierdie stadium is ons hartseer saam met almal wat in planttyd in ‘n woestynlandskap moes vaskyk en ons is dankbaar saam met dié wat wel kon plant en kan voortboer. Ons is ook trots op ons boere wat groot vragte voer skenk en aanry om ander droogtegeteisterde boere te help. Dit wys maar weer dat ons boere mense van die beste kaliber is.

Ons klem val in hierdie tydskrif op besproeiing en waterwysmaniere om te boer. Ons weet uiteindelik is reën die enigste oplossing, maar met behoorlike beplanning en besproeiingskedulering kan ons minstens die water wat tot ons beskikking is, wys bestuur.

Kom ons vat 2016 vas met ‘n woordjie van wysheid deur CJ Langenhoven:

“Ploeg self op die klipland en gee vir jou kneg die sagte grond. Dan sal jy jou kneg behou en jou ploeg ook.”

Laai ProAgri 191 hier af.

 

Boer slim!

Annemarie Bremner

> annemarie@proagri.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0