ProAgri SA 315

Proagri_315_May_2026
Nog ’n NAMPO is verby en die stof het gaan lê, maar die opgewondenheid en gesprekke wat vanjaar se skou gebring het, leef nog voort. NAMPO bly jaar na jaar die plek waar die landbougemeenskap sowel as boere en kundiges in die bedryf bymekaar kom om idees uit te ruil, nuwe tegnologie te verken en skouers te skuur met almal wat ’n passie vir landbou deel.
Dit is steeds een van die hoogtepunte op die landboukalender en ’n geleentheid waarna baie mense elke jaar uitsien. Wat hierdie jaar besonders gemaak het, was – afgesien van die uitdagings wat ons tans in die bedryf ervaar, boere se positiewe gesindheid. Daar was ’n gevoel van deursettingsvermoë en hoop, ondanks moeilike omstandighede waarmee baie produsente daagliks te doen kry.
Natuurlik is dit ook altyd besonders om die indrukwekkende reeks nuwe produkte en oplossings wat deur landboumaatskappye uitgestal word, van nader te beleef. Van gevorderde presisieboerderytegnologie en slim oplossings tot nuwe trekkers, stropers en implemente wat die mark betree, staan innovasie in landbou beslis nie stil nie. Dit bly merkwaardig om te sien hoe tegnologie steeds ontwikkel om boere te help om meer doeltreffend en volhoubaar te produseer.
In hierdie uitgawe vier ons saam met Valtrac ’n besondere mylpaal. Vir 30 jaar lewer hulle reeds uitnemendheid aan die Suid-Afrikaanse boerderybedryf met die bekende Valtra-trekkerhandelsmerk. Drie dekades van betroubaarheid, diens en innovasie het Valtrac gevestig as ’n vertroude naam op plase regoor die land. Hierdie mylpaal getuig van volgehoue toewyding aan boere en die belangrike rol wat sterk vennootskappe in landbou speel. Blaai na bladsy 2 om meer oor hierdie indrukwekkende verhaal te lees.
Die landboukalender staan intussen nie stil nie. Op 5 Junie trek die jaarlikse Stroperresies weer deelnemers en toeskouers van heinde en verre, terwyl die gewilde Val Boeredag op 1 Julie plaasvind. Hierdie geleenthede bied nie et waardevolle blootstelling aan nuwe produkte en praktyke nie, maar gee ook aan boere en rolspelers die geleentheid
om kennis te deel en verhoudings binne die bedryf verder te versterk.
Dit is ook bemoedigend om te sien hoe die veilingkalender weer momentum opbou. Regoor die land begin boere, telers en kopers weer by veilings bymekaar kom. Terwyl ons die wintermaande betree, wens ons elke boer voorspoed toe met die seisoen wat voorlê. Sterkte ook aan die boere vir wie die stroopseisoen nou aanbreek.
Geniet hierdie uitgawe!
ProAgri-groete!
Bianca Pretorius – bianca@proagri.co.za