Categories: Tydskrif, Tydskrif (RSA)Published On: 30th April 2026

ProAgri SA 314

By 2 min read
415 words

Proagri_314_April_2026

Daar is sekere maande wat ՚n mens dwing om net ՚n oomblik stil te staan en weer perspektief te kry. April was so ՚n maand vir my.

Een wat my opnuut laat besef het dat boerdery nie net oor jou grond, jou gewasse en jou vee gaan nie, maar oor die mense om ons ook … ons raak soms so vasgevang in ons besige skedules en alles wat ons najaag, dat ons soms net moet stop en asemhaal!

Die realiteit is dat die druk van boerdery soms swaar op ՚n mens se gemoed kan rus, en daarom is dit noodsaaklik dat ons as boere ook ons geesteswelstand ‘n prioriteit maak, want boerdery vra nie net fisieke krag nie, maar ook geestelike uithouvermoë. In ՚n bedryf waar veerkragtigheid en vasberadenheid amper vanselfsprekend geword het, is dit maklik om te vergeet dat selfs die sterkste boere soms swaar dra. Stygende insetkoste, onseker markte en die konstante druk om aan te hou produseer, plaas ՚n las op boere se skouers wat min mense van buite werklik verstaan.
Prakties gesproke bly die uitdagings vir ons boere baie groot.

Brandstofpryse knel en beïnvloed bykans elke aspek van die boerderybedryf, van plant tot stroop en verkope. In sekere gebiede wag boere steeds op die beskikbaarheid van BKS-entstof, wat verdere onsekerheid skep in ՚n reeds komplekse seisoen.

Terselfdertyd staan baie boere op die drumpel van strooptyd, of is reeds besig, maar soos ons so goed weet speel die weer nie altyd saam nie. Oormatige reën in dele van die land vertraag prosesse, verhoog risiko’s en plaas nóg druk op tydsberekening en gehalte.

Met die winter wat sy opwagting maak en voorspellings van ՚n El Niñoverskynsel wat moontlik droër toestande kan bring, word vooruitbeplanning en aanpasbaarheid al hoe belangriker. Ten spyte van die uitdagings, is daar ook weer ՚n hoogtepunt op die landboukalender wat voorlê – NAMPO 2026 vind vanjaar plaas van 12 tot 15 Mei te NAMPO Park buite Bothaville. Ons sien daarna uit om weer skouers te skuur, stories saam te stel en te sien wat is nuut in die landboubedryf.

In hierdie uitgawe van ProAgri bring ons weer ՚n verskeidenheid lekkerleesartikels wat die hart van ons landboubedryf weerspieël. Mag ons hierdie maand onthou om nie net na ons plase om te sien nie, maar ook na onsself en na mekaar. Want uiteindelik is dit mense wat die landboubedryf dra en laat voortleef.

Sien julle by NAMPO!

ProAgri-groete!

Bianca Pretorius – bianca@proagri.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0