ProAgri SA 269

proagri_269_july_2022_Voorblad
R34 000. Dit is sy insetkoste per hektaar mielies, vertel ՚n besproeiingsboer ‘n die Noord- Kaap my. So wat beteken dit, wil ek weet.
Dit beteken as alles reg loop; as Eskom hom nie te veel rondgooi met beurtkrag in die groeistadiums sodat hy sy besproeiingsbeurte uit die kanaal misloop nie, as die mieliepryse bokant huidige vlakke bly, as die dieselprys nie nog opgaan nou in strooptyd nie, as hy sy mikpunt van 15 t/ha haal, dan maak hy darem sy paar persent wins.
Daar is eintlik nog ՚n paar “asse” in die spel. As die boer nie sy huiswerk gedoen het en die regte kultivar geplant het en presisieboerdery toegepas het sodat hy nie kunsmis of saad vermors nie, dan het hy ook nie wins gemaak nie.
As hy nie sy bewerkingsmetodes en meganisasietoerusting aangepas het om minder rywerk in die lande te doen nie en as hy nie sy bemesting-, bespuiting- en besproeiingstye behoorlik beplan en gebruik het nie, dan het hy ook nie wins gemaak nie. Dieselfde geld vir onderhoud van toerusting — van die pompstasies, spilpunte, trekkers, werktuie tot die silo’s, moet nagegaan en versorg word. Anders was sy koste nog hoër.
Boere vergeet watter groot rol hulle eie kundigheid en bestuur speel om die syfers te laat klop.
Daar is nog ՚n faktor wat boerdery in die dorre streek laat werk en dit is die voorsienigheid van vorige geslagte wat die uitgebreide kanaalstelsel van die Vanderkloofdam af uitgewerk en opgerig het. Die Ramah-kanaal wat die boer se lewensaar is, is al in 1973 geopen. Vyftig jaar gelede. ՚n Mens kan nie help om te wonder wat die nalatenskap van die huidige regering oor vyftig jaar gaan wees nie …
Geniet hierdie uitgawe en ek vertrou dat daar êrens tussen die bladsye ՚n oplossing net vir jou is, om jou te help dat “alles reg loop”!
ProAgri groete!
Bianca Henning
bianca@proagri.co.za