Categories: Magazine, Magazine (RSA)Published On: 16th March 2017

ProAgri 205 – Maart 2017

By 2 min read
337 words
ProAgri

proagri_205_MAART_2017.indd

Dit breek ’n mens se hart om te sien hoe droog dit nog in sekere dele van die land is. Ek het ’n week of wat gelede die geleentheid gehad om redelik wyd deur die land te ry en die Vrystaat het oopbek gelag met al sy blink poele. In die Karoo moes ons op plase deur driwwe dryf en koes vir kalwers wat bokspring van plesier, net om by Humansdorp te staan en kyk hoe verdor die paar grassies onder ’n spilpunt wat nie aangeskakel kan word nie omdat die dam te leeg is.

Wat ’n land van teenstellings, uitdagings en vreugde! Tussen die plaasaanvalle en voortdurend dreigende politieke uitsprake oor grondgrypplanne, moet ’n mens ook maar die klein brokkies goeie nuus geniet, soos die hofuitspraak wat dit moontlik maak dat boere of organisasies wat self paaie herstel omdat die paaiedepartemente dit nie doen nie, nou die koste van die staat kan eis.

Ek hoop die eerste een wat met so ’n eis slaag, skakel my dat ons ’n lekker artikel daaroor kan skryf. In hierdie uitgawe val die kollig op gewasproduksie en ons het heelwat nuus oor nuwe kultivars en tegnologie wat jou kan help om slim te boer.

ProAgri is ook vanjaar betrokke by die Lichtenburgskou wat sy 100ste verjaarsdag vier. Wat ’n prestasie vir ’n dorp se landbouskou om deur al die oppe en affe deur te druk en voort te gaan en die geleentheid te skep vir nuwe handelsbande en sommer net ’n lekker kuier, al is dit in die altyd-langpannekoekry!

Die skouprogram is in die middel van die tydskrif en jy kan ook ’n voorsmakie kry van die uitstallers wat daar te sien sal wees. Lees ook gerus op bladsy 22 wat my ervaring van die nuwe 2.4 GD-6 Hilux op die lang pad was. Dankie aan Pat Hinde Toyota Springs wat dit moontlik maak dat ProAgri onbevrees die paaie, met of sonder gate, kan aandurf!

Boer slim!

Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za

Laai ProAgri 205 hier af: proagri_205_MAART_2017_web

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0