Categories: Magazine, Magazine (RSA)Published On: 11th July 2016

ProAgri 197 – Julie 2016

By 2 min read
488 words

proagri_197_julie_2016.indd

Dink net hoe lekker kan dit vir ’n boer in die paradys wees as hy nog steeds kan doen waarvoor hy lief is, soos om tussen sy spekvet en gesonde diere deur te loop of om ’n werktuig in heerlike, sagte, vogtige, vrugbare grond te laat sak sonder om oormatig bekommerd te wees oor die inkomste wat hy moet behaal, want meer as die helfte van sy inkomste word in die vorm van ’n salaris aan hom betaal.

Om betaal te word om te boer… sjoe, dit is nie iets wat onse mense ken nie! Dit lyk of Britse boere hulleself in so ’n paradys bevind het; dis nou VOOR Brexit. Volgens die Britse koerant, die Telegraph, het boere in die Verenigde Koninkryk elke jaar tussen £2,4-bn en £3-bn se subsidies van die Europese Unie ontvang. Die subsidies word betaal deur ’n program bekend as die Common Agricultural Policy (CAP). Geld word glo vir die ontwikkeling van die platteland en regstreeks vir boerdery betaal en 55% van die landbou-inkomste van Brittanje kom uit hierdie regstreekse betalings. Dit lyk dus vir my asof ’n boer net vir 45% van sy inkomste hoef te sorg uit verkope van produkte. Die doel van CAP is om die Europese Unie se voedselsekerheid te waarborg deur landbouproduksie aan te moedig en 12-miljoen boere in Europa ontvang geldelike ondersteuning deur CAP. Ek is seker daar is ’n paar voorwaardes en vereistes ook betrokke, maar die beginsel bly dat mense in Europa bereid is om aan ’n gevestigde landbousektor, selfs in tye wanneer daar geen krisisse is nie, subsidies te betaal sodat hulle nooit  afhanklik van ander wêreldstreke hoef te wees vir kos nie. En wat gebeur in Suid-Afrika? Van die 250 veeboere wat in ’n verteenwoordigende studie deur die Universiteit van die Vrystaat genader is oor die invloed van die ergste droogte in menseheugenis op hulle boerdery het nog nie een enige regeringshulp ontvang nie. Daar is GEEN erns met voedselsekerheid by die ANC-regeerders nie. Die hartseer feit is dat die honger menigtes nie die Nkandlas van Suid- Afrika gaan plunder nie, maar die Rietfonteins en Avondrusse en Skuinshoogtes… want dit is waar die kos nog al die jare geproduseer is. Sonder CAP.

Uit ’n opname wat ProAgri gedoen het, blyk dit duidelik dat ons lesers graag meer pitkos oor veeboerdery in die tydskrif wil hê en daarom begin ons om van hierdie maand af meer vleis in ons Vee- en Wild-afdeling te sit. Ons hoop jy geniet die artikels wat kundiges in die bedryf vir ons gelewer het. ProAgri was ook vandeesmaand by die jaarlikse Solidariteit KragDag en ons gee so ’n voorsmakie van die interessante inligting wat ons daar bymekaar gemaak het. Volgende maand vertel ons meer. Stuur asseblief jou kommentaar en voorstelle oor ProAgri na my per e-pos of bel sommer. Ek praat graag met ons lesers.

Boer slim!

Annemarie Bremner >annemarie@proagri.co.za

Laai ProAgri 197 hier af: proagri_197_julie_2016_web

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0