ProAgri 194 – April 2016

proagri_194_april_2016.indd
’n Boer is ’n ander ding. Vryf hom verkeerd op en hy kan maar lekker moeilik wees. Ons hoor dit nogal gereeld van die verteenwoordigers van maatskappye vir wie ons artikels skryf. Wanneer ons dan met die boere gesels by wie ons die artikels doen, word daar baie gepraat oor die waarde van dienslewering en veral naverkopediens.
Soos in elke groep mense, is daar sekerlik die moeilikes, onredelikes en soms skuinsweg beduiweldes onder boere ook, maar in verreweg die meeste van die gevalle vind ons dat boere maar net goeie diens wil hê. Die produk is baie belangrik, maar net so belangrik is die maatskappy se eerlikheid oor die produk se vermoëns en beperkings, deurlopende inligting oor aflewering of probleme met afleweringsdatums en naverkopediens ten opsigte van die regte instelling of oprigting volgens spesifikasies.
Dit help niks jy maak die beste produk in die land, maar dan word die Pretoria-aflewering Natal toe gestuur sonder om die boer in kennis te stel en die verkoopsman se foon word nie beantwoord nie – terwyl alles op die plaas stilstaan en wag vir die aflewering wat “vanoggend vroeg” al uitgestuur is.
Dit is so dat die meeste van ons swaar trek in hierdie moeilike landboujaar, maar nou, wanneer besigheid skaarser as gewoonlik is, is dit juis die tyd wat goeie dienslewering die deurslag kan gee. ’n Boer wat in hierdie tyd deur ’n verskaffer ondersteun word, gaan ook in die geil jare as die oes goud op die land staan, by die verskaffer bly.
Ek glo NAMPO gaan weer vanjaar aan verskaffers en boere die geleentheid bied om kontak te maak en te gesels, want een ding bly ’n feit: die volk moet eet, die boere moet kos voorsien en daarvoor het hulle net die beste toerusting nodig!
Onthou om die lekker groot NAMPO kaart in die middel van die ProAgri te gebruik om jou skouroete te beplan en maak seker jy stop in die Hinterlandsaal om vir die vriendelike ProAgri-span hallo te sê.
Lekker lees en boer slim!
Annemarie Bremner >annemarie@proagri.co.za
Laai ProAgri 194 hier af proagri_194_april_2016_WEB