ProAgri 193 – Maart 2016

proagri_193_maart_2016.indd
In die nuuswêreld raak gebeure sommer gou ou nuus. Die lewe gaan voort. Vandag se sensasie skuif môre na bladsy 7 en oor ‘n week is dit vergete. Joernaliste soek iets nuuts om oor te skryf en daar is altyd êrens nog ‘n menslike drama.
Ek wens ek kon die droogte laat afskuif op die prioriteitslysie. Daar in die hoekie onder die mat invee en daarvan vergeet, maar ons kan nie. Die hartseer, die gestoei om oorlewing, die hoop as ‘n wolkie oor die horison loer, die woestynsand van jare se landerye wat by die agterdeur inwaai, die vertroue in jou diere se oë as jy nader ry met die bakkie, die sakke saad in die skuur, die moeilike besluite en gesprekke om die kombuistafel – elke droë plaas se pyn is die werklikheid waarmee nie net die boer en sy gesin te doen het nie…
Dit alles kom bymekaar in ‘n stofstorm van gevolge wat ekonome na die pen laat gryp en verbruikers se beursies gaan ruk. Ons kan maar net die kop skud oor die regering se stiksienige onwilligheid om te help om hierdie nasionale krisis af te weer. Gelukkig neem ons nog daagliks kennis van al die organisasies wat onverpoosd voortgaan met hulplewering, maatskappye wat al miljoene rande geskenk het en selfs sangers wat bydra soos met die Manna vir die Boerekonsert waaroor ons in hierdie uitgawe berig. Dit maak ‘n verskil!
Van die groot saadmaatskappye vertel in die uitgawe meer oor hulle tegnologie vir die volgende seisoen en dan was ProAgri gaste by ‘n uitsonderlike geleentheid in die Vrystaat, naamlik die oorhandiging van 13 nuwe stropers. Wat ‘n demonstrasie van hoop!
Geniet die Maart-uitgawe, van volgende maand af skud ons ons vere reg vir NAMPO.
Boer slim!
Annemarie Bremner >
annemarie@proagri.co.za
Laai ProAgri 193 hier af: proagri_193_maart_2016_web