ProAgri 189 November 2015

proagri_189_november_2015.indd
Provinsies word tot rampgebiede verklaar. Statistiek oor wanneer dit laas so droog was vlieg rond. Die mielieprys draai by R3 000 per ton in hierdie stadium.
Die planters staan geghries en gereed buite die skuur en warm bak. Politici maak boere warm onder die boordjie met hulle ongevoelige uitsprake en weiering om behoorlike ramphulp te verleen sodat kernkuddes minstens behoue kan bly. El Nino baljaar in die oseaan en groot dele van die land het minder as 25% van hulle normale reënval in Oktober gehad.
Dít is die werklikheid wat elkeen in die land se probleem behoort te wees, maar dit is nie die prentjie wat mens in die kosafdeling van ‘n groot supermark op Saterdagoggend sien nie. Daar word steen en been gekla oor die prys van vleis. Slaaikoppies, appels en aartappels word bestudeer en dié met merkies op word minagtend eenkant toe gegooi, want ons is gewoond aan net die beste, vars op die elke dag.
Die werklikheid van kosproduksie in Suid-Afrika gaan eers gevoel word wanneer daar nie meer vars produkte op die rak is nie, wanneer die prys van die ingevoerde mieliemeel die maand se kosbegroting opvreet en wanneer daar nie meer water uit die krane kom nie. En dan gaan dit te laat wees om te bid vir reën en vir die regerende party om liewer sy vloot luukse vliegtuie en voertuie te laat staan en landbou te help.
Ondertussen gaan ek voort om die tuinslang toe te draai wanneer ek van vrugteboom tot vrugteboom op die kleinhoewe loop, want soos my man sê, daardie nege meter se gemorsde waterstreep op die grond kon ‘n tamatieplant, koolkop of mielie se lewe gered het.
Sterkte aan elke boer wat in hierdie tyd moeilike besluite moet neem. Ons kan maar net glo en vertrou dat daar verligting sal kom.
Met hierdie uitgawe vier ProAgri sy mondigwording. As daar een feit is wat duidelik na vore kom as ‘n mens deur al die jare se tydskrifte blaai, dan is dit dat ons boere die meesters is van vernuftige planne om slegte tye te oorleef en vas te byt. En by ProAgri werk ons hard daaraan om dié tydskrif te bly wat deel is van daardie oplossings.
Boer slim!
Annemarie Bremner >annemarie@proagri.co.za
Laai ProAgri 189 hier af