Categories: Magazine (RSA)Published On: 16th October 2015

ProAgri 188 Oktober 2015

By 2 min read
319 words

Voorblad

AgriTechnica, die grootste landboutegnologieskou in Europa (of dalk in die wêreld) lê voor die deur en ProAgri gaan vanjaar die kamera daar in Duitsland laat blits om vir jou vars nuus oor al die nuwe tegnologie te bring. Nie alles wat ‘n mens in Europa sien is natuurlik geskik vir Suid-Afrika nie, maar Suid-Afrikaanse boere kan verseker saampraat oor arbeidsbesparende meganisasie.

Met toerusting wat wyer en vinniger werk en gevorderde elektroniese tegnologie benut, is die profiel van die plaaswerksmag ook geleidelik besig om hier te verander, veral op saaiplase. Boere vertel ons gereeld hoeveel moeite hulle doen om mense, wat dikwels nie eers kon bestuur of behoorlik lees nie, op te lei om raakskermbeheer en satelliettegnologie baas te raak.

Dit gaan nog ‘n lang pad wees voor die beeld van landbou as blote pikslaanwerk onder jongmense verander, maar ProAgri kom op al hoe meer plase waar net ‘n handvol goed opgeleide werkers, saam met die boer en sy seun, al die werk doen. En daarvoor is tegnologie onontbeerlik.

Die lente bly ‘n tyd van verandering en nuwe lewe by ProAgri. Verlede maand het ons meer vertel van ons eerste Zambië-uitgawe. Dit is vir my hierdie maand ‘n groot plesier om aan te kondig dat ProAgri nou heeltemal onafhanklik sy weg baan, onder die eienaarskap van dr Ivor Blumenthal. Dr Blumenthal is ‘n ervare sakeman en deel ProAgri se jarelange filosofie dat goeie inligting gratis by die mense wat dit nodig het, moet uitkom. Met sy kennis en ondersteuning sien ons almal by ProAgri uit na nuwe geleenthede vir groei.

Sommer so met die intrapslag nooi ons u uit om ons nuwe selfoonvriendelike webwerf te besoek en om deel te neem aan gesprekke en plasings op die sosiale media. Om ons elektroniese nuusbrief te ontvang, stuur net ‘n e-pos na dupreez@proagri.co.za.

Boer slim!

Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za.

Laai ProAgri 188 hier af

 

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0