ProAgri 180 Februarie 2015

proagri_180_februarie_web
Politieke oneerlikheid. Dit is wat TLU SA die regerings- proses rondom grondplafonne noem. Georganiseerde landbou is uitgenooi om kommentaar te lewer oor die planne om boere te beperk tot 13 000 hektaar en net twee plase per persoon, maar in dieselfde asem word daar van die minister van Grondsake se kantoor af gesê die besluit is reeds geneem. Dit moet nog net wet word.
Dwaasheid, arrogansie en valsheid is nog woorde wat ons kan gebruik om die optrede te beskryf. Daar word gesê dit gaan oor grondhervorming, maar ons almal weet dit is nie die waarheid nie. Meer as 13 000 plase is tans in die ope mark beskikbaar. As die regering eerlik was oor grondhervorming sou hulle die plase gekoop het en gebruik het in hulle prosesse om grond vir die “people” te gee.
Miskien is desperate spronge die beste beskrywing. Wanneer ’n regering so ver gaan om ’n gewaande vyand te identifiseer (in hierdie geval ’n noodsaaklike kerngroep in die samelewing, naamlik die mense wat kos pro- duseer en werk verskaf) en die teiken van populistiese uitsprake en beleidsbesluite maak, kan dit net een ding beteken: die mense in die magsposisies begin voel dat die groen stoele onder hulle uitgetrek word.
Hoe om die situasie te hanteer? Geen sinvolle redenasies, mooi woorde of selfs reguit praat gaan enige indruk gaan maak, as dit nie vanuit ’n posisie van mag geskied nie. Dit is nou die tyd dat boere verenig agter die landbou-organisasies wat hulle saak in die raadsale inneem. Onthou net, geen regering kan dit bekostig dat sy “people” nie kos het nie.
Saam met die politieke werklikhede is daar ook nog tans ’n ander dieptreffende werklikheid op die grond en dit is ’n droogte wat so ernstig is dat boere al begin het om dit wat oorbly van hulle mielies af te sny vir veevoer. Ons harte gaan uit na almal wat die seisoen so hoopvol begin het en nou voor moeilike keuses staan. Boerdery bly ’n geloofsaak en al wat elkeen kan doen is om sy risiko te versprei en om so na as moontlik in harmonie met die natuur te boer vir groter volhoubaarheid.
Boer slim!
Annemarie Bremner-Joubert > annemarie@proagri.co.za
Laai ProAgri 180 hier af.