PlusNet bied deurlopende nuutskeppings vir boere

plusnet
Vrugteboorde en wingerde lyk netjies en produseer meer met PlusNet se skadunetbedekking.
Die plastiektekstielbedryf en landbou word nie maklik in dieselfde sin gebruik nie, maar hierdie twee sektore loop inderwaarheid hand aan hand. Boere sal nie ver kom sonder groentesakkies, skadunette, tonnelbedekking, nylontoue en baaltou- en nette nie.
PlusNet/Geotex is ’n sterk ankerpunt tussen hierdie twee bedrywe en vier vanjaar saam met ProAgri hulle 25ste verjaarsdag. Dit was 25 baie vrugbare en gebeurtenisryke jare. Sedert die stigting was Piet Buitendag, hoofbestuurder, aan die stuur van sake. As gereedskapmaker met latere ondervin-ding in die plastiektekstielbedryf was en is hy uitgeknip vir hierdie taak.
“Gedurende die eerste vyf jaar het ons as Geotex monofilament vervaardig vir skadunet en tou,” sê Piet.
“Monafilament is enkeldraadfilamente en is die grondstof wat gebruik word vir die weef van skadunet of die vleg van skitou.”
Kort daarna het Piet die noodwendige volgende bul by die horings gepak en PlusNet is in 2000 gebore. Hierdie filiaal het hulle grondstowwe ingespan om eindverbruikersprodukte te vervaardig. “Dit was ’n natuurlike volgende stap vir ons maatskappy om die markgeleenthede te benut,” sê Piet.

Die PlusNet/Geotex-reeks word vandag in drie kategoriëe bemark:
Skadunet
Die PlusNet Deco+ en Agri+ skadunet-reekse word spesifiek vir die Afrika-son vervaardig. Hulle unieke voorsprong is dat hulle die produkte plaaslik van die begin af ontwikkel en vervaardig terwyl ander maatskappye nette van onbekende klimaatsomstandighede invoer. Die Deco+ reeks is spesifiek vir afdakke, braai- en parkeerruimtes,
bomas en so meer ontwerp. Hulle verwys hierna as die kommersiële reeks en dit is in 80% en 90% bedekking beskikbaar. Die Agri+ reeks is vir landboutoepassings ontwikkel om skadudekking van tussen 20% en 40% te bied.
Skitou
PlusNet se Bopha-skitou is alombekend onder boere en word vir enige vaswoelwerk gebruik. Hierdie reeks is beskikbaar in ’n verskeidenheid kleure en diktes.
Piet maak deurlopend planne om landbou nog beter met sy vakgebied te bevorder, maar hy kyk ook wyer. Vir boere wat self bou, het hy ook Geotex 500 en Geotex 600 ontwikkel. Dit is ’n nuwe, tegnologies gevorderde vesel wat in plaas van versterkingsmaas in beton gebruik word.
PlusNet handel groot take net so maklik en graag soos kleintjies af. “Die grootste skadunet-projek wat ons aangepak het, was by Ambrosia in Hoedspruit, waar ons 1,2-miljoen vierkante meter se landbouskadunet vir hulle nethuise vervaardig het,” sê Piet.
Soos dit Suid-Afrikaners betaam wil ons graag boer, al is dit net om in die agterplaas ’n paar saadjies in die grond te druk. PlusNet het oor die jare al hoe meer navrae ontvang oor doen-dit-self mini-tonnels. In 2015 het PlusNet gehoor gegee en goedkoop mini-tonnels begin vervaardig.

PlusNet het steeds gesond gegroei en in 2017 het hulle deel van die Master Plastics-groep geword.
In 1995 het Geotex met agt personeellede in ’n fabriek van 10 m x 30 m (300 m2) in Randfontein begin. Vandag is PlusNet steeds in Randfontein, maar die fabriek beslaan nou meer as 8 000 m2 en het 300 personeellede.
Die einde van PlusNet se nuutskeppinge is nog lank nie in sig nie en Piet glo dat onderdaklandbou onverpoosd sal groei. “Ons verwag dat meer sulke boerderye in die toekoms gaan opskiet en ons is gereed daarvoor. Ons span bestaan uit werknemers met jare ondervinding en nuwelinge word vinnig aangevuur in ons strewe na aanhoudende verbeteringe en nuutskeppings. Binnekort gaan ons ’n splinternuwe uitbreiding vir ons Deco+ reeks bekendstel,” sê hy.
Kontak André van Zyl by 011-412-3954 of stuur ’n e-pos na nets@plusnet.co.za, of besoek hulle webwerf by www.plusnetgeotex.co.za om meer oor hierdie vindingryke maatskappy se produkte uit te vind.
Kyk ook na Plusnet se nette op Agri4all.com